Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff gaan dié week moet bontstaan in hof

Steinhoff gaan van Maandag tot Woensdag in die Wes-Kaapse hof moet bontstaan met drie groot hofaansoeke teen hom wat belangrike implikasies gaan hê vir sy voortbestaan en 'n internasionale skikking waarmee hy besig is.

Steinhoff
Steinhoff was in 'n stadium die hoofborg van Maties-rugbyspan. Foto: Bloomberg

Die een is ’n aansoek om die likwidasie van Steinhoff wat Maandag deur die voormalige eienaars van Tekkie Town gebring word.

Talle partye insluitende Steinhoff het reeds aangedui hulle gaan die aansoek teenstaan.

Steinhoff is midde-in ’n internasionale skikking met groepe wat groot eise teen hom ingestel het, waarvan baie reeds aangedui het hulle wil die skikking aanvaar.

Die ander hofsaak wat Maandag aangehoor gaan word, is ’n aansoek van Trevo Capital – ’n maatskappy wat aan die familie van Pieter Erasmus, oudhoof van Pepkor, behoort.

Die aansoek is in Februarie op ’n dringende grondslag gebring.

Trevo soek ’n hofbevel dat resolusies wat voorheen deur Steinhoff International Holdings (SIHPL) se direksie goedgekeur is oor 'n waarborg aan 'n oorsese maatskappy in die groep, tersyde gestel moet word ingevolge artikel 45 van die Maatskappywet.

Voorheen het SIHPL ’n waarborg verskaf vir ’n omskepbare skuldbrief wat aanvanklik in Januarie 2014 deur Steinhoff Finance Holding GmbH aan finansiële krediteure uitgereik is. Die aanvanklike vervaldatum was einde Januarie 2021.

Die waarborg is in Augustus 2019 gewysig of vervang met ’n voorwaardelike betalingsonderneming.

Dit is albei die resolusies van die direkteure oor die waarborg en die betalingsonderneming wat Trevo wil nietig verklaar op grond van artikel 45 van die Maatskappywet.

Die bevel wat gesoek word, vra ook vir ’n interdik om SIHPL daarvan te weerhou om enige betalings te doen wat onder die waarborg of uit die betalingsonderneming voortspruit.

Steinhoff het in hofstukke aangevoer Trevo probeer die grondslag vir die eise wat sy finansiële krediteure teen SIHPL het, aanval en tersyde stel.

Steinhoff voer aan dit plaas die skikking van eise waarmee hy internasionaal besig is in gevaar.

Trevo voer aan die kritiek teen hom om die artikel 45-aansoek te bring is ongegrond, want die regsgeldigheid van die betalingsonderneming is sentraal tot die skikkingsooreenkoms.

Hamilton, ’n groep wat aanvoer hy verteenwoordig ’n klomp batebestuurders van Suid-Afrika wat geld in Steinhoff verloor het, het toegetree tot die hofsaak.

“Trevo en Hamilton kan nie gekritiseer word dat die hof gevra word om die saak te oorweeg en daaroor te beslis nie, selfs al beteken sukses in die aansoek dat dit onmoontlik sal wees vir die huidige skikkingsvoorstel om voort te gaan.”

Artikel 45 van die Maatskappywet handel oor finansiële bystand wat ’n maatskappy verskaf en die vereistes waaraan voldoen moet word vir ’n direksie om die bystand te gee.

Dinsdag en Woensdag word ’n hofaansoek aangehoor wat deur Hamilton gebring is, waartoe Trevo as ’n party toegetree het, oor die klassifisering van eisers in die skikkingsvoorstel. ’n Verklarende bevel word deur Hamilton gesoek oor hoe eisers in die voorstel opgedeel moet word.

Meer oor:  Steinhoff  |  Tekkie Town  |  Trevo Capital  |  Hamilton  |  Hofaansoek  |  Skikkingsooreenkoms  |  Likwidasie  |  Hooggeregshof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.