Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff: Hamilton trek appèl terug

Die krediteuregroep Hamilton, wat kliënte van groot batebestuurders soos Allan Gray, Sanlam en Coronation verteenwoordig, het sy appèl teruggetrek teen ’n besluit van ’n Nederlandse hof oor Steinhoff.

Steinhoff probeer met krediteure skik, maar hofsake maak die proses moeiliker.

Dis ’n positiewe stap vorentoe vir Steinhoff, die internasionale meubelhandelaar wat sedert 2017 in ’n boekhouskandaal gedompel is.

Maar dit is net een van verskeie gelyklopende prosesse in Steinhoff se poging om verskeie eise teen hom af te handel.

Hamilton het aanvanklik appèl aangeteken teen ’n beslissing op 15 Junie deur die Amsterdamse distrikshof om teenversoeke van Hamilton van die hand te wys. In dié teenversoeke wou Hamilton alternatiewe maatreëls aanvra in die hersiening van eise en die stemproses rakende krediteure se eisproses teen Steinhoff.

Steinhoff het Woensdag sy aandeelhouers ingelig dat die Amsterdamse appèlhof hom ingelig het dat Hamilton die appèl teruggetrek het. Dit volg op die Amsterdamse appèlhof se beslissing op 29 Junie waarin hy ’n vorige appèl deur Hamilton teen ’n ander besluit van die hof op 28 Mei van die hand gewys het.

Dié appèl deur Hamilton was teen die hof se besluit om onder meer ’n verteenwoordigende komitee aan te stel.

Steinhoff is intussen steeds gewikkel in ’n plaaslike eisproses waarin hy die afgelope week juis ’n terugslag beleef het. Dit was toe die hooggeregshof in Kaapstad beslis het dat Steinhoff se betalingsooreenkoms met krediteure in 2019 nie aan die maatskappywet voldoen het nie.

Hamilton is ook hier ’n party in die saak.

Hamilton eis R14 miljard van Steinhoff weens die verliese wat beleggers sedert 2017 gely het toe Steinhoff se aandeelprys skouspelagtig ingetuimel het toe Markus Jooste, uitvoerende hoof, bedank het te midde van boekhoubedrog wat ontbloot is.

Intussen moes die Valke Dinsdag in die parlement aan gefrustreerde parlementslede toegee dat niemand nog strafregtelik aangekla en vervolg is oor die bedrog by Steinhoff nie. Volgens lt.genl. Godfrey Lebaya is daar nog uitstaande verklarings wat by getuies plaaslik en oorsee verkry moet word, asook bankstate by banke in die buiteland.

Steinhoff het Dinsdag aangevoer hy glo steeds ’n internasionale skikking is in die beste belang van alle partye, en die maatskappy gaan voort om alle stappe te doen om so ’n skikking te bereik.

Sy aandeelprys is tans sowat R1,45 en ontleders se konsensus op die Sharenet-makelaarsdiens is dat die aandeel ’n “koop” is.

Meer oor:  Steinhoff  |  Hamilton  |  Bedrog  |  Sakeredding  |  Meubelhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.