Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
StefStocks sink tot laagtepunt ná nuus oor skuld

Die konstruksiemaatskappy Stefanutti Stocks (StefStocks) se aandeelprys het Donderdag tot ’n rekordlaagtepunt op die JSE gedaal.

Een van Stefanutti Stocks se projekte in eSwatini. Foto: Argief

Dit het net meer as 45% getuimel en op net 29c op die JSE gesluit.

Die aandeel het vanjaar reeds met 92,5% gedaal.

Dit is ook net ’n fraksie van die historiese hoogtepunt van R23,80 wat StefStocks op 31 Desember 2007 op die JSE bereik het.

Die nuutste daling kom nadat StefStocks in ’n handelsverklaring wat op die JSE se nuusdiens Sens gepubliseer is, sê dat hy ’n grootskaalse herstrukturering oorweeg én dat hy geld leen om kop bo water te hou.

Luidens die verklaring het hy op 5 November ’n tweede deel van ’n finansieringsplan ter waarde van R391 miljoen van leners ontvang. Hy het op 26 Julie die eerste deel ter waarde van R120 miljoen ontvang.

“Die groep bly in gesprek met die leners om addisionele finansieringstransaksies te bekom. Die fondse wat uit die eerste en tweede betalings ontvang is, is aangewend om aan die korttermyn-likiditeitsvereistes van die groep te voldoen. Dit gee die groep meer tyd om kontraktuele eise op die kragprojek op te los, en om terselfdertyd langertermyn-finansieringsoplossings te vind,” sê hy in die verklaring.

StefStocks gee nie besonderhede oor die eis nie, net dat dit ’n “groot kragprojek in die openbare sektor” is.

Hy sê verder dat dié eis hom noodsaak om die oorspronklike finansieringsvereiste van R400 miljoen tot ongeveer R986 miljoen te verhoog.

Herstrukturering

Oor die herstruktureringsplan sê StefStocks het hy reeds ’n span aangestel om so ’n plan op te stel.

Daar sal na die volgende aspekte van die besigheid gekyk word:

  • Die moontlike verkoop van nie-kernbates, insluitend afdelings/filiale;
  • Kapitaalstruktuurontleding, insluitend die moontlikheid om nuwe aandele uit te reik; en
  • Interne herstrukturering.

Die maatskappy sê die plan sal aan sy direksie voorgelê word vir goedkeuring. Aandeelhouers sal daarna daaroor ingelig word.

Resultate

StefStocks sê gegewe die finansieringsvereistes verwag hy dat hy vir die ses maande tot einde Augustus ’n verlies en wesensverlies per aandeel van onderskeidelik R6,00 en R6,40 gaan ly.

Hy het in die ooreenstemmende tydperk in 2018 ’n verdienste en wesensverdienste van onderskeidelik 61,76c en 60,30c per aandeel behaal.

StefStocks sê hy verwag om dié resultate op 28 November bekend te maak.

Meer oor:  Stefstocks  |  Konstruksiebedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.