Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff dok R30 m. op vir Valke se ondersoek

Steinhoff het nagenoeg R30 miljoen bewillig vir die forensiese ondersoek wat namens die Valke gedoen word oor individue en ondernemings wat by die beweerde bedrog in die groep geïmpliseer word.

Steinhoff se kantore in Stellenbosch. Foto: Edrea du Toit

Die klagtes wat die Valke ondersoek, sluit bedrog, geldwassery en oortredings van die Wet op die Finansiële Markte in.

Netwerk24 het onlangs berig dat dié ondersoek drie jaar ná die ineenstorting van Steinhoff nog nie afgehandel is nie, maar die Valke sê dit geniet steeds prioriteit.

LEES OOK: Ondersoek na Steinhoff duur voort, sê Valke

Steinhoff sê in sy jongste jaarverslag vir die boekjaar tot einde September dat totale bydrae tot die bykomende forensiese ondersoek deur PwC beloop R30 miljoen plus BTW.

Verlede jaar in Junie is berig dat Steinhoff vir die ondersoek gaan help betaal nadat die Suid-Afrikaanse owerhede PwC aangestel het om bykomende forensiese werk te doen om met die strafregtelike ondersoek te help.

Hoeveel in totaal opgedok gaan word, is nie bekend nie.

Theo de Klerk, finansiële hoof van Steinhoff, sê die R30 miljoen is bewillig, maar Steinhoff is nie deel van die proses nie en kry net fakture van PwC soos wat hulle vorder.

Die volle bedrag is nog nie gebruik nie.

Hy weet nie hoe ver die ondersoek is nie omdat Steinhoff nie by die proses betrokke is nie.

Die aansienlike koste van dié ondersoek word toegeskryf aan die grootte en ingewikkeldheid daarvan.

Dié proses moenie verwar word met ’n forensiese ondersoek wat PwC sedert einde Desember 2017 in opdrag van Steinhoff oor die ongerymdhede in sy boeke gedoen het nie.

Dié ondersoek het getoon dat meer as R110 miljard se inkomste van Steinhoff tussen 2009 en 2017 deur middel van “fiktiewe of onreëlmatige transaksies” bewerkstellig is.

In die ondersoek is in die algemeen gevind dat die doel van die fiktiewe of onreëlmatige transaksies was om winste of die waarde van bates te oordryf.

Steinhoff is self besig met “voortgesette ondersoeke, wat ’n verdere PwC- forensiese ondersoek insluit”. Dit is om spesifieke aangeleenthede, wat in die eerste forensiese ondersoek geïdentifiseer is, verder te ondersoek.

Dit kan tot die instel van eise teen voormalige direkteure en geassosieerde entiteite lei.

Of dit eise teen enige ander ondernemings as Mayfair Speculators (van Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof) en individue anders as Jooste insluit, sê De Klerk, is die moontlikheid daar. “Ons is besig met ondersoeke teen sekere ander entiteite, maar dit is nog nie afgehandel nie. PwC is steeds besig. As ons vind daar is meriete, sal ons eise teen hulle instel.”

Sulke eise kan Jooste ook weer insluit.

Jooste reageer sedert 2017 nie op medianavrae nie.

Steinhoff het reeds in Junie 2019 ’n hofaansoek gebring om R870 miljoen se salarisse en bonusse van Jooste en Ben la Grange, voormalige finansiële hoof, terug te eis wat oor byna ’n dekade aan hom betaal is.

Steinhoff het in dié hofaansoek gesê die geld word teruggeëis op grond daarvan dat sy finansiële prestasie “deur middel van fiktiewe en/of onreëlmatige transaksies wesenlik oordryf is”.

Die toesighoudende direksie sê in die jaarverslag samewerking word gegee aan die verskillende vervolgingsowerhede en reguleerders in Suid-Afrika en elders in hul ondersoeke na individue en entiteite wat geïmpliseer is by dit wat in die groep skeefgeloop het.

“Die direksie is gretig dat diegene wat verantwoordelik is vir die gebreke in die verlede vervolg word, en terwyl ons besef hoe ingewikkeld hierdie historiese gebeure was, is ons bekommerd oor die stadige vordering wat gemaak word.”

Wie het al teen Steinhoff opgetree?

Die Gedragsowerheid vir die Finansiëledienstesektor (FSCA) het in September 2019 ’n ondersoek afgehandel oor oortredings van die Wet op Finansiële Markte en die groep met R1,5 miljard beboet. Die boete is tot R53 miljoen verminder nadat die groep se finansiële posisie in ag geneem is om te voorkom dat onskuldige aandeelhouers benadeel word; ter erkenning van die feit dat die groep ’n slagoffer is van die beweerde gedrag van voormalige personeel en beamptes; en om die groep se samewerking te kry teen enige persone teen wie in die toekoms stappe gedoen gaan word. (Teen die einde van September verlede jaar was nog R42 miljoen van die boete uitstaande.)

In September verlede jaar het die Frankfurtse aandelebeurs, waar Steinhoff sy hoofnotering in 2015 verkry het, die maatskappy beboet met R2,2 miljoen vir sy jaarverslag vir die boekjaar tot einde September 2019 wat laat uitgereik is.

Ná jaareinde in Oktober het dié aandeelbeurs hom met R360 000 beboet vir sy verslag vir die halfjaar tot einde Maart wat laat is. Beide boetes is in Januarie vanjaar betaal.

Die JSE het ook in Oktober verlede jaar teen die oorsese Steinhoff-beheermaatskappy en die voormalige Suid-Afrikaanse beheermaatskappy, SIHPL, ’n boete van R13,5 miljoen uitgereik oor beweerde ongerymdhede wat nie voor Desember 2017 geopenbaar is nie.

Die enigste notering wat deur die JSE opgeskort is, was van Steinhoff Investment (SIHL), ’n filiaal van Steinhoff, wat voorkeuraandele genoteer het. Nadat sy jaarstate vir die boekjaar tot einde September betyds uitgereik is, kon die maatskappy weer op 18 Januarie vanjaar begin handel dryf.

Meer oor:  Steinhoff  |  Valke  |  Ondersoek  |  Bedrog  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.