Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff ontken hoof loop oor forensiese ondersoek
Danie van der Merwe

Dit is hoog tyd dat Danie van der Merwe (60) as waarnemende uitvoerende hoof uittree van Steinhoff, meen die skrywer van die boek Steinhoff en die Stellenbosse boys.

James-Brent Styan meen dit sal help om vertroue in die groep te herstel.

Styan is ’n voormalige sakejoernalis en gekwalifiseerde boekhouer.

Van der Merwe was eers Steinhoff se bedryfshoof en het as uitvoerende hoof oorgeneem toe Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof, in Desember 2017 midde-in die groep se finansiële ineenstorting bedank het.

Van der Merwe het in 1999 ’n direkteur van Steinhoff geword.

“Van der Merwe was vir jare Jooste se regterhand en het saam met hom op die bestuursdireksie van Steinhoff gedien. Hy was te na aan Jooste om beleggersvertroue te kan inboesem. Dit is beter vir die groep dat hy gaan.

“As Steinhoff enige kans wil hê om hierdie ramp te oorleef, moet die groep alles doen om beleggersvertroue en die vertroue van die publiek te herwin.”

Heather Sonn, voorsitter van Steinhoff, het in April op die jaarvergadering beloof enige direkteur wat in die toekoms by wandade betrek word, sal onmiddellik bedank. Sy het toe gesê nie een van die direkteure is in wandade geïmpliseer nie. Daarom is Steinhoff gevra of die forensiese ondersoek Van der Merwe op enige wyse impliseer en of dit die rede is vir sy uittrede.

Volgens Steinhoff het Van der Merwe se uittrede niks te doen met die forensiese ondersoek oor die maatskappy se boeke nie. “Danie tree nie uit as gevolg van die forensiese ondersoek nie.”

Hy tree einde Desember uit en bly tot begin Desember 2019 aan om die uitvoerende direksie by te staan.

As Steinhoff enige kans wil hê om hierdie ramp te oorleef, moet die groep alles doen om beleggersvertroue en die vertroue van die publiek te herwin.
James-Brent Styan

Steinhoff het by navraag gesê hy bly net tot einde Desember as direkteur aan.

Daar is nou vyf direkteure op die uitvoerende direksie vergeleke met voorheen wat net Van der Merwe, Jooste en Ben la Grange, wat reeds bedank het as finansiële hoof, op die direksie was.

In die verklaring oor sy uittrede is gesê Van der Merwe het in die rol van waarnemende uitvoerende hoof aanvaar om die maatskappy te help stabiliseer en die doelstellings is bereik.

Hy word deur Louis du Preez (49) opgevolg, wat ’n prokureur is en lank vir Werksmans gewerk het en middel 2017 by Steinhoff aangesluit het. Du Preez is op die jaarvergadering as direkteur op die uitvoerende direksie aangestel.

Steinhoff staar ’n aantal eise van verskillende partye in die gesig onder meer van Christo Wiese, voormalige voorsitter en grootste aandeelhouer, wat ’n paar jaar gelede Pepkor aan die maatskappy verkoop het in ruil vir aandele.

Dinsdag is berig Van der Merwe het ontken sy bedanking hou verband met ’n berig deur Financial Mail oor Steinhoff se hoofkantoor in Stellenbosch. Hy en Jooste het saam ’n maatskappy besit wat die hoofkantoor aan Steinhoff verkoop het. Financial Mail het aangevoer dit is nie aan aandeelhouers openbaar nie.

Van der Merwe het gesê sover sy kennis strek is geen wins uit die transaksie gemaak nie.

Jooste reageer sedert die begin van die jaar nie op navrae nie.

In Januarie het Netwerk24 berig Van der Merwe het gesê hy het met Investec geskik oor ’n lening wat hy kort voor die ineenstorting van Steinhoff in Desember gekry het.

Investec het in Desember ’n hofaansoek ingedien teen Ruby Street en Mayfair Speculators van Jooste om te keer dat die lenings gebruik word wat die maatskappye kort voor die ineenstorting van Steinhoff se aandeelprys van die bank ontvang het.

Investec het gesê Stefan Potgieter, Jooste se skoonseun, het einde November 2017 by die bank aangeklop oor die lenings vir Mayfair en Ruby Street en voorskotte is op bestaande ooreenkomste toegestaan.

Investec het aangevoer Potgieter het van die gebeure agter die skerms geweet. “Investec glo die feite is doelbewus deur Mayfair en Ruby Street en hul verteenwoordigers Jooste, Potgieter en Van der Merwe verswyg.”

Van der Merwe het ontken hy het in daardie stadium kennis gedra van Jooste se situasie en dat hy kort daarna sou bedank.

Hy het in Januarie gesê hy is steeds ’n kliënt van Investec.

Van der Merwe en Jooste bly in aparte wonings saam op die Jonkersdrift-plaas by Stellenbosch.

Dit begin nou uit ’n tydlyn van gebeure in November 2017 soos uiteengesit in die boek Steinheist deur Rob Rose al meer voorkom of ten minste Jooste reeds 20 November moes geweet het hoe ernstig dinge is.

In die hofstukke het Investec gesê Potgieter het 20 November die bank gekontak om ’n kwotasie te kry vir verskillende koopopsies en verskansings teen die Steinhoff-aandele van Ruby en Mayfair. Drie dae later het hy van besluit verander en gesê hulle wil eerder hul lenings verhoog.

Lees ook: Steinhoff se nuwe hoof ‘skik reeds met Investec’

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.