Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff – ’n klub vir familie, vriende?

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, was baie charismaties, maar was jare lange direkteure van die maatskappy nie krities genoeg nie? Prof. Marius Ungerer van die Universiteit Stellenbosch se bestuurskool (USB) beantwoord vrae oor hul navorsing oor Steinhoff, Business Perspectives on the Steinhoff Saga.

Die JSE het bevestig Steinhoff is steeds genoteer. Verhandeling in van sy skuldbriewe is egter opgeskort.

1. Wat is in die navorsing oor korporatiewe beheer vasgestel?

Steinhoff het ’n formalistiese verslagdoeningstruktuur gehad, waar dit hoofsaaklik gaan oor regmerkies langs die boksies. Ons het ’n gebrek aan bewyse gevind dat die direksie probeer het om doeltreffende etiese leierskap te vestig. Daar was versoeke hieroor van die ouditeure, maar van 2011 tot 2016 is daar geen bewyse dat iets daaraan gedoen is nie.

Ten opsigte van nakoming aan die King-beginsels oor korporatiewe beheer wil dit ook vir ons lyk of daar ’n laissez-faire-benadering was teenoor die opbou van ’n etiese karakter in die groep.

2. Wat is die gebreke in korporatiewe beheer?

Die formalistiese verslagdoening.

Prof. Marius Ungerer

Die doelwit van goeie korporatiewe beheer is outentieke deursigtigheid. Steinhoff wou die indruk skep uit sy fantasties saamgestelde verslae dat alles in orde is.

Die doel van korporatiewe beheer was nie noodwendig om deursigtig te wees en te wys waar die foute is en hoe dit reggestel word nie. In sy geïntegreerde jaarverslae word primêr net op die positiewe aspekte klem gelê.

3. Wat was jul bevindinge oor die onafhanklikheid van direkteure?

King het duidelike riglyne oor die samestelling van die direksie. Dit is onseker uit ons ontleding watter kriteria Steinhoff gebruik het om sy direkteure as onafhanklik en nie-uitvoerend te klassifiseer.

Mense soos Len Konar en Claus Daun is direksielede sedert 1999 en hulle is tot onafhanklike direkteure verklaar. As mense so lank daar is, hoe kan hulle onafhanklik wees?

As mense so lank daar is, hoe kan hulle onafhanklik wees?

Die hele kwessie van kruisaandeelhouding het ook aandag gekry, want dit is die ander dilemma met die direksie se samestelling.

Jannie Mouton, voorsitter van PSG, en Christo Wiese, grootste aandeelhouer en voormalige voorsitter, was direkteure met ’n beduidende kruisaandeelhouding. Dit móét die onafhanklikheid van mense beïnvloed, maar tog word hulle geklassifiseer as onafhanklike direkteure en nie-uitvoerend.

4. Julle verwys na die aanstelling van familielede in die direksie. Verduidelik?

In 2013 het Heather Sonn (die huidige voorsitter) haar pa, Franklin Sonn, vervang toe hy as onafhanklike direkteur bedank het, en in 2016 is Jacob Wiese, seun van Christo Wiese, in die direksie aangestel.

Dit bevestig daar was ’n kultuur van ’n familie-onderneming en die kultuur van ’n klub. Markus Jooste is op rekord dat hy sê hy is baie goeie vriende met die mense in die direksie. Dit is nie onafhanklikheid nie.

5. Wat is die probleem met direkteure wat te lank dien of vriende is?

Van die direksielede het vir lang tye gedien. Volgens King moet jy ná nege jaar ’n indiepte-hersiening daarvan doen.

Hoekom en hoe is die navorsing gedoen?

Dit is nie ’n volledige navorsingsprojek nie, want ons het met niemand onderhoude gevoer nie.

Ons gebruik die beskikbare inligting, soos Steinhoff se geïntegreerde jaarverslae. Ons wou bepaal wat ons nou al kan leer voor die verslag van PwC oor die forensiese ondersoek na die ongerymdhede in Steinhoff se boeke in Desember uitgereik word.

