Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff gooi skadu oor Pepkor se gradering

Die kleinhandelsgroep Pepkor het vir die eerste keer ’n gradering van die internasionale kredietgraderingsagentskap Moody’s gekry omdat hy dit oorweeg om geld van beleggers in die mark te leen.

Moody’s sê die graderings van Ba3 en A3.za wat die winkelgroep kry, toon sy sterk posisie in die mark met Pep en Ackermans wat 88% van die groep se bedryfswins verteenwoordig.

Pepkor verwys in ’n verklaring na dié gradering en sê hy oorweeg geleenthede in die kapitaalmark om sy bronne van finansiering te diversifiseer en sy finansieringskoste te verminder. Dit sal die groep help om die teiken te bereik wat gestel is om die verhouding van sy skuld tot sy wins te verlaag.

Pepkor is gedwing om vroeg in 2018 ná die ineenstorting van Steinhoff ’n aandeelhouerslening van R16 miljard van dié groep af met finansiering van banke af te herfinansier.

Lahlou Meksaoui, ontleder van Moody’s, sê die gradering wat toegeken is, weerspieël die matige skuldvlak van die groep en hoe taai die maatskappy is weens sy posisie as Suid-Afrika se grootste winkelgroep wat nie kruideniersware verkoop nie.

Die onsekere toekoms van Pepkor se meerderheidsaandeelhouer Steinhoff gooi egter ’n skadu oor die kredietgradering, sê Moody’s.

Steinhoff se onsekerheid

Steinhoff word deur ’n onsekere finansiële toekoms in die gesig gestaar wanneer die skuldstilstand tot ’n einde loop.
Moody's

Moody’s sê die gradering neem die meerderheidsbelang wat Steinhoff hou in ag en dat dié groep ’n skuldstilstand met sy skuldeisers het wat einde Desember 2021 eindig.

“Steinhoff word deur ’n onsekere finansiële toekoms in die gesig gestaar wanneer die skuldstilstand tot ’n einde loop.”

Volgens Moody’s is daar ’n aantal faktore wat die risiko versag van die meerderheidsbelang wat Steinhoff hou. Die belangrikste hiervan is dat Pepkor die aandeelhouerslening van Steinhoff van R16 miljard herfinansier het.

“Sodoende is die waarborge verwyder wat ten gunste van Steinhoff was. Daar is tans geen kruiswaarborge of wanbetalings van skuld tussen die twee maatskappye nie.”

Die meerderheid van Pepkor se direksie is ook nou onafhanklike direkteure terwyl Steinhoff net twee van die 11 direkteure het.

Volgens Moody’s is dit ook positief dat die twee grootste aandeelhouers van Pepkor ingestem het om in stede van ’n dividend vir die 2019-boekjaar te ontvang aandele te kry.

Pepkor het einde November met die uitreiking van sy resultate vir die boekjaar aangekondig hy gaan ’n skripdividend uitreik as deel van sy poging om sy skuldvlak te verlaag.

Aandeelhouers kan kies of hulle ’n dividend in kontant of aandele wil kry.

Vooruitsig stabiel

Die gradering of die vooruitsig kan voordeel trek daaruit as daar ’n verandering in eienaarskap kom.
Moody's

Die tweede grootste aandeelhouer is Lancaster 101, waarin die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) ’n belang van 50% hou. Die maatskappy hou 8,7% van Pepkor.

“Vrye kontantvloei sal positief wees in die komende 12 maande omdat Pepkor se twee grootste aandeelhouers wat 80% van die aandele hou, ingestem het om hul dividend vir die 2019-boekjaar in die vorm van aandele te ontvang. Dit vergoed deels vir die beduidende belegging wat nodig is om weer sy verbruikerskuldboek aan die gang te kry en vir nuwe winkels wat geopen word.”

Moody’s het ’n stabiele vooruitsig op die kredietgradering van Pepkor geplaas. Dit hou verband met die skuldverhouding van die groep en dat sy likiditeit voldoende is.

“Die vooruitsig is ook daarop gegrond dat geen wesenlike nadelige inmenging van die groep se meerderheidsaandeelhouer verwag word nie.”

Volgens Moody’s is die gradering egter onder druk weens die onsekerheid rondom Steinhoff.

“Die likiditeitsdruk wat Steinhoff ervaar gaan weer te voorskyn kom wanneer die skuldstilstand met sy skuldeisers einde 2021 tot ’n einde kom. Die gradering of die vooruitsig kan voordeel trek daaruit as daar ’n verandering in eienaarskap kom.”


Meer oor:  Steinhoff  |  Pepkor  |  Moody's  |  Pep  |  Ackermans  |  Skuldbriewe  |  Kredietgradering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.