Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff-direkteure in Duitsland vervolg - berig

Die uitslag van 'n jare lange handelsmisdaadondersoek in Duitsland, waarby voormalige direkteure van Steinhoff betrek is en moontlik vervolg gaan word, word Donderdag verwag.

Die staatsaanklaer van Oldenburg in Duitsland het aan Netwerk24 bevestig dat nuus hieroor Donderdag uitgereik word.  

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff.

Martin Rüppell, hoofstaatsaanklaer, wou nie reageer op spesifieke vrae wat aangestuur is om 'n berig van die Duitse saketydskrif Manager Magazin te bevestig dat drie voormalige direkteure van 'n filiaal van die groep in Duitsland en nog 'n persoon aangekla gaan word nie. 

Manager Magazin het berig die polisie se handelsmisdaadondersoek is afgehandel en die staatsaanklaer het besluit om die individue te vervolg.  

Die polisie het verskeie individue, wat by ’n Duitse filiaal van Steinhoff betrokke was, sedert 2015 vir balansstaat-manipulering ondersoek.

Ingevolge die Duitse handelswet kan dié handelsmisdaad ’n tronkstraf van tot drie jaar of ’n boete tot gevolg hê.

Volgens die tydskrif se inligting is Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, na bewering een van die mense wat in die ondersoekers se visier was.

Dr. Bernd Gross, ’n Duitse prokureur wat spesialiseer in strafreg en Jooste verteenwoordig, het aan die tydskrif gesê die aanklag kom nie as 'n verrassing nie en dat sy kliënt vol vertroue is dat dit suksesvol teengestaan kan word.

Netwerk24 het vrae gestuur aan Gross en die berig sal opgevolg of bygewerk word wanneer die antwoorde ontvang word. Dit is nie voor die spertyd ontvang nie.

Jooste reageer al sedert 2017 nie op medianavrae nie.

Die tydskrif noem ook dat Dirk Schreiber, voormalige finansiële hoof van Steinhoff Europe, na bewering ondersoek is.

'n Bron het aan Netwerk24 bevestig dat beide Jooste en hy by die ondersoek betrek is.

Theo de Klerk, huidige finansiële hoof van Steinhoff, het Maandag gesê die handelsmisdaadondersoek het niks met die groep te doen nie, maar is oor individue gedoen.

Die maatskappy word wel ook deur die belastingowerheid van Duitsland ondersoek.

Manager Magazin het ook in Augustus 2017 berig dat Jooste ondersoek word. 

LEES OOK: Dis ou koeie, gooi Steinhoff wal ná aandeel val

Christo Wiese, voormalige grootste aandeelhouer en voorsitter van Steinhoff, het daarna op radio verwys na die "twak" wat geskryf is.

LEES OOK: Wiese ‘kwaad oor twak’ wat oor Steinhoff geskryf is

Ondersoek al verlede jaar klaar

’n Skriftelike antwoord op ’n vraag deur ’n parlementslid van dieselfde staat waarin Oldenburg en Westerstede is, het getoon dat die ondersoek na die individue al vroeg verlede jaar afgehandel is.

Markus Jooste (regs) in Augustus 2017 by 'n aanbieding van Shoprite se resultate in Kaapstad. Later die week het Manager Magazin in 'n berig onthul hy word deur die staatsaanklaer van Oldenburg ondersoek. In daardie stadium het Christo Wiese (links), grootste aandeelhouer in beide, nog beplan om die twee maatskappye saam te smelt. Foto: Nellie Brand-Jonker

Die “baie uitgebreide ondersoeklêers” is in Februarie verlede jaar aan die staatsaanklaer van Oldenburg se sentrale kantoor oor witboordjiemisdade oorhandig.

In dieselfde skriftelike antwoord is gesê twee ondersoeke teen voormalige besturende direkteure van die groep vir belastingontduiking duur voort.

Steinhoff het vroeg in Desember 2015 kort voor sy hoofnotering in Duitsland op die Frankfurt-aandeelbeurs aangekondig dat een van sy filiale daar vir belasting ondersoek word.

Die maatskappy het gesê ’n klopjag is op die kantoor van sy Duitse filiaal Steinhoff Europe Group Services in Westerstede en op die wonings van die bestuur in die stad gedoen.

LEES OOK: Klopjag op Steinhoff plaas demper op notering

Inligting oor die maatskappy toon dat Schreiber en Jooste amptenare van die maatskappy was.

Schreiber dui op sy LinkedIn-profiel aan hy dat van 2002 tot 2011 hoof van boekhouding by die maatskappy in Europa was en daarna steeds vir die groep gewerk het.

Name voorheen genoem

Steinhoff het in Maart 2019 in opdrag van die Suid-Afrikaanse parlement op 'n komiteevergadering die name bekend gemaak van agt mense, onder wie Jooste en Schreiber, wat in ’n forensiese ondersoek geïdentifiseer is as die hoofverdagtes wat by die beweerde ongerymdhede in die groep se boeke betrokke was.

Voorheen is berig dat ’n klein aantal van die groep se voormalige groepsbestuurders en ander nie-Steinhoff-individue, ondersteun deur sekere senior bestuurders van Steinhoff, oor verskeie jare heen verskeie transaksies gestruktureer en geïmplementeer het wat daartoe gelei het dat die wins en waarde van die groep se bates wesenlik oordryf is.

Ingewikkelde, fiktiewe en onreëlmatige transaksies het oor sowat nege jaar tot R110 miljard se inkomste vir die groep bygedra. Dié transaksies het ingesluit partye wat as onafhanklik van die groep en sy bestuur voorgedoen is, wat nou blyk nou verwant te wees aan of beheer word deur dié klein groepie mense wat genoem is.

Meer oor:  Duitsland  |  Steinhoff  |  Markus Jooste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.