Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff-nasleep druk Pepkor se wins laer

Pepkor se wins het in die boekjaar tot einde September met byna 19% tot R2,8 miljard gedaal, deels weens ’n baie hoër belastinglas as in die vorige jaar.

Pep, wat deel is van Pepkor, het vir die 19de jaar agtereenvolgens ’n dubbelsyfer bedryfswinsgroei getoon. Pep en Ackermans het saam hul verkope met 8% gelig. Uitgesluit nuwe winkels het verkope met 3,3% gestyg. Pep het sowat 137 nuwe winkels geopen en het nou 2 231 van die winkels. Foto: Verskaf

Sy wins vir sy eerste volle boekjaar ná sy notering in September verlede jaar is laer ten spyte daarvan dat sy bedrywighede stewig vertoon het en sy inkomste met byna 11% tot R64,2 miljard gestyg het. 

Lees hier: Pepkor stoot verkope op in woeste jaar.

Pepkor (wat aanvanklik as Steinhoff Retail Africa, of Star, op die JSE genoteer het) het Maandagoggend in sy jaarresultate gesê sy effektiewe belastingkoers het tot 38% gestyg teenoor 30,9% in die vorige boekjaar. Die normale belastingkoers vir maatskappye is 28%.

Die belasting betaal, het met byna 13% tot R1,8 miljard gestyg.

Die hoër belastingkoers word hoofsaaklik toegeskryf die voorsiening van R511 miljoen vir ’n waarborg vir die skuld van direkteure en senior bestuurders wat nie belasting aftrekbaar is nie. 

Die waarborg is deur Pepkor vir die skuld van die beleggingsmaatskappy Business Ventures Investments verskaf. Die maatskappy het aanvanklik in Pepkor-aandele belê, maar die aandele is in 2015 verruil vir Steinhoff-aandele nadat Steinhoff vir Pepkor bekom het. Ná die ineenstorting van Steinhoff se aandeelprys het dit duidelik geword dat Pepkor aanspreeklik gehou gaan word vir die skuld en daarom is voorsiening daarvoor gemaak. Die totale voorsiening sluit in vir verwante lenings van R60 miljoen wat bestuur aangegaan het.  

Beleggers het Maandagoggend gehoor die JSE het Pepkor met R5 miljoen beboet omdat dié waarborg nie voorheen aan sy aandeelhouers geopenbaar is nie. Die voorsiening vir die waarborg het boonop sy bedryfswins afgetrek en ’n uitwerking op sy uiteindelike wins gehad.

Pepkor sê in die resultate die 2018-boekjaar gaan onthou word vir die talle wesenlike korporatiewe kopsere wat uit die Steinhoff-skandaal gespruit het.

Pepkor sê in die resultate die 2018-boekjaar gaan onthou word vir die talle wesenlike korporatiewe kopsere wat uit die Steinhoff-skandaal gespruit het.

Leon Lourens, uitvoerende hoof van Pepkor-groep. Foto: Verskaf

Leon Lourens, uitvoerende hoof van Pepkor, sê mylpale in dié boekjaar is die herfinansiering van aandeelhouersfinansiering wat Steinhoff aan Pepkor gegee het en die gepaardgaande beëindiging van die waarborge wat vir dié finansiering verskaf is.

Pepkor het in Mei vanjaar sy skuld aan Steinhoff met R18 miljard herfinansier sodat Pepkor finansieel onafhanklik van Steinhoff is. Dié geld is gebruik om die lening aan Steinhoff terug te betaal, wat Steinhoff op sy beurt gebruik het om sy verpligtinge te betaal. 

Beleggers het Maandagoggend gehoor die JSE het Pepkor ook hieroor beboet omdat hy nooit dié waarborg geopenbaar het nie. Sy volfiliaal Pepkor Holdings was deel van ’n groep maatskappye wat ’n onvoorwaardelike en onherroeplike waarborg vir Steinhoff Services Beperk se R15 miljard-skuldbriefprogram gegee het.

Sy rente betaalbaar het met 92% van R620 miljoen in die 2017-boekjaar tot R1,2 miljard in die afgelope boekjaar verhoog. Dit is toegeskryf daaraan dat die rente nie in die volle 2017-boekjaar ingesluit is nie. Die rente wat verlede jaar getoon is spruit uit die beduidende aandeelhouersfinansiering wat Pepkor met sy notering gekry het wat eers September 2017 plaasgevind het. Dit is die aandeelhouersfinansiering wat herfinansier is.  

Pepkor sê sy balansstaat dra heelwat skuld vergeleke met sy genoteerde eweknieë in die kleinhandelsbedryf. Die groep wil sy skuldverhouding verlaag en het daarom sy dividendbeleid hersien. Hy het sy eerste dividend, van 27,8c per gewone aandeel, verklaar.

Meer oor:  Pepkor  |  Steinhof Africa Retail  |  Pep  |  Leon Lourens  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.