Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff halt verhoor om ‘nuwe dokument’ in te dien

’n Hofsaak waarby miljarde rande betrokke is, moes Woensdag uitgestel word omdat Steinhoff ’n nuwe belangrike dokument as getuienis wil bekendstel.

Die applikante, Trevo Capital en Hamilton, vra die hof om die ooreenkoms nietig te verklaar.

Regter Lee Bozalek, wat die saak sedert Maandag in die hooggeregshof in Kaapstad aanhoor, het dit ’n “betreurenswaardige vertraging” genoem.

Die hofsaak handel oor ’n waarborg wat in 2014 deur Steinhoff International Holdings (SIHPL) van Suid-Afrika aan ’n oorsese filiaal van die groep verskaf is om 465 miljoen se skuldbriewe uit te reik.

Die applikante, Trevo Capital en Hamilton, vra die hof om die ooreenkoms nietig te verklaar op grond van art. 45 van die Maatskappywet omdat dit op finansiële hulp neerkom. Die wetsartikel is bedoel om beskerming aan aandeelhouers te gee wanneer finansiële hulp deur ’n maatskappy verskaf word en moet misbruik deur ’n direksie in dié verband voorkom.

Ingevolge art. 45 moet aan sekere voorwaardes voldoen word.

Die applikante vra ook die hof om ’n daaropvolgende ooreenkoms wat in 2019 die waarborg vervang het, nietig te verklaar.

Trevo en Hamilton voer aan albei ooreenkomste moes art. 45 se vereistes nagekom het.

Steinhoff en sy finansiële krediteure, wat ook ’n respondent is, voer aan art. 45 is met die waarborg nagekom, maar nie met die tweede ooreenkoms nie omdat dit nie ’n nuwe ooreenkoms was nie.

Trevo en Hamilton was vir die grootste deel van Maandag en Dinsdag aan die woord in die hofsaak en Steinhoff moes Woensdagoggend sy vertoë voortsit.

Adv. André Smalberger SC, namens Steinhoff, het kort nadat hy sy vertoë begin het, aangedui hy wil die maatskappy se vrywillige reëling (CVA) met sy krediteure van 2019 om sy skuld te herstruktureer aan die regter verskaf.

Die betalingsonderneming is ingevolge die CVA aan sy finansiële krediteure verskaf.

Smalberger sê dit sal uiters benadelend wees as hulle nie die dokument kan indien nie.

456 miljoen is betrokke. Dit is ’n wesenlike bedrag; dit is belangrik om die feite te verstaan.”

Adv. Werner Lüderitz SC, wat vir Hamilton optree, sê hoe belangrik die hofsaak was, was nog altyd die geval, nie net van Woensdag af nie.

Lüderitz het na regspraak verwys oor betooghoofde wat die feite moet hanteer wat in eedsverklarings geopper is.

“Dit is nie aanvaarbaar of billik om hiermee gekonfronteer te word, dat ons moet raai wat hulle daarmee wil doen nie.

“Dit kom op die derde dag van die verhoor, nadat die applikante hul saak ten volle geargumenteer het op betooghoofde wat op eedsverklarings voorberei is.”

Adv. Michael Fitzgerald SC, namens die finansiële krediteure, het aangevoer die nuwe dokument het sy betooghoofde vergesel.

Hamilton ontken dit en sê hulle het eers Dinsdag om 19:00 die dokument, wat nie ’n openbare dokument was nie, te siene gekry.

Bozalek was verbaas om te hoor hoe grondliggend die dokument tot die saak is, wat hy nog nie eens gelees het nie.

Die applikante het tydens die verrigtinge aansoek gedoen vir ’n bevel dat die dokument ontoelaatbaar is, waarop Bozalek in hul guns besluit het.

Die respondente het daarna om uitstel gevra om ’n geleentheid te kry om aansoek te bring om die verdere bewyse in te dien.

Bozalek het dié uitstel toegestaan en gelas SIHPL moet die koste van die uitstel betaal, insluitend die koste van drie advokate.

Die aansoek om die verdere getuienis aan te hoor, gaan op 7 Junie aangehoor word en die partye sal onmiddellik daarna voortgaan met hul vertoë in die hoofsaak.

Hoekom is meer as R7,8 mjd. ter sprake?

Oorsese krediteure het ’n eis teen Steinhoff wat voortspruit uit die ooreenkomste wat Trevo en Hamilton nou wil laat nietig verklaar.

Steinhoff is besig met ’n skikking van eise teen hom en sy oorsese finansiële krediteure kan uiteindelik 465 miljoen (R7,8 miljard) ontvang of 100c uit die rand van wat hulle eis.

Daarteenoor kry eisers soos Trevo en Hamilton tussen 4c en 6,6c.

Nie Trevo of Hamilton is gelukkig met wat hulle aangebied word in die skikking wat Steinhoff ingevolge art. 155 van die Maatskappywet wil deurvoer nie.

As die aansoek suksesvol is, gaan dit die eis van die finansiële krediteure teen Steinhoff wat uit die waarborg voorspruit, tot niet maak.

Daar gaan dan meer geld in die pot wees om Suid-Afrikaanse partye wat eise teen Steinhoff ingestel het, insluitend Trevo – ’n onderneming van die oudhoof van Pepkor Pieter Erasmus – en die batebestuurders wat Hamilton verteenwoordig, meer skadevergoeding te betaal.

Volgens adv. Alasdair Sholto-Douglas SC, vir Trevo, het Trevo reeds die hof op ’n dringende grondslag genader omdat SIPHL se skikkingsproses begin het.

“Dit gaan ’n baie, baie werklike benadeling vir ons meebring, want hulle gaan intussen met die art. 155-skema voort en dit gaan op ’n punt kom wat hierdie aansoek nie meer van toepassing gaan wees nie. Die vertraging bring ’n benadeling in die lig van dié stroomtrein wat op ons afstorm.”

Bozalek het voor sy bevel Steinhoff se regspan gevra om van die maatskappy ’n onderneming te kry dat hy nie sal voortgaan met die art. 155-proses nie.

Smalberger sê Steinhoff kan nie so onderneming gee nie, maar kan wel sê na verwagting gaan ’n kennisgewing oor die art. 155-vergadering op 28 Junie uitgereik word vir ’n vergadering wat na verwagting op 28 Julie plaasvind, waar krediteure sal stem.

Dié saak is een van twee van Trevo en Hamilton wat vandeesweek aangehoor sou word en wat, indien dit suksesvol is, die potensiaal het om Steinhoff se huidige skikkingsvoorstel te ontspoor.

Meer oor:  Steinhoff  |  Bedrog  |  Markus Jooste  |  Sakeredding  |  Likwidasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.