Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff: Jagplase en kontrakte vir pelle

’n Eiendom in Portugal wat by ’n filiaal gekoop is ten einde “goue visums” vir direkteure, topbestuurders en hul gesinne te kry; eiendomme wat “uitsluitlik vir jag” gebruik is; en ’n lening aan Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof, se beleggingsmaatskappy word in Steinhoff se jongste jaarstate onthul.

   

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff.

Die lys van verwante partye in dié jaarstate is bladsye lank nadat dit voorheen skaars ’n halfblad beslaan het. Steinhoff het daarop gefokus om verwante partye te identifiseer en korrek in die jaarstate aan te dui.

Die besturende direksie het sekere transaksies geïdentifiseer wat nie teen markwaarde plaasgevind het nie. Die herwinbaarheid van die lenings en bates is ondersoek. Waar daar nie sekuriteit vir die lenings is nie of waar daar onvoldoende inligting is om te bepaal of dit herwinbaar is, het die direksie besluit om die bates af te skryf.

Baie van die ernstiger transaksies, soos met Campion en Talgarth, het tot groot afskrywings gelei.

Ander transaksies met die lang lys verwante partye laat ook die oë rek omdat dit toon hoe vrot die korporatiewe beheer in Steinhoff was:

  

1. Lening aan Jooste se beleggingsvoertuig

  

Kragtens die Nederlandse kode oor korporatiewe beheer mag Steinhoff nie aan sy besturende direksie enige persoonlike lenings, waarborge of iets soortgelyk gee nie, behalwe as dit in die normale verloop van sake is of kragtens voorwaardes wat vir die hele personeel geld.

Dit moet ook eers deur die toesighoudende direksie goedgekeur word. Geen kwytskelding van lenings mag toegestaan word nie.

Nogtans het die Nederlandse maatskappy Hachmer Beheer BV – ’n filiaal van die maatskappy Habufa tot 29 Desember 2016 – op 6 Desember 2016 ’n lening van R934,6 miljoen aan Mayfair Holdings gegee. In dié stadium het Steinhoff 50% van Habufa gehou. Die uiteindelike aandeelhouer van Mayfair is ’n familietrust van Jooste.

Luidens die jaarstate is dit nie duidelik of enige geld kragtens die ooreenkoms oorgedra is nie. Dit is onderhewig aan verdere ondersoek.

Lees ook: Markus Jooste betaal self bonus van R33 m. vroeg

’n Leningsooreenkoms is ook tussen Hachmer en Formal Holdings gesluit. Formal Holdings word beskryf as ’n maatskappy wat geaffilieer is met ’n sakevennoot van Jooste.

Die sakevennoot se naam word nie in die jaarstate genoem nie, maar dit is vermoedelik Malcolm King, wat as ’n vriend van Jooste beskryf word.

Die belegging in Hachmer is in Desember 2016 terugverkoop aan Holding van den Bosch BV, Steinhoff se gesamentlike vennoot in Habufa.

Mayfair Speculators, ’n filiaal van Mayfair, het op 10 November 2017 die leningsverpligtinge teenoor Hachmer oorgeneem.

Die bestuur van Hachmer het nie ’n lening erken toe dit toegestaan is nie omdat geen kontant deur Hachmer gevloei het nie. Omdat Hachmer ’n verwante party van Steinhoff was toe die lening na bewering verskaf is, is die transaksie nou geopenbaar.

  

2. Eiendom in Portugal

  

In weerwil van ’n vereiste van die Nederlandse kode oor korporatiewe beheer dat ’n besturende direksielid nie enige voordeel sal trek uit ’n sakegeleentheid waarop die maatskappy geregtig is nie, het “verskeie voormalige besturende direkteure en verskeie ander voormalige senior bestuurders” ’n eiendom in Portugal van Conforama, ’n filiaal van Steinhoff, gekoop.

“Dit is gedoen sodat hulle sogenaamde goue visums vir hulle en hul gesinne kon kry,” lui die jaarverslag.

Portugal se goue-visum-program behels dat ’n belegging van 500 000 in eiendom in Portugal ’n verblyfpermit vir ’n gesin, insluitend afhanklike kinders, waarborg.

Dit is gedoen sodat hulle sogenaamde goue visums vir hulle en hul gesinne kon kry.

Die transaksie het op 13 Desember 2016 plaasgevind. Conforama het 7 miljoen vir die eiendom ontvang; naastenby die netto boekwaarde van die eiendom ten tyde van die transaksie.

Daarna het Conforama ’n kleinhandelshuurooreenkoms met die nuwe eienaars gesluit. “Die huurgeld word as laer as markwaarde beskou, tot voordeel van Conforama.”

