Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff: heroorweeg bonusse vra LP's
Ben la Grange. Foto: Verskaf

Heroorweeg die bonusse wat Steinhoff sy direksielede wil betaal, vra vier parlementêre komitees aan beleggers van die maatskappy.

Vier komitees het verlede week ’n gesamentlike sitting oor Steinhoff gehou om die jongste inligting te kry oor die verskillende ondersoeke wat beheerliggame na die gebeure by die maatskappy begin het.

Die vier komitees is die staande komitees oor finansies en oor openbare rekeninge; asook die portefeuljekomitees oor staatsdiens en administrasie en oor handel en nywerheid.

Tydens die sitting het LP’s baie kritiek gehad oor die bykomende betalings wat Steinhoff nou aan sekere lede van sy toesighoudende raad wil maak vir die harde werk wat hulle sedert Desember moes doen om die maatskappy te help red.

Netwerk24 het vroeër so daaroor berig: “Ons besef diegene wat in die direksie dien, is moontlik nie skuldig aan enige wandade nie en is geregtig daarop om vir hul dienste betaal te word.

“Maar gegewe die groot verlies wat baie mense gely het oor die ineenstorting van Steinhoff se aandeelprys, glo ons hierdie groot bonusse is onvanpas en grens aan uittarting.

“Ons doen ’n beroep op Steinhoff se aandeelhouers om die voorgestelde bonusse te heroorweeg,” het die voorsitters van die onderskeie komitees – Yunus Carrim, Themba Godi, Joan Fubbs en Minah Lesoma – gesê.

Die komitees het ook in ’n verklaring verwys na wat die Valke op die sitting gesê het dat die klagte wat teen Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof, ingedien is niks minder as “kwaadwillige nakoming (van die wet)” is nie en min substansie bevat.

Die saak is die aand voor die komitees se eerste sitting einde Januarie aanhangig gemaak.

“Ons vermoed Steinhoff het gejaag om die saak oop te maak omdat hulle voor ons komitees moes verskyn.”

Steinhoff se prokureur het dit egter ontken en gesê hulle werk saam met die Valke.

Die komitees het in die verklaring bevestig hulle het besluit om Jooste te dagvaar om voor hulle te verskyn.

Ben le Grange, voormalige finansiële hoof van Steinhoff, sal nog tien dae gegun word om te besluit of hy voor die komitees wil verskyn wanneer die volgende sitting in Augustus gehou word.

Andersins sal ook hy gedagvaar word om te verskyn.

Die komiteelede het ook kritiek uitgespreek omdat meer nie gedoen word deur die verskillende owerhede wat verlede Woensdag terugvoering gegee het oor die ondersoeke na Steinhoff nie.

Dit sluit in die JSE; die Raad op Finansiële Dienste (RFD), die registrateur van maatskappye oftewel die kommissie vir maatskappye en intellektuele eiendom (CIPC), en die Onafhanklike Regulerende Raad vir Ouditeure (Irba).

Die komiteelede het veral die RFD uitgesonder vir kritiek.

“Hoewel daar ’n mate van vordering gemaak is deur die regulerende liggame met hul ondersoeke na Steinhoff, voel ons meer moet en kan gedoen word, en vinniger, veral die RFD.”

Die volgende vergadering word in Augustus gehou wanneer die spertyd van die CIPC se nakomingskennisgewing aan Steinhoff eindig en dié maatskappy sekere vereistes moes nagekom het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.