Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff ’n jaar later: Wat weet ons nou?

Donderdag ’n jaar gelede het Suid-Afrikaanse beleggers wakker geword met die skoknuus dat Markus Jooste, die jarelange uitvoerende hoof van Steinhoff, met onmiddellike ingang bedank en dat die maatskappy nie sy jaarstate kan uitreik nie. 

Markus Jooste
Markus Jooste toe hy onlangs parlementslede se vrae oor die Steinhoff-debakel moes beantwoord. Foto: Jaco Marais

Toe die JSE op 6 Desember 2017 open, het Steinhoff se aandeelprys oor ’n afgrond gestort en in die maande daarna net aanhou val.

Die een stukkie skoknuus op die ander het gevolg. Beleggers moes hoor hulle kan nie meer op Steinhoff se 2016-jaarstate staatmaak nie en dat die geldigheid van meer as 6 miljard se bates oorsee ondersoek word.

Netwerk24 het ’n paar kenners gepols oor wat ons nou weet – en steeds nie weet nie – oor Steinhoff.

’n Moeilike pad lê voor

David Lerche, ’n senior beleggingsontleder van Sanlam Private Wealth.

“Wat ons nou beter as enigiets weet, is dat dit wat ons 'n jaar terug gedink het ons weet, nie waar is nie,” sê David Lerche, ’n senior beleggingsontleder van Sanlam Private Wealth.

Hy sê ons weet nou Steinhoff is in ’n haglike toestand en beslis nog nie buite gevaar nie, maar sal waarskynlik oorleef. “Wat ons ook weet, is dat die pad van hier tot herstel waarskynlik lank en redelik moeilik gaan wees.”

Maar daar is baie wat beleggers steeds nie weet nie. Hulle wag op die geouditeerde jaarstate vir die boekjaar tot einde September 2017, wat Steinhoff belowe het voor einde Desember uitgereik sal word. Dit sal die afskrywings toon wat volgens Lerche “die omvang van die leuens en bedrog sal aandui”.

Hy meen egter die stand van die balansstaat is belangriker – hoeveel skuld Steinhoff nou het, en die koste van dié skuld. Hy wil ook weet wat die kontantvloei uit bedrywighede is, of dit genoeg is om die rente op die skuld te diens en of daar genoeg kontant is om die skuld te delg. Dit sal aandui of dit nodig is om nog bates te verkoop en sal help bepaal wat Steinhoff in die toekoms werd sal wees.

Einde Junie vanjaar het Steinhoff sy halfjaarresultate tot einde Maart 2018 uitgereik, saam met die 2017-syfers wat heraangegee is.

Luidens die halfjaarverslag is afgekom op winste wat oordryf is, transaksies wat nie op ’n armlengte plaasgevind het nie en lenings wat afgeskryf moes word. Saam met die herwaardasie van klandisiewaarde en handelsname het dit tot “wesenlike bykomende afskrywings van klandisiewaarde, ontasbare en ander bates gelei”. Die onderliggende transaksies is daarna nog verder ondersoek.

Lerche wys daarop dat dié syfers nie geouditeer is nie. “So hulle is moontlik waar, maar jy kan nie glo dat dit die absolute waarheid is nie. Ons wag steeds op die geouditeerde resultate. En net wanneer ons die geouditeerde resultate het, iewers vandeesmaand, sal ons behoorlike kennis hê.”

Weet ons al wat presies skeefgeloop het?

“Nie werklik nie. Daar is aanduidings, en ons weet dit hou verband met ’n gepeuter aan die finansiële state om dit beter te laat lyk, maar ons is nie seker oor die besonderhede nie. Ons weet beslis die finansiële state is slim gemanipuleer, maar wat die omvang daarvan is, weet ons nie,” sê Lerche.

Twee boeke is die afgelope jaar oor Steinhoff geskryf. Die jongste is die bekroonde finansiële joernalis Rob Rose se boek Steinheist: Inside SA’s Biggest Corporate Fraud.

Hy maak hierin aantygings oor talle transaksies wat Steinhoff met verwante partye en maatskappye gedoen het waarby mense na aan Jooste betrokke is.

Lerche sê “al dié soort dinge gaan hopelik in die geouditeerde state uitkom”.

“ ’n Mens neem aan hierdie skrywers het indringende navorsing oor die boeke gedoen. Dit toon baie meer slegte en onetiese gedrag as wat ’n mens aanvanklik vermoed het.”

Steinhoff ‘nooit weer dieselfde’

    

Prof. Marius Ungerer van die Universiteit Stellenbosch se bestuurskool.

Prof. Marius Ungerer van die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool (USB) en een van die skrywers van die verslag “Business Perspectives on the Steinhoff Saga”, sê “die astronomiese eise wat sommige voormalige beleggers teen Steinhoff ingestel het, plaas ’n geweldige stremming op sy finansiële toekoms”.

Ungerer sê Steinhoff sal nooit weer dieselfde wees nie.

Beleggers het reeds die maatskappy revalueer en afverkoop.

Steinhoff se markwaarde het van begin Desember verlede jaar van R240,5 miljard tot R7,7 miljard tans gedaal.

“Ons praat al klaar van ’n baie kleiner maatskappy as die een waaroor ’n jaar gelede verslag gedoen is.”

Ungerer sê daar is steeds groot onsekerheid oor wat gaan uitkom in PwC se forensiese ondersoek na Steinhoff se boeke. Beleggers weet nog nie in besonderhede wat skeefgeloop het nie. “Maar die wanbestuur is duidelik wanneer daar ses maande later so ’n groot verskil in die waardering van bates is (soos met die halfjaarsyfers in Junie).”

Ungerer sê dit is ook duidelik dat die gebeure by Steinhoff verband hou met die mislukking van korporatiewe beheer en interne beheermeganismes wat beleggers moes beskerm.

Wekgroep vir hekwagters

   

Robert Lewenson, hoof van korporatiewe beheeraangeleenthede van Old Mutual Investment Group.

Robert Lewenson, hoof van korporatiewe beheeraangeleenthede van Old Mutual Investment Group, sê die gebeure was ’n wekroep vir fondsbestuurders oor verantwoordelike eienaarskap en wat die kode vir verantwoordelike belegging in Suid-Afrika (Crisa) van hulle vereis. Die doel van die kode is om omgewings- en maatskaplike kwessies en korporatiewe beheer deel van die beleggingsbesluit te maak.

“Dit is eenvoudig nie meer genoeg om ’n onpartydige eienaar te wees nie.”

Volgens hom het dit beleggers laat wakkerskrik oor wat dit beteken om ’n “verantwoordelike eienaar” te wees, ongeag die beleggingstrategie wat gevolg word.

“Ons het ook uit die ervaring geleer om nie net staat te maak op waaroor daar verslag gedoen word nie, maar om met ’n maatskappy te praat oor wat nodig is vir sy langtermynvolhoubaarheid.”

Lewenson sê die gebeure was ’n wekroep vir die hekwagters van korporatiewe beheer en etiese leierskap. “Alles wat ons vanjaar gesien het van die owerhede, hetsy dit die Finansiële Gedragsowerheid is, die JSE se noteringsvereistes wat verander is of die eerste wysiging aan die Maatskappywet sedert 2008, het alles gebeur weens hierdie mislukking van beheer in die mark.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.