Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steeds g’n teken van Dudu in hof

Daar was Dinsdag steeds geen teken van Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), in die hooggeregshof in Pretoria nie.

Dudu Myeni voorheen saam met oudpres. Jacob Zuma.Foto: Argief

Dit is ondanks die feit dat die hofsaak waarin die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en die SAL-vlieëniersvereniging (Saapa) vra dat Myeni tot misdadige direkteur verklaar word, al bykans twee weke lank duur.

Regter Ronel Tolmay, wat die saak aanhoor, was Dinsdag duidelik warm onder die kraag, nie net omdat Myeni weer nie persoonlik teenwoordig was nie, maar ook omdat haar regspan nog glad nie ’n lys by die hof ingedien het oor wie hulle as getuies gaan roep nie.

“Ons moet weet wie gaan kom getuig. In hierdie stadium is ek in die duister oor wie gaan kom en wat hulle gaan sê.”

Tolmay het adv. Nqabayethu Buthelezi SC, wat Myeni verteenwoordig, tot die einde van die dag Dinsdag gegee om ’n lys name van getuies wat hy gaan roep, in te handig.

Buthelezi se verweer was dat Myeni se prokureur nog nie die lys name vir hom gegee het nie.

“Jy is haar regsverteenwoordiger. Jy behoort te weet wie dit is,” was Tolmay se reaksie.

Tolmay het ook vroeër vir Buthelezi aangespreek omdat Myeni nie in die hof was om vrae te beantwoord nie.

Buthelezi het Maandag beswaar gemaak teen ’n brief wat die staat as bewysstuk ingedien het waarin Myeni glo opdrag gee dat die SAL-direksie ’n raadgewer moet aanstel vir die Airbus-transaksie.

Die afskrif wat adv. Caroline Steynberg SC, vir Outa en Saapa, ingedien het, is nie deur Myeni onderteken nie.

Steynberg sê in die vooraf verhoor het Myeni se regspan nie gekla oor die insluiting van die brief as bewysstuk nie.

Buthelezi se verweer was dat daar honderde bladsye hofdokumente is en dat hy nie deur alles kon werk nie.

Tolmay het gesê dit is nie ’n verskoning om nou oor die insluiting van die brief te kla nie.

Buthelezi kon haar nie antwoord oor of hy bewyse het dat die brief nié deur Myeni gestuur is nie.

Thuli Mpshe, voormalige waarnemende uitvoerende hoof van die SAL, was Dinsdag steeds in die getuiebank. Buthelezi het haar onder kruisverhoor geneem waarna Steynberg ook verdere vrae gevra het.

Mpshe het veral getuig oor Myeni se betrokkenheid in 2013 by die kontrak met Airbus om 20 nuwe A320-200-vliegtuie aan die lugdiens te verskaf.

Meer oor:  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Dudu Myeni  |  Hofsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.