Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff kry R7,3 mjd. uit Pepkor-aandele

Steinhoff, wat die beherende aandeelhouer in Pepkor is, het in ’n versnelde plasing van aandele 370 miljoen aandele wat hy van die winkelgroep hou, teen ’n afslag verkoop.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff.

Die aandele is vir R7,3 miljard verkoop. Dit is teen ’n 9%-afslag van die sluitingsprys voordat die plasing gedoen is, teen R19,75 per aandeel verkoop.

Steinhoff het die plasing Maandagaand nadat die mark gesluit het, aangekondig.

Pepkor se aandeelprys het Maandag op R21,71 gesluit. Dit het Dinsdag teen middagete met 7,9% tot R20 gedaal.

Die aandele wat geplaas is, het 9,9% van Pepkor se uitgereikte aandele voor die plasing verteenwoordig.

Die opbrengs uit die aandele wat verkoop word, gaan vir die finansiering van die internasionale skikking aangewend word waarmee Steinhoff besig is en reeds goedkeuring van verskillende groepe krediteure gekry het.

Die howe in Suid-Afrika en Nederland moet dit nog goedkeur.

Steinhoff het voor die plasing 68,2% van die uitgereikte aandele van Pepkor gehou.

Sekere eisers wat aan die skikking deelgeneem het, het verkies om ’n gedeelte van die skikkingsbedrag in Pepkor-aandele te ontvang. Die getal Pepkor-aandele wat aan eisers versprei gaan word wanneer die internasionale skikking afgehandel is, beloop sowat 300 miljoen.

Ná die plasing en die verspreiding van die Pepkor-aandele aan eisers, gaan Steinhoff nagenoeg 50,1% van die uitgereikte aandele van Pepkor hou.

Die plasing het die vrylik verhandelbare aandele van Pepkor van 31,8% tot 41,7% verhoog. Dit is voordat die aandele aan eisers versprei gaan word.

“Steinhoff beskou Pepkor steeds as ’n strategiese belegging, maar sal die plasing doen in ooreenstemming met die doel om die skikkingsvoorstel se implementering te bewerkstellig.”

Die plasing is aan gekwalifiseerde beleggers aangebied en nie aan die publiek nie. Dit is beleggers wat ’n minimum van R1 miljoen kan belê.

Dit is deur Goldman Sachs International en Investec Bank uitgevoer.

Pepkor se aandeelprys was op 31 Augustus R23,02, wat volgens die inligting van Iress die hoogste is sedert einde 2017 toe Steinhoff se aandeelprys ineengestort het.

Meer oor:  Steinhoff  |  Pepkor  |  Skikkingsooreenkoms  |  Meubelhandel  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.