Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff kos Investec R220 m.

Die Steinhoff-skandaal het Investec R220 miljoen in die huidige boekjaar uit die sak gejaag.

Dit is volgens die bank se resultate vir die jaar tot einde Maart wat hy Donderdag op die JSE se nuusdiens Sens gepubliseer het.

Investec sê dit is minder as die 3% van sy bedryfswins ná belasting wat hy in Desember gewaarsku het die impak kon wees.

Die bank wys daarop sy blootstelling is hoofsaaklik aan Steinhoff Africa se filiale en hy het dus, buiten vir aandeelhouding, nie ’n groot blootstelling aan Steinhoff International gehad nie.

“Die groep verwag nie, gegrond op inligting wat tans beskikbaar is, dat Investec enige verliese weens hierdie blootstelling gaan ly nie,” sê die bank in die verklaring.

Die bank sê hy het ondanks uitdagende ekonomiese omstandighede in Brittanje en Suid-Afrika goed presteer.

Investec doen sy verslaggewing in Britse pond aangesien sy primêre notering in Londen is.

Sy bedryfswins vir die jaar voor belasting het met 1,4% tot £608 miljoen gestyg. Aangepaste verdienste per aandeel het teenoor ’n jaar tevore met 10,2% tot 53 pennies gestyg.

Bedryfsprestasie gedurende die jaar is deur goeie groei in lenings en fondse onder bestuur gesteun.

Basiese verdienste per aandeel is 0,8% hoër op 23 pennies.

Kernlenings en voorskotte het met 11,6% tot £24,8 miljard gestyg terwyl kliëntedeposito’s met 6,5% tot £31 miljard gestyg het.

’n Finale dividend van 13,5 pennies per gewone aandeel is verklaar.

Dit beteken ’n voljaar-dividend van 24 pennies word betaal. Dit is ’n styging van 4,3% teenoor die vorige jaar.

“Bedryfsprestasie gedurende die jaar is deur goeie groei in lenings en fondse onder bestuur gesteun. Dit is ondanks die uitdagende bedryfsomgewing in Suid-Afrika en Brittanje,” sê Stephen Koseff, uitvoerende hoof van Investec, in die verklaring.

Koseff word in Oktober deur Hendrik du Toit en Fani Titi as gesamentlike uitvoerende hoofde by die bank vervang.

“Ons is vol vertroue dat Du Toit en Titi Investec tot nuwe hoogtes en tot voordeel van al ons aandeelhouers sal lei,” sê Bernard Kantor, besturende direkteur van die bank in die verklaring.

Net nadat verhandeling op die JSE begin het, het Investec se aandeleprys met meer as 2% tot R95,91 gedaal.

Meer oor:  Investec  |  Steinhoff  |  Verdienste  |  Markus Jooste  |  Wins  |  Jaarverslag  |  Steinhoff-Skandaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.