Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steers, Debonairs se inkomste val ondanks kitskos

Selfs noudat mense weer by restaurante kan kom aansit vir ete, verwag Famous Brands dat sy restaurante se inkomste maar die helfte gaan wees van wat dit ’n jaar gelede was.

Die meeste Wimpy-takke is weer oop. Omdat Wimpy nie alkohol bedien of saans oop is nie, is dié restaurante dalk beter daaraan toe as baie ander tydens die inperking.

Die groep, wat onder meer Steers, Debonairs Pizza, Wimpy en Mugg & Bean besit, beleef sedert Maart – toe die eerste koronavirusgeval in Suid-Afrika aangemeld is – ’n skerp daling in sy inkomste.

Maart se inkomste uit Suid-Afrikaanse bedrywighede was 74% van wat dit in Maart 2019 was, selfs al is die staat van inperking eers op 27 Maart in werking gestel.

In April is net 4% van die inkomste behaal wat in April 2019 behaal is. In dié maand was alle restaurante toe, maar Famous Brands kon steeds produkte soos souse aan die kleinhandel lewer.

In Mei en Junie, toe kitskos eers net vir aflewering toegelaat is en toe ook vir mense wat hul eie kitskos wou gaan koop, was verkope onderskeidelik 31% en 59% van wat dit in dieselfde maande van 2019 was.

Die groep voorspel dat verkope in Julie sowat 50% sal wees van wat dit in Julie 2019 was, selfs ondanks die feit dat restaurante sedert 29 Julie kos mag bedien.

Teen 19 Julie was 92% van Famous Brands se hoofstroomrestaurante oop. Dit sluit in Steers, Debonairs, Wimpy en Mugg & Bean.

78% van nisrestaurante, wat onder meer Tashas, Vovo Telo, Mythos, Paul, Turn ’n Tender en NetCafé, insluit, is oop. Dié restaurante, waarvan baie van hulle kleiner persele en duurder spyskaarte het, bly onder erge druk.

“Beperkings op kapasiteit vir aansitetes en die verbod op alkoholverkope in restaurante is sleutelfaktore wat volhoubare bedryfsomstandighede in die segment vir informele uiteet beperk,” sê Famous Brands in ’n verklaring wat uitgereik is tydens sy jaarvergadering Vrydag.

Famous Brands sê onderhandelinge met verhuurders duur voort ten einde verligting vir franchisehouers te bewerkstellig in die lig van die baie laer verkope.

Die groep verwag dat die restaurantbedryf “vir die afsienbare toekoms onder enorme druk sal bly en eers ten volle sal herstel wanneer die pandemie in bedwang is en verbruikersvertroue terugkeer”.

Famous Brands se verklaring kom net ’n dag nadat Spur Corporation syfers oor restaurantverkope vir sy boekjaar tot einde Junie bekend gemaak het. Verkope by restaurante in die groep is byna 22% laer as ’n jaar gelede.

Spur besit onder meer ook The Hussar Grill, RocoMamas en Panarottis.

Byna ’n maand sedert aansitetes toegelaat word, het nog net 331 uit al 547 restaurante in die Spur-groep vir aansitetes heropen. Dis sowat 61%. Nog 43 restaurante bedien slegs kitskos.

Dit beteken 374 uit 547 franchisehouers (sowat 68%) verdien darem weer ’n inkomste, hoewel restaurante landwyd nog baie leeg is en daar bes moontlik geen sprake van wins is nie. Spur sê ook die verbod op alkoholverkope en die aandklokreël – werknemers en klante moet teen 21:00 tuis wees – ontmoedig mense om te gaan uiteet.

Daarby is baie huishoudings onder finansiële druk weens werkverliese of ’n daling in hul inkomste.

Meer oor:  Debonairs  |  Steers  |  Spur  |  Wimpy  |  Famous Brands  |  Covid-19  |  Inperking  |  Kitskos  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Vlak 3  |  Restaurante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.