Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Massmart: G’n dividend ná Game en kie se verlies

Aandeelhouers in die Massmart-groep, wat Game en Makro besit, ishul dividend kwyt weens die groot verlies wat die groep in die afgelope boekjaar tot einde Desember gely het.

Die groep het reeds einde Januarie sy beleggers verwittig van die verlies wat gely gaan word omdat sy uitgawes baie skerper styg as verkope.

LEES OOK: Game, Makro sukkel oor Kerstyd, ly groot verlies

Game
Game se Foodco-afdeling gaan drasties verander.

Massmart se aandeelprys het Donderdag in ’n stadium net nadat die mark geopen het met 5% gedaal, maar ander aandele het ook sterk gedaal.

Die groep het ook in Augustus verlede jaar sy interim dividend opgeskort ná swak resultate.

Dit beteken aandeelhouers het ’n jaar gelede laas ’n dividend gesien. Die maatskappy het sedert 2000 altyd ’n dividend vir die interim en voljaar betaal.

Dit beteken Massmart se grootste aandeelhouer, Walmart, kry ook nie ’n dividend nie.

Mitch Slape, Massmart se nuwe uitvoerende hoof van Walmart, het einde Januarie aan beleggers ’n drastiese omkeerplan aangekondig, wat insluit hoe Game herstel gaan word.

LEES OOK: Só gaan Game verander: Klere kom, groente waai

Die groep se inkomste het met 2,9% in die jaar tot einde Desember tot R93,7 miljard gestyg.  

Die groep het ook sy syfers getoon uitgesluit die invloed van ’n nuwe rekenkundige standaard oor huurkontrakte, IFRS16, om ’n beter vergelyking moontlik te maak.

Die syfers toon sy handelswins het skerp met 79% tot R428 miljoen gedaal.

Dit is nadat uitgawes baie skerper as verkope gestyg het.

Volgens Slape het die groei in uitgawes begin verlangsaam in die tweede helfte nadat kostebesparings in werking gestel is.

LEES OOK: 1400 dalk werkloos as DionWired, ander sluit

In die jaarresultate is daar weer verwys na die konsultasie wat begin is oor 34 DionWired-winkels en ander winkels in sy Masscash-afdeling wat moontlik gesluit gaan word en 1 440 mense wat derhalwe hul werk kan verloor.

Ook die besluit is reeds in Januarie aangekondig.

Ingesluit die impak van IFRS16 het Massmart uiteindelik ’n verlies vir die halfjaar van R1,3 miljard gely vergeleke met sy wins die vorige jaar. Uitgesluit die impak is die verlies R861 miljoen. 

So vaar die verskillende winkels

Massmart is in vier afdelings georganiseer.

Die afdeling waarin 150 Game-winkels ingesluit is en 23 DionWired-winkels, se verkope het feitlik nie gegroei nie en het met net 0,3% tot R19,8 miljard gestyg. Uitgesluit nuwe winkels wat in die boekjaar geopen is, het verkope met 2% gekrimp.

DionWired se verkope het daarteenoor met bykans 20% gedaal.

Die afdeling het ’n handelsverlies van R674,6 miljoen gely vergeleke met ’n wins van R32,6 miljoen die vorige boekjaar.

Winsmarges is egter geraak deur die laer besteding van verbruikers aan algemene handelsware en groter promosies wat aangebied is, terwyl sy uitgawes met 6,9% gestyg het.

Verbruikers het ook minder geld aan duursame goedere bestee.

“Die verkope weerspieël die besteding van platsak verbruikers wat kos en drank geprioritiseer het, eerder as duursame goedere.”

Die Masswarehouse-afdeling, wat 22 Makro-winkels insluit, het sy verkope met 2% verhoog tot R29,4 miljard. Uitgesluit nuwe winkels het verkope nie gestyg nie.

Dieselfde verbruikersbestedingspatroon is by Makro gesien as by Game.

Sy uitgawes het ook vinniger as verkope gestyg. Dit het sy handelswins met 15% tot R934,9 miljoen verlaag.

Die Massbuild-afdeling wat 110 Builders Warehouse-, Builders Express- en Builders Trade Depot-winkels insluit het sy verkope met 3,4% tot R14,2 miljard gelig.

In vergelykbare winkels het verkope met 1,4% gestyg.

Sy handelswins het met 10,6% tot R669,8 miljoen gedaal.

Masscash wat 130 Shield-, Jumbo-, Rhino Cash & Carry- en Cambridge Food-winkels insluit, het sy verkope met 5,6% tot R30,3 miljard verhoog.

Die bruto winsmarge van dié afdeling het ook gedaal terwyl koste vinniger as verkope gestyg het. Die afdeling het ook ’n handelsverlies gely van R501,8 miljoen vergeleke met ’n wins van R188,6 miljoen die vorige jaar.

Meer oor:  Massmart  |  Makro  |  Game  |  Maatskappye  |  Resultate
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.