Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff maan likwidasie dreig sou skikking misluk
The headquarters of Steinhoff International Holdin
Die hoofkantoor van Steinhoff in Stellenbosch. Foto: Getty Images

As die skikking wat Steinhoff einde Julie voorgelê het aan partye wat hom hof toe sleep, nie aanvaar word nie, sal die maatskappy dit moet oorweeg om aansoek te doen om likwidasie.

Die eise spruit uit die ineenstorting van sy aandeelprys nadat ongerymdhede met sy boeke aan die lig gekom het.

Aandeelhouers eis meer as 7 miljard in verskeie regsgedinge teen Steinhoff. Dit behels net die eise waarvan die omvang reeds vasgestel is.

Louis du Preez, uitvoerende hoof van Steinhoff, het Vrydag op die jaarvergadering ook lig gewerp op die tydsduur waarin die groep die skikking wil afhandel. Hiervolgens kan aandeelhouers wat eise teen die maatskappy ingestel het, dalk al teen Maart ’n aanvanklike betaling kry.

Du Preez sê Steinhoff wil die onderhandelinge binne vier tot ses weke afhandel; dus teen middel September. Daar word al vier weke lank onderhandel en die onderhandelinge duur voort.

Daarna wil hy die proses binne vier tot ses maande afhandel.

Du Preez sê die groep kan nie meer aanbied nie.

“Die realiteit is dat die groep se finansiële posisie weens die Covid-19-krisis agteruitgegaan het. Vir die doeleindes van die skikking is veral twee goed belangrik – eerstens het die wisselkoers die afgelope maande wesenlik teen die rand beweeg en tweedens het Pepkor se aandeelprys wesenlik geval die afgelope vier tot ses maande.”

Teen dié agtergrond glo die maatskappy die voorgestelde skikking is in die beste belang van al die belangegroepe. “Ons glo dis bekostigbaar en realisties in die huidige omstandighede.”

Sowat 850 miljoen word aangebied waarvan feitlik vir almal die helfte in kontant en die res in Pepkor-aandele aangebied word.

’n Skikking gaan onsekerheid vir alle partye verwyder – insluitend aandeelhouers en krediteure. “Dit gaan duur, lang en onvoorspelbare hofprosesse vermy,” sê Du Preez.

Dit sal die bestuur van die groep en die onderliggende bedryfsmaatskappye toelaat om op bedryfsprestasie te fokus, asook om die skuld en finansieringskoste te verminder.

Steinhoff verdrink in skuld en het Augustus verlede jaar ’n reëling met krediteure bereik om die terugbetaling van skuld vir eers uit te stel.

Uitslag van onderhandelinge onseker

Du Preez sê in die onderhandelinge oor die skikkingsvoorstel word probeer om die belange van baie mededingende eisers te balanseer. Die interaksie is vertroulik. “Die uitslag is nog onseker.”

Du Preez het op die vraag wat dit implikasies is as ’n ooreenkoms nie bereik word nie, gesê dit kan lei tot die likwidasie van die groep.

“As ’n internasionale skikking nie bereik word nie, is daar die gevaar dat een of meer van die litigante uiteindelik ’n uitspraak teen die maatskappy kry. As dit gebeur, sal die maatskappy moontlik stappe moet doen om te verseker dat die eisers wat reeds uitsprake gekry het, nie ten koste van ander bevoordeel word nie.

“Steinhoff sal dan moontlik aansoek moet doen vir insolvensiebeskerming om seker te maak die eise word op billike en ordelike wyse geadministreer.

“Om duidelik te wees, ons glo in die geval van ’n insolvensie gaan mense minder ontvang as wat hulle sou ontvang het met die voorgestelde internasionale skikking. As daar ’n likwidasie is, vind betaling baie jare later ná ’n duur administrasieproses plaas.”

Hy is gevra of die dispuut met die oorsese onderneming Conservatorium Holdings wat daarop aanspraak maak dat hy die regte besit van die eis wat Christo Wiese, voormalige grootste aandeelhouer, teen Steinhoff ingedien het, die skikking gaan vertraag.

LEES OOK: Wiese sê reuse-eis teen Steinhoff is nie in gedrang

“Daar is ’n teoretiese risiko dat dit die skikking kan vertraag.”

Du Preez is ook deur ’n prokureursfirma in Amsterdam wat die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) verteenwoordig, gevra of die forensiese verslag oor die ongerymdhede met sy boeke aan die OBK oorhandig gaan word.

Die OBK het herhaaldelik vir die verslag gevra, het Frank Peters, vennoot in die prokureursfirma, gesê. “Die verslag bevat ’n gedetailleerde ontleding van die boekhoudingsprobleme en die OBK glo dit is relevant om dit te sien.”

Louis du Preez, uitvoerende hoof van Steinhoff

Du Preez het gesê die verslag is vertroulik en gaan nie uitgereik word nie.

’n Aandeelhouer wou weet hoekom die maatskappy nie regstappe doen teen voormalige lede van die toesighoudende direksie, sowel as die uitvoerende direksie en ander topbestuurders nie.

Du Preez het gesê die toesighoudende en uitvoerende direksie het ’n gesamentlike litigasiekomitee op die been gebring.

“Die komitee monitor en verdedig enige eise teen die groep en ons het gevalle geïdentifiseer waar regsgedinge teen ondernemings en individue ingestel kan word.”

Hy het daarop gewys dat eise teen sekere voormalige uitvoerende direkteure, waaronder Markus Jooste en Ben la Grange, ingestel is om die vergoeding wat aan hulle betaal is, terug te eis. Steinhoff het albei ook as derde partye gevoeg by die meeste sake wat teen hom aanhangig gemaak is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.