Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff: ‘Dis onderhandel of likwidasie’
Christo Wiese
Christo Wiese, einde Januarie 2018 in die parlement toe terugvoer oor die ineenstorting van Steinhoff gegee is. Foto: Nellie Brand-Jonker

Dit is ’n “logiese stap” vir Steinhoff om oor skikkings te onderhandel met die talle partye wat eise teen hom ingestel het “omdat daar net twee keuses vir eisers is: onderhandel of likwidasie”.

So sê Christo Wiese, voormalige voorsitter en grootste aandeelhouer in Steinhoff.

Die waarde van die eise, waaronder verskeie groepsgedinge, is meer as wat die maatskappy se bates werd is.

“En die bates met die grootste waarde in die groep is dié wat van my af kom,” sê Wiese.

Steinhoff het Dinsdagoggend aangekondig dat hy in beginsel alternatiewe sal oorweeg soos om ’n skikking met eisers te onderhandel.

Wiese sê hy het reeds ’n jaar gelede toe hy sy eis van altesame R59 miljard ingedien het, gesê hy is heeltemal bereid om saam met alle eisers om ’n tafel te sit ten einde ’n skikking te probeer bereik.

Lees ook: Steinhoff se markwaarde minder as eise

Kort voordat hy enkele jare gelede in Steinhoff belê het, het Wiese sy belang in die Pepkor-groep aan Steinhoff verkoop.

Wiese meen Steinhoff se aankondiging Dinsdag hou met alle eise verband en nie net met die groepsgedinge nie.

Lees hier wat Wiese gesê het nadat Steinhoff onlangs inligting oor die forensiese ondersoek oor sy boeke uitgereik het.

Steinhoff se verklaring lui dat hy die “verteenwoordigers van eisers (groepe)” gevra het om die relevante inligting oor die identiteit van eisers en die grootte van hul aandeelhouding aan hom te verskaf.

Een party wat by ’n eis teen Steinhoff betrokke is, meen dit hou met groepgedinge verband omdat Steinhoff “weet wie die ander eisers is”.

Op die vraag hoekom Steinhoff nóú die versoek aan eisers rig, sê Wiese dit is heeltemal verstaanbaar want baie werk moes eers gedoen word om die maatskappy te stabiliseer.

Die maatskappy sou nie met die eisers kon onderhandel as die banke aan wie hy geld skuld nie op ’n skuldstilstand ooreengekom het nie.

Hy sal tevrede wees met ’n “billike bedeling wat die maatskappy reg posisioneer en 130 000 poste beskerm”.

Bernard Mostert, wat saam met ander voormalige aandeelhouers van Tekkie Town ’n eis ingedien het om hul onderneming terug te kry, het verwys na wat Heather Sonn, huidige Steinhoff-voorsitter, onlangs in die parlement gesê het, naamlik dat Steinhoff sal kyk hoe enige “geldige eise wat bewys kan word” geëer kan word.

Lees ook hier.

Sy het gesê dit gaan op ’n oorwoë, samehangende en gestruktureerde wyse gedoen word sodat “allerhande opportunistiese eise nie insluip nie”.

Mostert sê: “’n Mens sal moet vra wat is opportunistiese en wat is geldige eise. Ons het van die begin af geweet ons eis is geldig want ons het ’n waardevolle onderneming aan Steinhoff in ruil vir waardelose aandele gegee.”

Mostert sê as hul eis slaag en hulle kry 57% en bestuursbeheer van Tekkie Town terug, sal Steinhoff ’n 43%-belang oorhou wat hom blootstelling gee aan ’n bate wat kontant skep.

Lees ook: Lys van huidige hofsake teen Steinhoff

“Gegewe ons geskiedenis met die onderneming en die kategorie van kleinhandel sal dit ’n goeie uitkoms wees.”

Hy meen “dit is ’n logiese uitkoms wat tussen al die regsgedinge deur uit die oog verloor word”.

Mostert sê egter hulle gaan intussen voort met die regsproses. “Ons eis is uniek. Ons het nooit enige waarde hoegenaamd ontvang nie. Ons was buitestanders wat mislei is met finansiële state wat volgens die maatskappy se eie ondersoek op bedrog en wanvoorstellings gebou was.”

Meer oor:  Markus Jooste  |  Christo Wiese  |  Binnehandel  |  Steinhoff-Skandaal  |  Bedrog  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.