Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Wie is verryk? Só antwoord Steinhoff
Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff.

Aandeelhouers het Steinhoff Vrydag op sy algemene jaarvergadering oorval met vrae oor hoekom die forensiese ondersoek oor sy boeke geheim gehou word.

’n Verteenwoordiger van 'n aandeelhouer het gesê dit maak dit moeilik om te weet of enige van die agt hoofverdagtes wat Steinhoff in die parlement geïdentifiseer het, hulself verryk het deur die transaksies waaroor in die opsomming oor die forensiese verslag uitgewei word.

“Ons weet steeds nie wat wanneer gebeur het en of hulle hulself verryk het nie.”

Jasper Jansen van die regsfirma VEB, wat ’n groepsgeding teen Steinhoff begin het, het gesê hy het alles gelees wat hy kan oor wat Steinhoff oor die forensiese verslag sê “en nêrens lees ek dat individue hulself verryk het in die verdagte transaksies nie”.

Hy wou weet hoekom dit ook nie in die opsomming van die forensiese verslag gesê is nie.

Dit was Steinhoff se tweede jaarvergadering sedert die bom oor boekhoubedrog in Desember 2017 gebars het, en die eerste sedert die opsomming van die forensiese verslag uitgereik is.

Louis du Preez, uitvoerende hoof van Steinhoff, het geantwoord: “Ten opsigte van of mense hulself verryk het, soos in die media gelees is, is daar regsgedinge teen lede van die vorige bestuursdireksie begin.”

Dis ’n verwysing na ’n eis wat in Junie gebring is teen onder andere Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof, en Ben la Grange, voormalige finansiële hoof, in die hooggeregshof in Kaapstad om hul vergoeding van die afgelope jare terug te eis.

Armand Kersten, ook van VEB, het gesê selfs nadat die jaarstate en die opsomming van die forensiese verslag uitgereik is, is daar “baie vrae”: “Ons het ’n oorvloed van vrae.”

Ons weet steeds nie wat wanneer gebeur het en of hulle hulself verryk het nie.
Steinhoff-aandeelhouers

Heather Sonn, voorsitter, het gesê die manier waarop die vrae gevra word oor hoekom die forensiese verslag nie uitgereik word nie, laat dit klink of daar iets “sinisters” aangaan. Sy het beklemtoon daar is niks “sinisters” aan die gang deur nie die verslag uit te reik nie.

“Dit is nie ’n poging om persoonlike belange te beskerm nie.”

Die jaarvergadering, wat in Nederland plaasvind, het begin met voorleggings deur talle direkteure. Dis ook in Kaapstad uitgesaai.

Deloitte, Steinhoff se eksterne ouditeur, het ook ’n voorlegging oor sy ouditmening oor die 2017- en 2018-jaarstate gedoen.

Ná ’n uur en ’n half op die vergadering kon aandeelhouers vrae vra. Die meeste vrae het oor die forensiese verslag gehandel.

Aandeelhouers wou ook weet of die maatskappy nou seker is dat almal wat by die ongerymdhede met die boeke betrokke was, geïdentifiseer is en of meer mense geïdentifiseer kan word.

Du Preez het daarop gesê weens Europese wetgewing is hul hande gebind om nog name bekend te maak. Hy het gesê die agt name is in die parlement bekend gemaak omdat die maatskappy ingevolge wetgewing gedwing was om dit te doen.

“Het ons almal geïdentifiseer? Dit is hoekom ons besig is met verdere ondersoeke en hoekom ons nog stappe doen.”

Hy het verwys na ’n eis wat teen Top Global gebring is in Oostenryk, soos Netwerk24 onlangs berig het.

Meer oor:  Steinhoff  |  Heather Sonn  |  Markus Jooste  |  Steinhoff-Skandaal  |  Maatskappye  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.