Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff maak voorsiening vir skikking in state

Die Steinhoff-groep het in die halfjaar tot einde Maart voorsiening gemaak vir die voorgestelde skikkingsooreenkoms wat die afgelope week aan aandeelhouers aangebied is vir skadevergoeding.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff.

Steinhoff het Donderdag sy jongste resultate uitgereik vir die halfjaar en is nou op datum met al sy resultate.

Die voorsiening vir die skikkingsooreenkoms van 882 miljoen is onder ander uitgawes ingesluit.

Sy ander uitgawes het gevolglik van 44 miljoen tot meer as 1 miljard gestyg.

Dit het bygedra tot die bedryfsverlies van 681 miljoen vergeleke met ’n bedryfswins van 262 miljoen in die ooreenstemmende halfjaar.

Sy nabelaste verlies uit voortgesette bedrywighede het 1,4 miljard beloop vergeleke met 306 miljoen die vorige jaar.

Ingesluit in die ander uitgawes is die koste wat met die herstruktureringsproses verband hou en al die adviseurs wat betaal moet word om hom te help met regsgedinge en herstrukturering, asook die forensiese ondersoek wat voortduur.

Dié koste het 58 miljoen beloop – wat laer is as die vorige halfjaar se 82 miljoen, maar steeds wesenlik is.

Steinhoff is nou ’n baie skraler maatskappy met ’n kleiner maatskappystruktuur.

Sedert Januarie 2018 is die besturende direksielede van vyf na twee verminder en die toesighoudende direksie is van agt tot sewe verminder.

Die personeel in die groep se sentrale dienste het ook van 350 tot 85 verminder. Die groep se hoofkantoor is op Stellenbosch.

Netwerk24 het al September verlede jaar berig oor die meer as 200 personeel wat weg is by Steinhoff.

LEES OOK: Steinhoff: Meer as 200 waai sedert ondersoek begin

Die groep sê regsadvies gaan nog lank ’n wesenlike deel van die resultate bly namate die groep regsgedinge teen hom probeer oplos en vergoeding van voormalige bestuur en verwante partye probeer kry.

Die groep sê oor die verdere ondersoek wat PwC doen nadat sy forensiese verslag al verlede jaar uitgereik is ná die afhandeling van sy vorige ondersoek, dat dit nie wesenlik gaan wees vir sy finansies nie, maar dat dit om ander redes belangrik is. Dit sluit in die vergoeding wat van vorige bestuur en verwante partye gesoek word.

Die hofgedinge wat teen voormalige lede van die bestuurspan gebring is, is ’n eerste stap in die proses.

’n Eis is ook teen die maatskappy Top Global ingestel, ’n entiteit wat aan die Talgarth-groep verwant is, en teen Mayfair Speculators, ’n maatskappy wat aan Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof, gekoppel is.

Netwerk24 het onlangs berig oor die eis wat in Desember teen Jooste se Mayfair gebring is.

LEES OOK: Steinhoff bring eis teen Markus Jooste se Mayfair

Die groep se netto skuld het einde Maart 9,7 miljard beloop. Dit is sowat 100 miljoen hoër onder meer omdat rente verhoog het op sy skuld ná ’n herstrukturing.

Die finansieringskoste het tot 698 miljoen verhoog (in die ooreenstemmende halfjaar was dit 482 miljoen).

Dit hou verband met die verhoogde rente op lenings nadat die herstruktureringsooreenkoms met skuldeisers in Desember 2018 in werking getree het asook die internasionale rekenkundige standaard oor huur wat in werking getree het.

Die besturende direksie het weer beleggers se aandag daarop gevestig dat die groep se aanspreeklikhede meer as sy bates is en dat daar wesenlike onsekerheid is oor die groep se voortbestaan.

Meer oor:  Steinhoff  |  Pepkor  |  Forensiese Ondersoek  |  Meubelhandel  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.