Ons navorsing is in vier dele:

  • ’n Historiese blik op Steinhoff;
  • Korporatiewe beheer;
  • Bestuursleierskap; en
  • Die lesse wat hieruit geleer kan word.

Die vyf navorsers is Piet Naudé, Brett Hamilton, Marius Ungerer, Daniel Malan en Mias de Klerk.

Daar is bewyse dat dít plaasgevind het, maar selfs die manier hoe jaar ná jaar daaroor verslag gedoen is, lyk baie formalisties en amper asof ’n templaat daarvoor gebruik is.

Die woorde is letterlik dieselfde van jaar tot jaar in die verskillende verslae.

Die gevolgtrekking waartoe ons kom oor die langsdienende direkteure is dat die moontlikheid van groepdenke kon ontstaan het. Dit is daardie kultuur waar mense nie meer krities na mekaar luister nie, nie meer krities voorstelle evalueer nie en waar individuele en kollektiewe besluite geneem word sonder ’n kritiese beskouing van wat op die tafel is.

6. Julle sê die Stellenbosse mafia is ’n mite, maar julle verwys na die moontlikheid van ’n klub?

Prof. Piet Naudé, direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Sakeskool.

Sakenetwerke is nie as sodanig verkeerd nie, dit is deel van sake doen om kontakte te hê en nuwe geleenthede te kry.

Dit is wanneer mense verkeerde goed miskyk of blindelings begin glo dat dit problematies word. Dit is wanneer dit lei tot groepdenke en dit gebruik word as ’n bewustelike poging om mense te mislei.

Of wanneer dit eksklusief raak wanneer vrae daaroor gevra word of as daar geheimhouding is.

Ons leef in die 21ste eeu waar een van die hoofwaardes deursigtigheid is. Mense verdra nie geheimhouding nie.

7. Hoe het julle bepaal dat Markus Jooste ’n charismatiese persoonlikheid het?

In die literatuur is daar drie kriteria wat gebruik word om te bepaal of iemand charismaties is.

  • Eerstens moet die persoon buitengewone eienskappe hê. Berigte oor Jooste wou dit hê dat hy ’n kleinhandel-ster is, ’n begaafde sake-genie, en buitengewone talente vir transaksies het. Sy rekord het getoon hy kan ’n onophoudelike stroom uitbreidingsprojekte na die direksie bring en goedkeuring daarvoor kry. Hy het ’n beeld begin kry van ’n bomenslike sakepersoon. Dit lei tot selfvertroue. Daarmee saam was die beeld van ’n uiters ryk individu, van resiesperde, baie eksklusiewe eiendomme en ’n verbintenis met polo as ’n sport. Dit het die prentjie van die charismatiese persoon amper vervolmaak.
  • Tweedens benodig ’n charismatiese leier ’n sosiale situasie om in te gedy.
    Ná 1994 het ’n nuwe klas Afrikaanse entrepreneurs die sakewêreld betree en in die era ná apartheid en sanksies het nuwe geleenthede vir hulle oopgegaan. Hiermee saam het hy baie goed ontwikkelde sosiale netwerke met baie bekende persone ontwikkel.
    Hierdie mense het hom duidelik vertrou en hom erken as buitengewone sakeman. Hy het spesiale status in sosiale sirkels gekry.
  • Derdens het ’n besonder sterk emosionele band bestaan tussen die leier en sy volgelinge. Jooste het duidelik baie lojale volgelinge gehad binne en buite die maatskappy en in ander sosiale sirkels.
    Dit gee charismatiese leiers meer beweegruimte omdat hulle vertrou word. En dit beïnvloed dan ook die vermoë van volgelinge om krities terug te stoot – want hy is dan so goed, hoekom sal hy hierdie keer verkeerd wees?

Ons bevinding is daar is duidelike risiko’s verbonde aan charismatiese leiers veral as dit gekombineer word met arrogansie en ’n selfgeloof dat daardie eienskappe vir ’n mens meer ruimte gee om etiese en wetlike grense te toets.

