Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff kry duur opstopper in hof

Steinhoff het sy hofsaak verloor om die 12 eise teen die groep, wat miljarde rand beloop, te laat konsolideer sodat dit saam aangehoor kan word.

Christo Wiese, billionaire and chairman of Steinho
Christo Wiese is een van tientalle eisers teen Steinhoff. Foto: Getty Images

Die aansoek is begin Februarie in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor in ’n hofsaal waar die respondente deur omtrent 20 advokate teenwoordig was.

Die aansoek is met koste afgewys. Die koste sluit in tot drie advokate per respondent.

Van die eisers teen Steinhoff in Suid-Afrika sluit in entiteite verwant aan bekende sakelui soos Christo Wiese, voorheen voorsitter en grootste aandeelhouer van Steinhoff en Pepkor, GT Ferreira, een van die stigterslede van FirstRand, Jaap du Toit, ’n stigterslid van PSG, Pieter Erasmus, ’n voormalige uitvoerende hoof van Pepkor, en Braam van Huyssteen, wat Tekkie Town begin het.

LEES OOK: Beroering toe Steinhoff ontken hy is ‘boosdoener’

Die uitspraak is Donderdag deur regter Mokgoatji Dolamo gegee.

Die saak het 32 respondente gehad. Behalwe vir Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, en Ben La Grange, voormalige finansiële hoof, wat aangedui het hulle sal by die besluit berus, het al die respondente die aansoek teengestaan en aangevoer dit gaan hul onderskeie sake benadeel as die verskillende sake saamgegooi word.

LEES OOK: Steinhoff nie ‘vis-en-tjip-winkel’ op die hoek

Die finansiële wêreld is Desember 2017 geskok deur onthullings oor ongerymdhede by Steinhoff wat daartoe gelei het dat sy finansiële state vir verskeie boekjare verkeerd was. Die onthulling het sy aandeelprys in duie laat stort en beleggers het miljarde rande verloor.

Steinhoff het daarna ’n forensiese ondersoek oor die ongerymdhede uitgevoer.

Nadat die bevindinge daaroor uitgereik is, het die partye altesame 12 hofsake teen Steinhoff begin.

Steinhoff het die aansoek gebring om die sake te konsolideer en het aangevoer die goue draad wat alles verbind, is dat die partye aangevoer het daar het wanvoorstellings van wesenlike feite plaasgevind wat hulle oortuig het om op ’n manier op te tree wat tot nadeel van hul belange was, en dat hulle nie so sou opgetree het as hulle die werklikheid geweet het nie.

Dolamo het onder meer gevind dit is nog te vroeg om die vraag te antwoord of ’n konsolidasie lewensvatbaar is.

Drie Steinhoff-maatskappye was applikante in die aansoek.

Hy sê die applikante se vertoë toon duidelik dat hulle onder die verkeerde indruk is dat al die hofsake op dieselfde tyd gereed gaan wees vir ’n verhoor.

’n Regter is aangestel om die sake te bestuur.

Dolamo glo eers wanneer die sake datums gekry het vir verhore, is dit realisties tyd om ’n konsolidasie te oorweeg van almal of sommige.

“Dit sal nie in dié stadium gerieflik wees om al die sake te konsolideer nie. Enige kostebesparing, wat voorkom of dit die enigste voordeel van die konsolidasie gaan wees, sal na my mening net tot voordeel van die applikante wees en die respondente gaan wesenlik benadeel word.”

Hy het verwys na ’n hofuitspraak wat bevind het dat die vraag of ’n party benadeel gaan word, eers relevant raak wanneer die hof van mening is dat dit gerieflik gaan wees om die sake te konsolideer.

“Daarom dink ek dis onnodig om in detail te verduidelik hoe die respondente benadeel gaan word, behalwe om te sê dat die konsolidasie daartoe gaan lei dat die respondente in lang verhore vasgevang gaan word waar die getuienis wat gelewer gaan word, onverwant is aan die individuele respondente se sake.

“Dit gaan baie duur vir die respondente wees. Konsolidasie sal dus nie in dié geval tot gerief lei nie.”

Dolamo het gesê hy is tevrede, gegewe die volume dokumente wat deel van die rekord was en die belang van die aangeleentheid vir die partye, is dit regverdig om drie advokate te gehad het.

Meer oor:  Steinhoff  |  Pepkor  |  Christo Wiese  |  Markus Jooste  |  Meubelhandel  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.