Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steers-souse vlieg van rakke tydens inperking

Suid-Afrikaners kon dalk nie tydens die strengste inperking Steers of Wimpy geniet nie, maar hulle het stewig weggelê aan dié restaurante se souse, marinades en hamburgerfrikkadelle, wat deurentyd in supermarkte te koop was.

Steers se frikkadelle en souse is in onder meer Pick n Pay, Checkers en Makro te koop.

Famous Brands, wat onder meer Wimpy, Steers, Mugg & Bean en Debonairs besit, het in die ses maande van Maart tot Augustus R72 miljoen se verkope in winkels soos Pick n Pay, Checkers, Spar en Makro behaal.

Dit sluit in die slaaisouse, braaisouse, marinades en frikkadelle van Steers, Wimpy se tamatie- en mosterdsous, en Mugg & Bean-koffies.

Die groep het vanjaar vir die eerste keer afsonderlik begin verslag doen oor kleinhandelverkope nadat hy die vervaardiging van dié produkte in Oktober ingekontrakteer het. Dit is dus moeilik om die R72 miljoen met dieselfde halfjaar van 2019 te vergelyk. Dis egter wel meer as die helfte van die kleinhandelverkope van R144 miljoen vir die volle boekjaar tot einde Februarie.

Verskeie kosprodusente het die afgelope maande in hul resultate gewys hoe die inperking verbruikers meer kos en bymiddels laat koop het, soos hulle noodgedwonge, maar baie mense ook met groot geesdrif, tuis begin kosmaak het.

Vir Famous Brands, wat in sy 2019-halfjaar R3,6 miljard se inkomste en R405 miljoen se bedryfswins behaal het, is R72 miljoen egter skrale troos.

Die maatskappy het Vrydag in ’n Sens-verklaring aangekondig hy verwag sy wins vir die halfjaar tot einde Augustus gaan omswaai na ’n enorme verlies.

Famous Brands gaan ’n basiese verlies van tussen R13,82 en R16,89 per aandeel ly, teenoor verlede jaar se wins van R1,59 per aandeel.

Benewens bedryfsverliese weens die inperkings word dit toegeskryf aan ’n afskrywing van R1,2 miljard in Famous Brands se belegging in GBK. Dit beteken, soos vroeër aangekondig is, dat die volle waarde van GBK nou afgeskryf is. Die groep het vantevore gesê hy gaan geen verdere finansiële steun aan GBK gee nie, maar sê nou onderhandelinge met die sakeredders hieroor duur voort.

Die maatskappy gaan ook ’n basiese wesensverlies per aandeel van tussen R2,16 en R2,64 ly, teenoor die wesensverdienste van R1,59 verlede jaar. Wesensverdienste is ’n aanduiding van bedryfsprestasie omdat dit eenmalige artikels uitsluit.

Die groep reik sy tussentydse resultate na verwagting op 26 Oktober uit.

  

Restaurante, fabrieke ‘in hibernasie’

Famous Brands beskryf die finansiële impak van die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperkings op al sy markte as “uiters straf”. Famous Brands het restaurante in Suid-Afrika, die res van Afrika en die Midde-Ooste en Brittanje.

Nie alle Wimpy-restaurante het kitskos laat aflewer nie en baie het eers einde Junie heropen.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het Covid-19 op 11 Maart – dus kort ná die aanvang van die eerste maand van Famous Brands se nuwe boekjaar – tot wêreldwye pandemie verklaar. Die strengste inperkings wêreldwyd was in Maart en April.

Volgens die restaurantgroep was die impak van die pandemie egter die hele ses maande sigbaar, selfs nadat inperkingsregulasies geleidelik verslap is.

Tydens die strengste fases van die inperking kon slegs die kleinhandelafdeling in Suid-Afrika sake doen. Dis dié afdeling wat Steers- en Wimpy-souse en Mugg & Bean-koffie in winkels verkoop.

In Brittanje en Suid-Afrika was alle restaurante aanvanklik gesluit, maar in sekere Afrika- en Midde-Oosterse lande was inperkings nie heeltemal so streng nie, wat ’n mate van handel vir Famous Brands moontlik gemaak het.

Volgens die groep het baie restaurante “in hibernasie gebly tot Julie”. Nie alle Wimpy-takke het byvoorbeeld oopgemaak vir aflewering nie.

Famous Brands sê die pandemie het sy driejaarpadkaart versnel. Dis die plan wat die groep opgestel het om die onderneming te herskik en koste te verminder. Die maatskappy het ’n kredietgerief van R300 miljoen vir die Covid-19-krisis onderhandel, maar sê hy het dit toe nie nodig gehad nie.

  

Só vaar verskillende afdelings

  • Hoofstroomrestaurante

Suid-Afrikaanse verkope by dié restaurante, wat insluit Wimpy, Steers, Debonairs en Fishaways, het met 48% gedaal. Vergelykbare verkope, dus vir restaurante wat ook in dieselfde helfte van die vorige boekjaar bestaan het, het met 48,7% gedaal.

  • Spesialiteitsrestaurante

Suid-Afrikaanse verkope by dié restaurante, onder meer Keg, Vovo Telo, House of Coffees en Mythos, het met 70,1% gedaal en vergelykbare verkope met 70,4%.

  • Afrika en die Midde-Ooste

In die res van Afrika en die Midde-Ooste het verkope met slegs 30,1% gedaal danksy minder streng inperkings.

  • Brittanje

Verkope in dié land het met 66,2% gedaal, maar die syfers word skeefgetrek deur die feit dat Gourmet Burger Kitchen reeds lank voor die Covid-19-krisis onder druk was. Dié groep is in sakeredding en talle restaurante het die afgelope jaar gesluit. Net 65% van GBK se restaurante doen tans sake.

  • Vervaardiging en logistiek

Die afdeling wat kos vir Famous Brands se restaurante vervaardig en vervoer, is baie swaar deur die inperking getref.

Slegs Famous Brands se fabriek in Lambertsbaai, Lamberts Bay Foods, is tot noodsaaklike diens verklaar en kon met produksie voortgaan.

Op vlak 4 en 3 van die inperking – toe tuisaflewering van kitskos en daarna alle kitskosdienste toelaatbaar was – kon vervaardiging vir dié restaurante geleidelik hervat word.

Die groep se inkomste uit vervaardiging het met 45% geval en uit logistiek met 46%.

  • Kleinhandel

Die verkope van Wimpy- en Steers-souse aan winkels het in die ses maande R72 miljoen beloop.

Meer oor:  Debonairs  |  Steers  |  Wimpy  |  Famous Brands  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Vlak 1  |  Restaurante  |  Inperking  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.