8. Hoe sou hy sy charisma gebruik het in die geval? Baie mense sê hulle is mislei deur hom?

Daniel Malan, assosiaat-professor

Hulle is mislei sonder dat hulle geweet het hulle is mislei. Hy was so oortuigend. Die feite wat hy aanmekaar gesit het en die sakeproposisie wat hy op die tafel gesit het, was so goed geargumenteer en gestruktureer dat baie slim en ervare sakemense nie daardeur kon sien nie.

Dit is moeilik om dit te kan doen; dit is ’n groot vaardigheid.

9. Wat sou jy sê, agterna beskou, is die grootste foute wat die direksie en iemand soos die bekende sakeman Christo Wiese gemaak het?

Almal, ook die direksie, het maar in goeie trou opgetree. Dit op sigself is nie ’n probleem nie, want sake is gegrond op vertroue, maar wanneer die vertroue blindelings word, wanneer die vertroue van so ’n aard is dat daar nie kritiese vrae daarmee saamgaan nie, is dit ’n probleem.

Dit is maklik om iets by terugskouing raak te sien, maar ’n mens sou kon sê daar moes ’n meer kritiese ingesteldheid gewees het van die onafhanklike nie-uitvoerende direkteure om seker te maak die voorstelle op die tafel voldoen aan etiese standaarde.

10. Deel van julle navorsing was oor wanneer onetiese gedrag plaasvind. Verduidelik meer?

Daar is sielkundige drywers van onetiese gedrag. Hoekom doen mense dit? Die eenvoudige antwoord is altyd gierigheid. Maar dit is te simplisties. Dit gaan (wel) oor die geld. (Maar) dit word geassosieer met ’n simbool van mag, status en sukses. As jy eers gewoond geraak het aan daardie tipe geld, word dit ’n monster wat gevoed moet word.

Prof. Mias de Klerk, hoof van navorsing.

Dit is die eerste aandrywer – daar is die behoefte aan net meer en meer en daar is nie ’n perk op wanneer genoeg genoeg is nie.

Die tweede aandrywer van onetiese gedrag is die trots en arrogansie wat die individu die selfvertroue gee dat hy onoorwinlik is en dat wat hy doen, gegrond is op hierdie merkwaardige eienskappe en sy suksesse.

En die gevolge daarvan is arrogansie, hubris en ’n duidelike tekort aan moraliteit.

Die laaste drywer van onetiese gedrag is eiegeregtigheid. Dit kan gesien word in gedagtes soos: “Ek werk dan so hard, ek het so baie opofferings gemaak en daarom kan ek ook vir meer vra, daarom is ek geregtig op meer.”

Die aard van hierdie oortuiging is dat die persoon superieur is en hy meer werd is as die res van die gemeenskap.

11. As iemand oneties optree, hoekom hou dit aan?

Deur middel van rasionalisering. Dit begin met ’n klein oortreding en alles gaan maar net normaal aan.

Brett Hamilton, lektor aan die USB.

Navorsing wys duidelik skuldgevoelens is nie genoeg om korrektiewe gedrag mee te bring nie. Mense rig sielkundige grense op en ontken dat die situasie bestaan. Die rasionalisering klink soos volg: Almal doen dit, dit is wettig na gelang van hoe jy daarna kyk, en dit is ’n grys gebied.

Of die persoon argumenteer hy doen dit vir die groter geheel – “ek laat die maatskappy groei en hierdeur word almal bevoordeel”, of “ek doen dit in ooreenstemming met my mandaat en dit is om aandeelhouerswaarde te skep en daardeur beskerm ek natuurlik duisende mense se poste”.

12. Een van die lesse uit jul navorsing is selfs etiese mense kan struikel?

Self etiese bestuurspersoneel is omkoopbaar.

Moraliteit is broos nieteenstaande mense se goeie voornemens. Gierigheid, arrogansie en eiegeregtigheid kan mense se morele wese infiltreer.

Geen organisasie kan bekostig om gepaste wigte en teenwigte af te skeep nie, veral nie as ’n maatskappy se finansies op die spel is nie. Daar moet ’n aanhoudende en voortdurende beklemtoning van die etiese aspekte van beheer wees. ’n Gebrek daaraan kan mense met ’n baie goeie ingesteldheid in slaggate laat val wat hulle nie noodwendig beplan het nie.

Klik hier om die verslag te lees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.