Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff: Base het vir jare wins oordryf
Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, toe hy verlede jaar uiteindelik sy opwagting by ’n ondervraging in die parlement gemaak het.

’n Klein groep topbestuurders van Steinhoff het saam met mense buite die groep oor jare heen verskeie transaksies gestruktureer wat daartoe gelei het dat die groep se wins en bates oor ’n lang tydperk wesenlik oordryf is.

Dit blyk uit die eerste verklaring oor die forensiese ondersoek van PwC wat Vrydagaand ná meer as ’n jaar uitgereik is.

Die verslag self beslaan meer as 3 000 bladsye en het meer as 4 000 dokumente as aanhangsels. Die ondersoek het ’n “patroon van kommunikasie” gevind wat toon hoe die topbestuur ’n klein groepie ander uitvoerende direkteure opdragte laat uitvoer het, dikwels met die ondersteuning van ’n klein groepie mense wat nié in diens van Steinhoff was nie.

“Fiktiewe en onreëlmatige transaksies is gesluit met partye wat voorgehou is as derde partye onafhanklik van die groep en sy direkteure, maar wat nou blyk baie naby verwant te wees aan hulle, en sterk aanduidings bestaan dat hulle deur dié klein groep mense beheer is.

“Fiktiewe en onreëlmatige inkomste is in baie gevalle by ’n tussenganger-Steinhoff-maatskappy geskep en dan toegewys aan bedryfsmaatskappye wat swak vertoon het, as sogenaamde bydraes wat verskillende vorme aangeneem het. Dit het óf die inkomste verhoog óf uitgawes verminder in daardie bedryfsmaatskappye.”

Nie een van dié uitvoerende direkteure is meer by die maatskappy nie.

Lees die verklaring self hieronder.

“Een individu wat deur die groep gekontrakteer is, werk saam om met die voortgesette ondersoeke en verwante sake te help.”

Die groep se toesighoudende direksie sê in ’n verklaring die inligting in die forensiese verslag behels “ernstige aantygings, spesifiek teen senior direkteure”.

Die volgende stap is om voormalige Steinhoff-direkteure en ander individue wat nié deel van die groep was nie, uit te nooi om op die bevindinge kommentaar te lewer.

Ten spyte van die omvattende werk wat deur PwC en Steinhoff gedoen is, is daar nog baie onbeantwoorde vrae.

Die finansiële span van Steinhoff is tans besig om die finansiële state voor te berei, insluitend die 2016-state, wat heropgestel moet word met inagneming van die inligting in die verslag.

Die fiktiewe en onreëlmatige transaksies het luidens die verslag oor baie jare plaasgevind.

Pepkor Europa, insluitende Pepco en Poundland, Pepkor in Suid-Afrika en enige van sy bedryfsmaatskappye het geen van dié bydraes ontvang nie.

“Ten spyte van die omvattende werk wat deur PwC en Steinhoff gedoen is, is daar nog baie onbeantwoorde vrae, veral ten opsigte van die identifikasie van die ware aard van die verwante partye of die uiteindelike begunstigdes van die verskillende transaksies.

“Dié aangeleenthede gaan die onderwerp van verdere ondersoeke wees om te help om van die geld te verhaal vir die groep.”

Meer oor:  Steinhoff  |  Pepkor  |  Pwc  |  Christo Wiese  |  Markus Jooste  |  Forensiese Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.