SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Maatskappye
Steinhoff, MTN: Só lyk risiko’s vir finansiële stelsel

Gebeure om Steinhoff het die afgelope ses maande druk op Suid-Afrika se finansiële stelsel geplaas, maar daar was nooit en is steeds nie ’n risiko dat dié maatskappy die hele stelsel in duie sal laat stort nie.

Die sentrale bank van Nigerië se eis dat MTN $8,134 miljard terugbring na dié land, kan egter wel ’n sistemiese risiko skep.

Die Reserwebank se tweede verslag oor finansiële stabiliteit vir 2018, wat Woensdagaand laat uitgereik is, lig uit dat dit ’n moeilike jaar vir die finansiële stelsel en die Suid-Afrikaanse ekonomie in die algemeen was. Daar is ook ’n paar groot klippe in die pad wat voorlê.

Lees ook: Al hoe meer mense betaal nie hul skuld

Wat spesifieke maatskappye betref, het die verslag die probleme om Steinhoff, MTN, Capitec Bank en VBS Mutual Bank uitgelig.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, vroeër in die parlement. Foto: Jaco Marais

Steinhoff

Die Reserwebank het in die eerste 2018-verslag oor finansiële stabiliteit gesê die risiko dat Steinhoff nie sy skuld kan betaal nie, hou nie ’n groot sistemiese risiko vir die finansiële sektor in nie.

Sedert die eerste verslag het Steinhoff baie gedoen om skuld te herfinansier, korporatiewe beheer te verbeter en bates te verkoop, wat die risiko van sistemiese onstabiliteit weens Steinhoff selfs verder verlaag. Dit lyk asof Steinhoff in sy korrtermyn-kontantvloeibehoeftes sal kan voorsien “en vir die bestuur tyd geskep het om sy voortgesette bedrywighede te ondersteun”.

“Daar moet egter daarop gewys word dat die aard en omvang van Steinhoff se rekenkundige onreëlmatighede steeds nie openbaar gemaak is nie ... Steinhoff word ook steeds aan ’n beduidende regsrisiko blootgestel.”

As MTN uit Nigerië onttrek, sal dit dié maatskappy se reputasie groot skade berokken, sê die Reserwebank.

MTN

Die Reserwebank waarsku dat die $8,134 miljard wat Nigerië se sentrale bank van MTN eis, ’n sistemiese risiko vir Suid-Afrika se finansiële stelsel kan skep. Die geld word geëis weens “onreëlmagtige kapitaalinvoersertifikate” wat glo van 2007-’15 uitgereik is.

Die banke wat die transaksies moontlik gemaak het, insluitende Stanbic IBTC, ’n filiaal van Standard Bank, is ook beboet.

Dis benewens $2 miljard se belasting op die invoer van toerusting en die betaling van buitelandse verskaffers wat die prokureur-generaal van Nigerië van MTN eis.

Saam verteenwoordig dié geld meer as MTN se totale markwaarde.

MTN en die banke betwis die boetes, maar die Reserwebank bly bekommerd daaroor.

“Die onmiddellike, of minstens binnekort, repatriasie van die geld aan die Nigeriese owerhede kan MTN se vermoë raak om sy skuldverpligtinge na te kom, insluitende dié aan die Suid-Afrikaanse banksektor. Gegewe die onderlinge verbonde aard van die finansiële stelsel kan dit sistemiese risiko verhoog.”

Die Reserwebank sê die slegte moontlike uitkoms sal wees as MTN uit Nigerië onttrek.

Die omstredenheid oor Viceroy Research se verslag oor Capitec gaan dalk tot beter oorsig oor kortverkopers lei, sê die Reserwebank.

Capitec Bank

Capitec is begin vanjaar uitgelewer aan kortverkopers wat die “navorsingsfirma” Viceroy Research ingespan het om vrae te opper oor of die bank finansieel gesond is.

Die Reserwebank het lof vir die Intellidex-verslag wat sedertdien uitgereik is oor die kortverkopers agter Viceroy.

Die verslag het onder meer aanbeveel dat die media baie omsigtig verslag doen wanneer daar oor “navorsing” berig word.

Die verslag het ook aanbeveel dat reguleerders meer inligting beskikbaar maak oor batebestuurders wat kortposisies inneem. Die JSE het in September ’n konsultasiedokument uitgereik wat ook beoog om kortverkope beter te reguleer. Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor het ook besluit om maniere daar te stel waarop kortverkope verklaar moet word.

Die krisis by VBS Mutual Bank wys vir die Reserwebank op die gevaar vir die finansiële stelsel as ’n groter bank sou ineenstort.

VBS Mutual Bank

Die Reserwebank sê die ineenstorting van enige bank, selfs al is dit hoe klein, kan finansiële stabiliteit bedreig. Dit kan onder meer wantroue in die stelsel skep.

Die Reserwebank sê die kuratele van African Bank, wat in 2013 ingestel is, kon in sy doelwitte slaag, naamlik om die bank te red, hoewel dit ook koste meegebring het. Die nuwe African Bank, wat in April 2016 begin sake doen het, het groot verbeterings gebring en die bank het nou ’n diverse aanbod produkte, wat dit ’n volwaardige bank maak.

Die Reserwebank sê sy Omsigtigheidsowerheid was 18 maande voordat VBS in kuratele geplaas is, bewus van kontantvloeiprobleme by die bank. Die omvang van die gebreke van korporatiewe beheer het egter eers duidelik geword toe die bank in Maart in kuratele geplaas is.

Grootskaalse bedrog en wanbestuur deur die uitvoerende bestuur en aandeelhouers is sedertdien onthul in adv. Terry Motau se forensiese ondersoek, waarvan die verslag, “The Great Bank Heist”, in Oktober gepubliseer is. Die Valke is reeds besig met ’n omvattende ondersoek met die oog daarop om mense van bedrog aan te kla.

Die Omsigtigheidsowerheid het einde Oktober ’n aansoek vir die likwidasie van VBS gebring.

Die Reserwebank sê die kuratele van African Bank en VBS wys uit dat dit nodig is om ’n beter manier te vind om probleembanke te behartig.

“Albei banke was betreklik klein relatief tot die grootte van die totale banksektor, en albei het betreklik eenvoudige sakemodelle gehad. ’n Ordelik resolusie kon daarom deur kuratorskap bereik word. Kuratorskap sal egter onvoldoende wees indien ’n sistemies belangrike, meer ingewikkelde bankgroep ineenstort, veral as dit ook groot buitelandse bedrywighede het.”

Die Reserwebank sê hy kon dit nog bekostig om gewone mense se geld by African Bank en VBS te waarborg, maar dit sal veels te duur wees as ’n groter bank misluk, of as ’n aantal kleiner banke gelyktydig sou vou.

Die bank voorsien die vestiging van ’n privaat gefinansierde versekeringskema vir deposante. “Dit sal die afhanklikheid van die nasionale tesourie en die gebruik van belastingbetalersgeld om die deposante van ’n mislukte bank te vergoed, verminder.”

Meer oor:  Steinhoff  |  Mtn  |  Capitec  |  Vbs Mu­Tual Bank  |  Reserwebank  |  Bankbedryf  |  Finansiële Stabiliteit  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.