Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff: Hoekom Markus tóé vriende sou waarsku
Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff.

Indien Markus Jooste wel van sy vriende einde November gewaarsku het om hul aandele te verkoop, “is daar ’n goeie rede hoekom dit toe gebeur het”.

“Hy moes seker toe besef het die skrif is aan die muur,” sê ’n ingeligte bron.

Bloomberg het Woensdag laat berig oor so ’n teksboodskap wat Jooste glo “rondom 30 November” aan minstens twee mense gestuur het. Daarin is hulle gewaarsku oor “dreigende, ongespesifiseerde slegte nuus wat kom”.

Dit was net minder as ’n week voordat Steinhoff op Woensdag 6 Desember aangekondig het Jooste het bedank, die maatskappy se jaarstate kan nie uitgereik word nie en dat ’n forensiese ondersoek na Steinhoff se boeke kom.

Getuienis die afgelope maande in die parlement het die gebeure rondom die paar dae tot dié Woensdag effens ontrafel.

’n Ingeligte bron het Donderdag gesê dit maak sin dat die teksboodskap op 30 November gestuur sou word.

Dit is op dié dag dat die eksterne ouditeure, Deloitte, finaal besluit het dat ’n forensiese ondersoek na die groep se boeke nodig is.

Jooste het met sy getuienis in die parlement laat blyk hy was ontevrede met dié besluit.

Ook hy het na dié datum verwys en getuig op 30 November het Deloitte skielik ’n ommekeer gemaak in sy siening oor of ’n nuwe ondersoek nodig is en ’n brief aan die voorsitter van die ouditkomitee gestuur om te versoek dat die direksie opdrag gee vir ’n nuwe onafhanklike ondersoek na die aantygings.

Lees ook: Steinhof-drama: Hier is Jooste se weergawe

Steinhoff kan nie kommentaar lewer op die datum en die gebeure nie. “Ons is weens regsredes beperk oor wat ons mag kommunikeer. Ons kan net na openbare aankondigings verwys.”

Jooste se prokureur, Callie Albertyn, het weer nie op e-pos-navrae gereageer nie.

So het Netwerk24 in Mei berig oor die gebeure in die week voor die ineenstorting van Steinhoff se aandeelprys.

Netwerk24 kon nie self die spesifieke teksboodskap opspoor waarna Bloomberg verwys het nie, maar die afgelope maande het verskeie onbevestigde gerugte die ronde gedoen dat sommige partye voor 6 Desember ingelig is dat daar probleme by die maatskappy is en dat hulle toe hul aandele verkoop het.

Volgens Bloomberg het twee mense wat bekend is met die teksboodskap wetstoepassers daarvan in kennis gestel.

Dit is bekend dat die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) reeds sowat 60 aandeelhouers van Steinhoff weens binnehandel ondersoek wat tussen September en Desember aandele verkoop het.

Lees ook: Steinhoff ondersoek vorder oor binnehandel

Die ondersoek hou met rekeninge verband van “verskeie individue, trusts, en korporatiewe entiteite, waarvan sommige oorsee is”.

“Ons bepaal of hierdie rekeninge wat ondersoek word, verband hou met Steinhoff of enige van sy uitvoerende beamptes of met verwante partye.”

Dit is ook bekend dat die banke in hofstukke beweer het dat Jooste reeds in Augustus bates in sy beleggingsvoertuig Mayfair Speculators buite die bereik van krediteure wou plaas. Dié maatskappy, wat honderdmiljoene rande aan banke geskuld het, het in Augustus ’n dividend in specie aan sy beheermaatskappy uitbetaal.

Dis moontlik dat Jooste toe al reeds geweet het van ondersoeke waarmee die Duitse tydskrif Manager Magazin besig was. Reuters het op 24 Augustus berig dat aanklaers volgens die tydskrif Jooste en ander senior bestuurders weens beweerde bedrog met Steinhoff se boeke ondersoek.

’n Vriend van Jooste het aan Netwerk24 gesê die Bloomberg-storie is vals. “Dink jy hy is stupid? Hy is nie dom nie.”

Volgens iemand anders was Jooste daardie week waarskynlik emosioneel en kon dit daartoe gelei het dat hy so iets per teksboodskap sou sê. Hy het verwys na die teksboodskap wat Jooste met sy bedanking uitgestuur het aan mense na aan hom. In die oënskynlik emosionele brief het hy verwys na “sekere groot foute” wat hy gemaak het wat finansiële verliese vir baie onskuldige mense veroorsaak. Jooste het in die parlement gesê hy verwys na sy fout om in 2007 in ’n vennootskap met die verkeerde sakevennoot te gaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.