Die kode vereis dat die toesighoudende direksie transaksies moet goedkeur waar daar ’n wesenlike belangebotsing met ’n besturende direkteur is en dit moet in die jaarverslag aangedui word.

Dit blyk dat die toesighoudende direksie nog die Mayfair-lening, nog die Portugese transaksie, goedgekeur het. Dit sal verder ondersoek word.

Die kode vereis ook dat ’n besturende direkteur onmiddellik ’n belangebotsing moet aanmeld aan die voorsitter van die toesighoudende direksie en/of die ander lede van die besturende direksie.

“Dit blyk uit die notules van die toesighoudende direksie dat nie enige besturende direkteur betrokke by dié transaksies hul potensiële belangebotsing geopenbaar het nie. Dit sal verder ondersoek word.”

  

3. Die jagplase

   

In die 2017-boekjaar het Steinhoff ’n filiaal, Delta Properties, aan Steinhoff Familienholding GmbH verkoop, wat aan die familie van Bruno Steinhoff en sy dogter Angela Kruger-Steinhoff behoort.

Bruno was in daardie stadium nog ’n toesighoudende direkteur en Angela is steeds ’n direkteur.

Delta Properties is vir 2,7 miljoen aan Steinhoff Familienholding verkoop. Luidens die verslag het Jooste en Dirk Schreiber, nog ’n senior bestuurder, Bruno genader met die versoek om Delta Properties te koop.

Die transaksie het in Junie 2017 plaasgevind.

Delta Properties besit talle eiendomme wat hoofsaaklik vir jagdoeleindes gebruik word.

Dit wil voorkom uit notules of die belangebotsing nie aangemeld of deur die toesighoudende direksie goedgekeur is nie. Die saak sal verder ondersoek word.

  

4. Die vliegtuie

    

MJD Aviation Partnership Services, waarin Jooste en Danie van der Merwe, tot onlangs ’n besturende direksielid van Steinhoff, vennote is, het dienste aan die groep gebied. Dié transaksie is in 2016 se jaarstate geopenbaar.

  

5. Kontrakte vir vriende

  

Formal Investments, ’n maatskappy wat noue bande het met ’n sakevennoot van Jooste (vermoedelik King), bestuur van die groep se Britse eiendomme in ruil vir ’n agentekommissie wat tot 10% van die huur beloop.

Die bedrag word luidens die jaarstate nie as wesenlik vir die groep beskou nie. Dit het in die 2017-boekjaar 6 miljoen beloop en nog 1 miljoen is aan Formal verskuldig.

Steinhoff het kennis gegee dat die kontrak beëindig gaan word.

 

6. Verwante partye

   

Steinhoff het sewe entiteite wat aan Jooste of nabye familielede behoort, geïdentifiseer as “wesenlik verwante partye” aan Steinhoff met wie transaksies gesluit is.

Dit sluit in die Mayfair-maatskappye asook Lodestone Brands, ’n maatskappy wat onregstreeks deur Jooste beheer word.

Lodestone – wat ’n vervaardiger van lekkergoed in sy stal het wat lekkers in Pepkor se winkels verkoop – se aankope beloop sowat 3 miljoen per jaar.

Ander entiteite is geïdentifiseer met wie Jooste en sy nabye familie ’n regstreekse of onregstreekse of spesiale verhouding het. Dit sluit in:

  • Upington Investments (waarin hy en ander besturende direkteure ’n 10%-belang hou);
  • Kluh Investments, ’n filiaal van Fihag Finanz und Handels Aktiengesellschaft;
  • Erfvest Properties; en
  • The Brood. 

Fihag is een van die vier groepe maatskappye wat volgens die forensiese ondersoek betrokke was by transaksies met Steinhoff waar ongerymdhede glo plaasgevind het.

  

7. Suid-Afrikaanse eiendomme

  

In 2007 is sekere transaksies met eiendomme van Steinhoff in Suid-Afrika gedoen met Erfvest Properties en The Brood. Daar kon ’n belangebotsing met die Steinhoff-bestuur gewees het en dit is nie voorheen geopenbaar nie.

Dit was nie nodig om vir vorige tydperke wesenlike aanpassings aan syfers te maak as gevolg van dié transaksies nie, lui die verslag.

Meer oor:  Steinhoff  |  Deloitte  |  Pwc  |  Danie Van Der Merwe  |  Markus Jooste  |  Portugal  |  Visums  |  Bedrog  |  Jaarverslag  |  Meubelhandel  |  Kleinhandelaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.