Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff: Hof hoor hoe R300 m. binne dae 'verdwyn'
A company sign stands above the Steinhoff Internat
Steinhoff se hoofkantoor in Stellenbosch. Foto: Getty Images

Amper R300 miljoen wat binne twee dae “vermis” geraak het tussen die internasionale maatskappy Steinhoff N.V. en ’n Suid-Afrikaanse filiaal aan die begin van 2017 het Donderdag in die hooggeregshof in Kaapstad ter sprake gekom in ’n dringende aansoek om ’n tussentydse interdik te kry om die groep te keer om sy beherende belang in Pepkor te verkoop.

Die aansoek is gebring deur die vyf applikante wat Tekkie Town aan Steinhoff verkoop het en in 2018 ’n eis teen die maatskappy ingestel het om hul onderneming terug te kry.

Hulle het die aansoek gebring nadat Steinhoff onlangs meer detail bekendgemaak het oor die omvang van die gekonkel met sy boeke na ’n forensiese ondersoek daaroor afgehandel is en die agt hoofverdagtes in die parlement bekendgemaak is insluitende die beweerde baasbrein Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van die groep.

Die dringende aansoek is gebring omdat Steinhoff na dié onthullings skielik van sy belange in Suid-Afrika begin verkoop het.

“Die interdik word gebring om bates te bewaar,” sê adv. Deon Irish SC, wat namens die applikante optree.

Irish sê Steinhoff verkoop Suid-Afrikaanse bates om Europese skuld te betaal.

“Kom ons noem dit nou maar wat dit is, wat gebeur in Europa is ’n private likwidasie van Steinhoff. Hulle verkoop bates, en verkoop dit vir kontant. Die rede? Om krediteure te betaal. Hulle verkoop die kroonjuwele om die krediteure stil te hou,” sê hy.

Irish het na die string transaksies verwys wat begin 2017 plaasgevind het toe Tekkie Town van een filiaal van Steinhoff na ’n ander oorgedra is. Dit is omdat Steinhoff in sy verdediging aangevoer het hy is nie die beherende eienaar van Pepkor nie, maar sy Suid-Afrikaanse filiaal Ainsley Holdings is en die interdik moes teen hom gebring word.

Steinhoff het Tekkie Town laat in 2016 vir R3,3 miljard verkry.

Irish sê teen die tyd wat die Tekkie Town-aandele begin Februarie na die Suid-Afrikaanse filiaal Steinhoff Investment Holdings (SIH) oorgedra is, was dit op R2,9 miljoen gewaardeer na aanleiding van aandele wat SIH daarvoor aan Steinhoff uitgereik het.

Die Tekkie Town-aandele is daarna in nog transaksies deur nog filiale oorgedra tot dit uiteindelik in Pepkor op geëindig het. Die aandele is aan Pepkor teen R3,39 miljard oorgedra.

Irish het na die transaksies verwys om die punt te maak dat dit nooit werklike transaksies was waar onafhanklike direksies probeer bepaal het wat die werklike waarde van die aandele was nie want dan sou daar vrae gewees het oor die verskille in waardasies. “Dit is ’n klug,” sê hy.

In sy funderende eedsverklaring het Bernard Mostert namens die applikante aangevoer die reeks oordragte van die Tekkie Town-aandele is waarskynlik soortgelyk aan die doolhof van bedrieglike transaksies wat Steinhoff onlangs onthul het.

Irish meen dit is iets waarna PwC, wat die forensiese ondersoek oor Steinhoff se boeke gedoen het, behoort te kyk. “Dit was nie bona fide transaksies wat op ’n armlengte plaasgevind het nie, dit was bedrieglike transaksies wat van die begin af deur die mense betrokke Jooste en (Ben) La Grange (voormalige finansiële hoof van Steinhoff) beplan is.”

Hy sê dit is kwessies wat met die hoofeis se verhoor uitgepluis moet word.

Adv. Alasdair Sholto-Douglas SC, Pepkor se regsverteenwoordiger, sê daar is ’n verduideliking vir die amper R300 miljoen wat die applikante aanvoer tussen die transaksies vermis geraak het. Hy wou egter nie die verduideliking met die hof deel nie omdat die applikante nie die respondente ’n geleentheid gebied het om dit te hanteer nie.

Steinhoff is deur adv. André Smalberger SC en adv. Rob Patrick verteenwoordig. Smalberger het aangevoer Ainsley Holdings moet ’n respondent wees omdat dit gaan oor prosedurele wetgewing. “Die hele kwessie oor die maatskappy-gordyn wat gelig moet word, is bloot daar om die probleem te korrigeer dat die korrekte partye nie voor u is nie.”

Adv. Willie Duminy SC en advokaat Dale Lubbe het ook die vyf applikante verteenwoordig.

Duminy het aangevoer die “maatskappy-gordyn moet gelig word” omdat die aansoek met korporatiewe aksie verband hou en nie met normale handeldrywing nie

Daarom moet bepaal word wie die beheer oor die korporatiewe aksies het, naamlik Steinhoff.

Duminy sê Steinhoff wil die party teen wie die interdik gebring moet word verskuif maar dan is dit soos in die speletjie waar die ertjie onder die drie koppies gesoek moet word. Hy sê Steinhoff se huidige bestuur verstaan soms self nie eers die maatskappystruktuur nie.

“Môre is dit (die eienaar) nie meer daar waar ons vandag die ertjie sien nie.”

Smalberger het aangevoer dit is ’n “drastiese en drakoniese” bevel wat gesoek word teen Steinhoff dat hy nie sy aandele in Pepkor kan verkoop nie. Hy het gevra die saak moet afgewys word.

“Maar indien die bevel toegestaan word, gaan dit drastiese gevolge hê vir die maatskappy en kan dit ’n wesenlike verlies van poste beteken.”

Duminy meen die impak van die bevel word erg oordryf om dit drakonies te noem.

Hy sê hulle vra net vir Steinhoff om nie in die aandele van enige filiaal of regspersoon op so manier handel te dryf dat hy beheer verloor oor Pepkor nie en dit die applikante verhoed om te kry waaroor hul hoofeis gaan nie.

“Hoekom is dit ’n drastiese bevel? Hulle verduidelik nie.”

Hy het aangevoer dit gaan geen ander deel van die onderneming beïnvloed nie.

Pepkor is deur adv. Alasdair Sholto-Douglas SC verteenwoordig wat aanvoer dit is “ongewoon in ’n aansoek soos die om nie dit te bring teen ’n party (Pepkor) wat nie deel van die hoofeis is nie.”

Hy sê daar is geen gronde vir die aansoek nie.

Regter Nathan Erasmus het beloof om Vrydag ’n bevel uit te reik.

Meer oor:  Markus Jooste  |  Hofsaak  |  Steinhoff-Skandaal  |  Bedrog  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.