Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff kan nou beter slaap oor Mattress Firm

Die hooggeregshof in Engeland het ’n skuldbetalingsplan goedgekeur wat as belangrik beskou word om die Steinhoff-filiaal Mattress Firm van ondergang te red en sy kanse te verbeter om teen Swart Vrydag weer normaal handel te dryf.

’n Tak van Mattress Firm in Encinitas, Kalifornië in die VSA. Foto: Reuters

Mattress Firm het 5 Oktober aangekondig hy het kragtens hoofstuk 11 van die Amerikaanse kode oor bankrotskap aansoek gedoen om sy sake te herorganiseer. Dit bied aan ’n maatskappy beskerming teen sy skuldeisers terwyl die herorganisering plaasvind.

Steinhoff het ’n skuldgerief van $4 miljard aangegaan toe hy Mattress Firm in 2016 bekom het.

Die reëlingskema is goedgekeur deur die krediteure van Stripes US Holding Ink. (Sushi) – ’n filiaal van Steinhoff Europe – wat 2016 in Amerika opgerig is. Sushi hou deur sy filiaal Mattress Firm Holding Corporation die belang in Mattress Firm.

Die aansoek om die reëlingskema goed te keur, is in Engeland ingedien omdat dit deur Engelse wetgewing gereël word.

Mattress Firm is in 49 deelstate in Amerika bedrywig deur sy eie en franchise-winkels en het 9 500 personeellede.

Die goedgekeurde reëlingskema oor die skuld gee nou groter sekerheid dat die hoofstuk 11-proses suksesvol afgehandel sal kan word. Mattress Firm kry tydens die hoofstuk 11-proses toegang tot finansiering en die tyd om sowat 700 winkels wat swak vaar se huurkontrakte te kanselleer.

Mattress Firm wou die hoofstuk 11-proses binne 45 tot 60 afhandel.

“Dié spertyd is gestel omdat dit as noodsaaklik beskou word om vinnig uit bankrotskap te kom om klante, verkopers en ander sakevennote gemoedsrus te gee voordat vakansieverkope op Swart Vrydag op 23 November begin.

“Om voor Swart Vrydag uit die proses te kom, word as uiters gewens beskou vir die suksesvolle toepassing van die hoofstuk 11-plan omdat Mattress Firm glo die vakansieverkope is ’n kritieke deel van sy sakemodel en vooruitsigte vir likiditeit.

“Mattress Firm glo as hy op Swart Vrydag nog in bankrotskap is, gaan dit sy potensiële verkope beperk omdat verbruikers huiwerig gaan wees om duur items van ’n kleinhandelaar te koop wat steeds in die proses is,” lui die verduideliking oor die reëlingskema.

Die reëlingskema sal na verwagting op 19 November in werking tree waarna Mattress Firm uit die hoofstuk 11-bankrotskap gehaal sal word. As dit nie voor 20 November gebeur nie, is daar ’n “wesenlike risiko” dat Mattress Firm nie suksesvol uit die hoofstuk 11-proses gaan kom nie.

Mattress Firm het ’n termynlening van $100 miljoen en ’n kredietgerief van $150 miljoen gekry van Barclays Bank en ander leners vir die duur van die hoofstuk 11-proses.

Sushi se krediteure het ingewillig om $400 miljoen se finansiering te gee sodat Mattress Firm uit die bankrotskapbeskerming kan kom. Barclays Bank gaan nog $125 miljoen daarvoor verskaf.

Dié finansiering is bedoel om Mattress Firm se bestaande skuld terug te betaal, sy uitgawes kragtens die hoofstuk 11-plan te betaal en sy bedryfskapitaal vorentoe te finansier.

Sonder dié finansiering sou Mattress Firm nie die plan kon deurvoer nie.

Sushi glo die deurvoering van die hoofstuk 11-plan en die reëlingskema sal waarde vir krediteure beskerm in teenstelling met alternatiewe soos om vir likwidasie aansoek te doen kragtens hoofstuk 7 van die Amerikaanse kode oor bankrotskap.

Sonder dié plan sou Sushi geen opbrengs uit sy aandeelhouding in Mattress Firm gekry het nie.

“Enige alternatief vir die hoofstuk 11-proses sou ’n negatiewe impak op die hele Steinhoff-groep se herstrukturering gehad het gegewe die ontwrigting wat ’n onbeplande bankrotskap op ’n wesenlike en hoë-profiel- bedryfsonderneming in die groep op die oorblywende kleinhandelondernemings van die groep sou hê,” lui die verduidelikende dokument oor die reëlingskema.

Meer oor:  Mattress Firm  |  Steinhoff  |  Kleinhandel  |  Sakeredding  |  Kleinhandelaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.