Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff: ‘Die karkas word nou gestroop’

Die omvang van die ongerymdhede by Steinhoff is klaarblyklik groter as wat aanvanklik gedink is.

markus jooste
Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff. Foto: Jaco Marais

Dit was Donderdag die reaksie van ontleders op die nuus dat Steinhoff nie soos beloof sy geouditeerde finansiële state vir die boekjaar tot einde September 2017, asook die bevindinge van die forensiese ondersoek na sy boeke, voor einde Desember gaan uitreik nie.

Dié jaarstate is reeds ’n jaar laat. Die aandeelprys het aanvanklik skerp gedaal en teen laatmiddag was dit amper 12% laer op R1,57.

Groot aandeelhouers wat eise teen Steinhoff ingestel het weens die verliese wat hulle gely het, wag in spanning vir die bevindinge van die forensiese ondersoek.

“Dit is nie goeie nuus nie,” sê Bernard Mostert, een van die aandeelhouers van Tekkie Town wat in 2016 deur Steinhoff gekoop is. Die voormalige bestuur van Tekkie Town tel onder diegene wat ’n eis teen Steinhoff ingestel het.

Lees ook: Steinhoff ’n jaar later: Wat weet ons nou?

“Dit is ’n jaar later. Ons parlement het moeite gedoen om te probeer vasstel wat skeefgeloop het en het gesê hierdie mense moet verantwoordelik gehou word vir die verlies; ’n verlies wat veelvuldige kere meer is as die verliese wat Nkandla en VBS Mutual Bank meegebring het.”

Michael Treherne, portefeuljebestuurder van Vestact, sê dit is teleurstellend dat die jaarstate verder vertraag is nadat daar aan beleggers gesê is dit sou einde vanjaar klaar wees.

Dit is frustrerend vir beleggers en krediteure dat dit so lank neem om die saak uit te klaar.
Casparus Treurnicht van Gryphon Batebestuur.

“Dit is frustrerend vir beleggers en krediteure dat dit so lank neem om die saak uit te klaar,” sê Casparus Treurnicht, ’n portefeuljebestuurder van Gryphon Batebestuur.

Treherne meen die verdere vertraging dui daarop dat die omvang van die ongerymdhede groter is as wat aanvanklik gedink is.

“Dit beteken op sigself ook dat daar meer agter die skerms deur Markus (Jooste, voormalige uitvoerende hoof) gekonkel is as wat voorheen vermoed is,” sê Treurnicht.

Hy meen dit is bevestiging dat onreëlmatighede op ’n groot skaal plaasgevind het. “Wat die omvang daarvan is, sal almal maar moet wag en sien.”

Treurnicht sê dit is ook nou duidelik dat dit onmoontlik sou wees dat Jooste “sulke komplekse transaksies” op sy eie sou kon deurvoer. Hy meen “meer as een persoon” gaan vervolg word.

Bernard Mostert (links) en Braam van Huyssteen, stigters van Mr. Tekkie. Foto: Nellie Brand-Jonker

Ingewikkelder

Steinhoff sê in ’n verklaring die forensiese ondersoek deur PwC is “wesenlik ingewikkelder as wat aanvanklik verwag is” en dat dit oor talle landsgrense gedoen word.

Steinhoff sê ook die impak van die bevindinge tot dusver op die 2017- en 2018-state word nog uitgepluis om die “korrekte rekeningkundige hantering en verwante openbaarmaking te verseker”.

Treherne hoop met die aanstelling van die nuwe direkteur van openbare vervolgings, adv. Shamila Batohi, sal werk gemaak word daarvan om diegene te vervolg wat vir die Steinhoff-debakel verantwoordelik is. “Iemand moet tronk toe gaan.”

Effektief is Steinhoff, ten spyte van al die maniere hoe hulle dit aanbied, eintlik net ’n karkas en dié karkas word nou gestroop.
Bernard Mostert van Mr. Tekkie

Mostert sê terwyl beleggers nou nog langer moet wag op die verslag, kos dit die maatskappy baie geld.

Hy verwys na die peperduur konsultante en adviseurs wat sedert Desember vir Steinhoff bystaan. Netwerk24 het in Junie berig die besteding aan konsultante en adviseurs en die forensiese ondersoek het van einde Desember verlede jaar tot einde Maart vanjaar sowat R7,9 miljoen per werkdag beloop.

Boonop word die direkteure miljoene rande per jaar betaal.

“Die mense wat op die inligting sit en kan sê wat presies skeefgeloop het, is die mense wat in die meerderheid was toe dit gebeur het en hulle verdien baie groot salarisse.

“Effektief is Steinhoff, ten spyte van al die maniere hoe hulle dit aanbied, eintlik net ’n karkas en dié karkas word nou gestroop. Hoe vinniger die verslae uitkom, hoe vinniger gaan dié plundering ophou.”

Die Stellenbosse bankier GT Ferreira reis oorsee en kon nie kommentaar lewer nie. So ook nie Christo Wiese, voormalige voorsitter en grootste aandeelhouer van Steinhoff, nie. Hulle het albei eise teen Steinhoff ingestel.

Meer oor:  Steinhoff  |  Deloitte  |  Pepkor  |  Pwc  |  Markus Jooste  |  Bernard Mostert  |  Ouditeursfirmas  |  Kleinhandel  |  Kleinhandelaars  |  Forensiese Verslag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.