Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff bied 66% méér aan eisers

Steinhoff het die skikking wat hy aan aandeelhouers aanbied ten einde hofgedinge te beëindig, met ’n enorme 66% verhoog.

Louis du Preez, uitvoerende hoof van Steinhoff.

Pleks van €267 miljoen sal aandeelhouers wat aandele op die ope mark gekoop het, ook deur effektetrustfondse, nou €175 miljoen méér, oftewel altesame €442 miljoen, ontvang indien die skikkingsvoorstel aanvaar word.

Kontraktuele eisers, dus onder andere mense wat in Steinhoff-aandele betaal is vir ondernemings wat hulle aan die groep verkoop het, sal ook 66%, oftewel €103 miljoen, méér kry, nadat die oorspronklike aanbod van €68 miljoen tot €171 miljoen verhoog is.

Die aanbod aan Titan, die maatskappy van Christo Wiese, bly onveranderd op €7,9 miljard.

Die Reserwebank en finansiële krediteure moet nog die nuwe bedrae goedkeur.

Baie ontleders het verwag dat Steinhoff noodgedwonge sy skikkingsbedrag sal moet verhoog nadat die hooggeregshof in Kaapstad onlangs bevind het die maatskappy het art. 45 van die Maatskappywet oortree deur finansiële steun aan ’n filiaal te bied wat met die skikkingsvoorstel verband hou. Die direksie het egter nie deeglik bepaal of die maatskappy die likiditeit- en solvensietoetse sou slaag ná die hulp nie.

Die art. 45-aansoek is deur Hamilton, ’n maatskappy wat groot plaaslike batebestuursfirmas verteenwoordig, en Trevo, ’n maatskappy van die voormalige Pepkor-hoof Pieter Erasmus.

Steinhoff sê in ’n Sens-verklaring hy vorder ongeag die dispute oor die skikking wel daarmee. Vier uit ses groepe aktiewe eisers, asook die Vereniging van Effectenbezitters (VEB) ondersteun die voorstel. Hulle verteenwoordig aandeelhouers wêreldwyd wat geld verloor het omdat hulle op grond van inligting wat later geblyk het vals te wees, in Steinhoff belê het.

Steinhoff glo steeds dat die skikkingsvoorstel tot ’n beter uitkoms vir eisers en krediteure kan lei as wanneer geen skikking bereik word nie.

“Steinhoff doen ’n beroep op belanghebbendes om verdere vertragings te vermy.”

Verskeie ontleders het gereken Steinhoff sal genoodsaak wees om sy skikkingsvoorstel te verbeter ten einde hofsake te beëindig. Die maatskappy self skryf die hoër aanbod toe aan ’n “wesenlike verbetering in die onderliggende finansiële en bedryfsprestasie” van die groep sedert die voorstel in Julie 2020 gemaak is.

Die groep sê toe het die Covid-19-pandemie en die swak wisselkoers teen hom getel.

Louis du Preez, uitvoerende hoof van Steinhoff, sê die hersiene voorstel bied eisers ’n “regverdige uitkoms, en die beste geleentheid om geld te herwin, in die nabye toekoms en met sekerheid. Ons doen ’n beroep op alle eisers om die hersiene voorstel te steun en met ons saam te werk om die goedkeuringsproses so gou as moontlik af te handel.”

Benewens al die eise teen hom, moet Steinhoff eersdaags ’n likwidasie-aansoek teenstaan wat in die hooggeregshof in Kaapstad gebring is. Die stigters van die skoenwinkels Tekkie Town, wat in ruil vir aandele aan Steinhoff verkoop is, het die aansoek gebring.

Die likwidasie-aansoek word op 1 tot 3 September aangehoor.

Steinhoff sê ’n aantal van sy finansiële krediteure wil teen die art. 45-uitspraak appelleer.

Die groep sê hy gaan self ook daarteen appelleer. Hy glo hy het ’n “redelike kans op sukses”.

In nóg ’n hofsaak, van 4 tot 6 Augustus, word ’n dispuut aangehoor oor die verskillende klasse eisers wat in die skikkingsvoorstel uiteengesit word.

Meer oor:  Steinhoff  |  Bedrog  |  Amsterdam  |  Markus Jooste  |  Sakeredding  |  Meubelhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.