Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steeds flou aptyt vir staat se lenings by banke

Teen die einde van die eerste week in Mei is R18,3 miljard deur Suid-Afrikaanse banke uitgeleen van die aansporing van R100 miljard wat die staat deur banke aan kleinondernemings gebied is.

LEES OOK: Goeie nuus vir kleinsake oor Covid-lenings

Die leningswaarborgskema, wat in April 2020 deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig is as deel van die R500 miljard-stimuluspakket om die ekonomie aan die gang te kry, is bedoel om klein ondernemings te ondersteun wat finansiële druk as gevolg van die koronavirus-pandemie ervaar.

Kwalifiserende ondernemings bly huiwerig om meer skuld aan te gaan in die swak en onsekere saketoestande. Foto: Pixabay

Die skema is in April met nog drie maande tot in Julie verleng.

Die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) sê in ’n verklaring banke verwag nie dat die vraag na die lenings in die komende maande nog verder sal toeneem nie.

Die leningskema is hoofsaaklik verleng om diegene wat gekwalifiseer het vir ’n lening, se toegang tot hul finansiering te behou en aansoeke af te handel wat reeds begin verwerk is.

Maar sedert die begin van die jaar is min belangstelling in die lenings ontvang.

“Kwalifiserende ondernemings bly huiwerig om meer skuld aan te gaan in die swak en onsekere saketoestande, of het self reëlings direk met hul banke getref,” sê Basa.

Die leningswaarborgskema is net ’n klein deel van die verligting wat banke aan hul kliënte bied wat in finansiële nood verkeer.

Só staan lenings

Die skema het tot 8 Mei 50 344 aansoeke vir lenings ontvang, waarvan 26% goedgekeur is deur die banke en deur die applikante opgeneem is.

Omtrent 56% van die aansoeke wat ontvang is, is verwerp omdat daar nie aan die kriteria voldoen is om in aanmerking te kom vir die lenings nie.

Die hoofrede vir die aansoeke wat afgewys is, is dat die lening wat gevra is te groot is vir die onderneming om redelikerwys terugbetaal te word, of omdat die onderneming nie voor die pandemie in ’n goeie finansiële toestand was nie.

Sowat 82% van die lenings wat goedgekeur is, was vir ondernemings met ’n omset van kleiner as R20 miljoen. Dit het sowat R6,7 miljard beloop.

Die gemiddelde lening ingevolge die skema beloop R1,3 miljoen.

Syfers wat aan die Reserwebank verskaf is, dui daarop dat die banke teen Februarie vanjaar reeds R293 miljard se finansiële verligting aan hul kliënte verleen het.

Dit het R165 miljard aan ondernemings en R128 miljard aan individue beloop.

Basa sê baie van die finansiële probleme waarmee kleinondernemings te kampe het, het al voor die pandemie begin en is veroorsaak deur die swak ekonomie en onsekere saketoestande.

“Gegewe die gebrek aan vraag na die lenings, sal Basa die geleentheid verwelkom om verder met die nasionale tesourie saam te werk om staatstoelae en ekwiteitsfinansiering te benut ter ondersteuning van klein ondernemings.”

Meer oor:  Lenings  |  Krediet  |  Banke  |  Basa  |  Bankbedryf  |  Stimulus  |  Hulppakket  |  Covid-19  |  Tesourie  |  Kleinsake  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.