Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff dop vir 4de jaar sy oudit

Die Steinhoff-groep het vir die vierde jaar agtereenvolgens sy oudit gedop omdat die eksterne ouditeur weer ’n ouditmening weerhou het.

Steinhoff
Theo de Klerk, finansiële hoof van Steinhoff, op 'n vorige aanlyn jaarvergadering.

Steinhoff se aandeelprys het einde 2017 ineengestort nadat sy geouditeerde jaarverslag nie uitgereik kon word nie weens ongerymdhede met sy boeke wat verder ondersoek moes word.

’n Forensiese ondersoek oor sy boeke het daarna getoon hoe sy inkomste, wins en die waarde van bates oordryf is oor byna nege jaar deur middel van fiktiewe of onreëlmatige transaksies. Die waarde van dié transaksies het R110 miljard oor die tydperk beloop.

Die ouditeure van Mazars het nou, soos Deloitte in die voorafgaande drie jaar se jaarverslae (2017, 2018 en 2019), ’n ouditmening weerhou weens wesenlike onsekerhede wat oor sekere kwessies heers en ouditbewyse wat nie vir ander aangeleenthede gevind kan word nie.

Theo de Klerk, finansiële hoof van Steinhoff, sê die weerhouding van die ouditmening hou eerstens verband met die groep se status as ’n lopende saak, want die groep se laste oorskry sy bates.

Die ouditeure sê as die litigasie teen die groep (wat eise van R136 miljard beloop) nie geskik word nie en die tydperk om die groep se skuld terug te betaal word nie uitgestel nie, dan is daar ’n probleem.

Die termyn van sy skuld verval einde Desember, maar Steinhoff gaan aansoek doen vir die uitstel tot einde Desember 2022, en as die skikking goedgekeur word, is daar ’n addisionele uitstel tot middel van 2023 met ’n opsie om nog ses maande by te sit.

Die wesenlike onsekerheid oor die skikking van regseise is ook ’n rede vir die ouditeure se weerhouding van ’n ouditmening.

Groter sekerheid oor belastingimplikasies

Die toesighoudende direksie van die groep sê in die jaarverslag hoewel die ouditverslag steeds gekwalifiseer word, is daar ’n ligpunt, want die onsekerhede waarna voorheen in vorige jaarverslae verwys is, het verminder.

Volgens De Klerk sluit dit in dat daar nie meer wesenlike onsekerheid is oor die belastingimplikasie van die heruitreiking en wysigings van die vorige jare se finansiële state nie.

steinhoff
Die embleem van Steinhoff teen die muur van sy hoofkantoor in Stellenbosch.

In die 2017- en 2018-jaarverslae is gesê as gevolg van die ongerymdhede met sy boeke is talle jare se finansiële state in verskeie jurisdiksies herstateer en gewysig. Die bestuur kon nie bepaal wat die belastingimplikasie gaan wees en hoeveel kontant sal moet uitvloei daarvoor, asook die tydsberekening daarvan nie.

“Ons het nou baie meer sekerheid, want baie werk is gedoen oor die belastingimplikasie.”

Hoewel die potensiële kontantuitvloei wesenlik kan wees, is die bestuur van mening dat die belastingrisiko nie meer as ’n wesenlike onsekerheid met betrekking tot die lopende saak-status beskou kan word nie.

Verlies verdiep

Steinhoff se verlies het in die boekjaar verdiep tot 3,1 miljard vergeleke met 1,7 miljard in die ooreenstemmende tydperk.

De Klerk sê ingesluit in die verlies is twee groot uitgawes naamlik die voorsiening wat gemaak word vir die skikking van die litigasie wat 943 miljoen (nagenoeg R17 miljard), en vir 923 miljoen se rente (wat teen 10% per jaar oploop op sy skuld) wat verskuldig is aan skuldeisers.

Nog ’n derde groot nie-herhalende uitgawe is die afskrywing van 300 miljoen deur die Steinhoff-filiaal Pepkor in sy boekjaar aan die klandisiewaarde van sy onderliggende maatskappye.

Meer rente as skuld betaal

Die groep se netto skuld (totale skuld van 11,4 miljard minus kontant en ander bronne) bly hoog op 9,4 miljard (amper R170 miljard).

Die groep se rente wat in die boekjaar opgeloop het, is meer as die skuld wat terugbetaal is.

Baie bates verkoop

Die groep gaan vanjaar daarop fokus om sy skuld te verminder deur nog bates te verkoop. Dit sluit in om al sy eiendomme in Suid-Afrika te verkoop.

Sy portefeulje van eiendomme hier sluit in winkels, kantore, pakhuise, handelaars, vragmotorvulstasies, erwe en wonings.

Sy oorblywende beleggings in die Conforama-groep oorsee gaan ook verkoop word.

Die maatskappy ondersoek ook die moontlikheid om Pepco oorsee te noteer.

Die bates wat gereed is om verkoop te word beloop 1,1 miljard (R19,8 miljard).

Sy netto opbrengs uit sy ondernemings was in die afgelope boekjaar altesaam 543 miljoen. Sy belange in Conforama en Unitrans het die meeste bygedra. Die ander belange wat verkoop is, sluit in Sherwood, Greenlit Brands, Blue Group en Abra.

In die afgelope boekjaar het die totale personeelkorps van die groep van 110 000 tot 90 000 gedaal namate van sy ondernemings verkoop is. Dit gaan verder daal wanneer meer ondernemings verkoop word.

Meer oor:  Steinhoff  |  Bedrog  |  Markus Jooste  |  Oudit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.