
Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff. Foto: Jaco Marais
Die distrikshof in Amsterdam, Nederland, het Steinhoff toestemming gegee om Markus Jooste, sy voormalige uitvoerende hoof, in te sluit by ’n hofsaak sodat skadevergoeding van hom geëis kan word.
Die hof het Woensdag uitspraak gelewer oor die voorlopige verweer wat Steinhoff aangeteken het in die groepsgeding wat deur die Nederlandse vereniging vir beleggers, die Vereniging van Effectenbezitters (VEB) aanhangig gemaak is.
Die VEB wil ’n groepeis teen Steinhoff instel namens beleggers wat geld in die maatskappy verloor het.
Steinhoff se voorlopige verweer was onder meer dat dié hof nie jurisdiksie het nie. Die maatskappy het ook ’n mosie ingedien dat die VEB se eis nie toegelaat moet word nie. Die hof het dié verwere afgewys.
Die hof het Steinhoff toestemming gegee om Jooste binne drie maande te dagvaar.
Steinhoff moet 7 November sy verweer oor die meriete van die saak indien.