Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff hoop om vanjaar R200 mjd. se eise te skik

Die eise teen Steinhoff het in die afgelope maande tot bykans R200 miljard aangegroei, maar die maatskappy is hoopvol om nog in die kalenderjaar met eisers te skik.

Steinhoff het al 'n lang lys van regseise teen hom wat altesaam amper R200 miljard beloop.

Die maatskappy het sowat ’n jaar gelede aangekondig die volgende stap nadat hy die herstrukturering van sy skuld afgehandel het, is om ’n ooreenkoms oor al die regsgedinge teen hom aan te gaan.

Theodore de Klerk, finansiële direkteur van Steinhoff, sê op groepvlak beloop die skuld van die groep 9,5 miljard.

Die groep het dit onder sy aandeelhouers se aandag gebring dat sy laste sy bates oorskry, en boonop hou die regseise ’n wesenlike risiko in.

Volgens De Klerk is daar vordering gemaak in die afgelope maande.

“Ons is in gesprek met al die litigante. Ons glo jy moet ’n oplossing kry vir almal op dieselfde tyd, want jy kan nie met een skik en nie met die ander nie. Alles kom uit dieselfde poel van bates. Daarom moet dit alles gelyktydig geskik word.

“Dit sal ’n groot stap wees vir die maatskappy,

maar dit is nie maklik nie, want dit is in drie lande en oor ’n klomp maatskappye heen. Daar is ook verskillende tipes gedinge, soos kontraktuele litigasie en klasaksies.”

“Ons is natuurlik ook in gesprek met die Christo Wieses, GT Ferreira’s en Tekkie Towns van die wêreld.”

Dit is in verwysing na Wiese, voormalige grootste aandeelhouer en voorsitter, die Stellenbosse bankier GT Ferreira wat ook ’n eis ingestel het, en die voormalige eienaars van Tekkie Town wat die belang in hul onderneming wil terugkry.

De Klerk het verwys na die inligting oor die hofsake wat etlike bladsye in die jaarverslag beslaan.

“Dit gaan jare neem om deur die hof te gaan en is verskriklik ingewikkeld. Hopelik kan ons tot ’n vergelyk kom met die litigante.”

Die twee groot verweerders in die sake is die Nederlandse maatskappy Steinhoff N.V. en die ou Steinhoff International Holdings Eiendoms Beperk (SIHPL) wat in Suid-Afrika genoteer was voordat Steinhoff oorsee genoteer is.

Almal wat voorheen ’n verhouding met SIHPL gehad het, het eise in Suid-Afrika ingestel en die res in Nederland, en sommiges in albei.

’n Nederlandse klasaksie onder die firma Hamilton is ook onlangs na Suid-Afrika gebring om sy eis teen SIHPL van R14 miljard in te stel.

* Wiese het Woensdag by navraag oor of hy hoopvol is dat daar buite ’n hof ’n oplossing gekry sal word, gesê hy is wel, want dit is die enigste sinvolle oplossing.

“Ek het dit reeds twee en ’n half jaar gelede, toe ons die dagvaarding teen Steinhoff uitgereik het, gesê, en dit is op rekord en daar is al daaroor berig; die enigste manier om die gemors by te lê is om vir almal om ’n tafel te sit en ’n skikking te bereik. Ons het dit toe gesê en ons standpunt bly dieselfde.”

Meer oor:  Steinhoff  |  Tekkie Town  |  Christo Wiese  |  Gt Ferreira  |  Skikking  |  Hofsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.