Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff: Onweerswolke oor pakhuis op George
Braam van Huyssteen, stigter van Tekkie Town, voor die verspreidingsentrum op George.

Onweerswolke pak saam oor ’n pakhuis op George waaruit die genoteerde Steinhoff African Retail (Star) weier om te trek – al is sy huurkontrak gekanselleer.

Tekkie Town, wat aan Star behoort, gebruik dié verspreidingsentrum van sowat 16 000 m² en ’n kantoor langsaan as sy hoofkantoor.

Die eiendomme word egter deur maatskappye besit waarvan die familie van Braam van Huyssteen, stigter van Tekkie Town, die uiteindelike eienaars is.

Van Huyssteen het Tekkie Town twee jaar gelede aan Steinhoff verkoop, wat dit op sy beurt aan sy filiaal Star verkoop het. Hy het tot onlangs nog vir Star gewerk, maar het bedank nadat verhoudinge tussen hom en die maatskappy versuur het.

Van Huyssteen het die huurkontrak met Star vir die pakhuis en die hoofkantoor laat in Julie gekanselleer. Hy dreig nou om Star (wat se naam nou Pepkor is) uit die geboue te laat sit.  

Van Huyssteen het Maandag vol selfvertroue in ’n mediaverklaring verklaar sy nuwe winkelgroep wat hy gaan stig, Mr. Tekkie, gaan eersdaags vanuit dié geboue bestuur word “sodra die proses om Pepkor uit die geboue te sit, voltooi is.”

“Ons gaan genadeloos wees in ons strewe om hulle so gou as moontlik uit hierdie perseel, wat in private besit is, uit te sit. Hulle sal nie in hierdie perseel bly nie,” lui die verklaring van Van Huyssteen-hulle.

Google Maps toon die perseel op George waar die verspreidingsentrum en hoofkantoor van Tekkie Town is.

Netwerk24 het Vrydag berig Van Huyssteen en ander voormalige Tekkie Town-bestuurslede, onder andere Bernard Mostert, voormalige uitvoerende hoof, open einde November die eerste Mr. Tekkie-winkel, wat klere en skoene gaan verkoop.

Van Huyssteen het Tekkie Town in 1989 begin en in 2016 aan Steinhoff verkoop. Hy en lede van sy jare lange bestuur, wat aandele in Steinhoff gekry het vir Tekkie Town, het intussen ’n hofaansoek gebring om die transaksie om te keer en hulle weer eienaars van dié winkelgroep te maak. Hy is vol vertroue dat die aansoek gaan slaag om Tekkie Town aan sy “regmatige eienaars” terug te besorg.

“Die bestuurspan gaan dan vir Tekkie Town en Mr. Tekkie saam van die persele in George bestuur,” belowe hy.

Leon Lourens, uitvoerende hoof van Pepkor, het volstaan by wat Vrydag gesê is dat hulle op 25 Julie ’n hofaansoek gebring het waarin hulle vra dat die hof Pepkor tot die “regmatige okkupeerder” van die eiendom verklaar totdat die dispuut in die hof besleg word. Jayendra Naidoo, voorsitter van Pepkor, het gesê: “Ons is glad nie van plan om uit te trek nie.”

Volgens Mostert, voormalige uitvoerende hoof van Tekkie Town wat dieselfde pos by Mr. Tekkie gaan beklee, gaan hulle die hofaansoek teenstaan.

Hy het gesê die feit dat Pepkor so ’n aansoek bring om hulle tot regmatige okkupeerders te verklaar, “toon hulle weet hul tyd is beperk in die geboue”.

Volgens Mostert was Steinhoff nooit van plan om die eiendom vir altyd te huur nie. Hy het gesê die eiendom is nie in 2015 saam met Tekkie Town bekom nie omdat Steinhoff self baie grond in George besit “as gevolg van hul historiese betrokkenheid by die saagmeule op die dorp”.

Daar is ’n nywerheidsgebied op George, bekend as die Steinhoff-nywerheidspark, wat deur Steinhoff besit word.

“Een van die redes hoekom hulle nie ’n aanbod gemaak het vir die eiendom nie, is dat hulle nie nog eiendom op die dorp wou koop nie en ’n perseel kon ontwikkel op hul bestaande grond. Hulle het gesê hulle sal aan die einde van die huurkontrakte eerder nuwe persele daar ontwikkel.”

Mostert het gesê Star wil hulle nie toelaat op die perseel om roetine-instandhoudingswerk op die perseel te doen wat hulle gewoonlik dié tyd van die jaar doen nie.

Hy het ’n videogreep per WhatsApp aangestuur wat wys hoe hulle by die hek van die perseel voorgekeer word.

Netwerk24 het onlangs berig hoe warm die geveg op George geword het en dat Star ’n aansoek in die Kaapse hooggeregshof teen voormalige Tekkie Town-personeel oor beweerde sabotasie gebring het. Midde-in dié gebeure het dinge so opgewarm dat Star se personeel na bewering in Mostert se private kantoor by die hoofkantoor op George ingebreek het. Hy het daarna ’n klag by die polisie gaan indien oor die inbraak in sy kantoor.

“Hulle voldoen nou volkome aan die definisie van ’n plakker. Hulle betaal nie huur nie en is onwettig daar.”

Vyf van Van Huyssteen se “adjunkte” wat al jare saam met hom kom, gaan saam met hom Mr. Tekkie stig en bestuur. Dit sluit Dawie van Niekerk, voormalige bedryfshoof, in. Hy gaan dieselfde pos beklee. Die ander is Gert Claassens, bestuurder van die eerste Tekkie Town-winkel, Michael Brown, voorheen hoofbestuurder en hoof van aankope van Tekkie Town, en Willem Wait, voormalige inligtingstegnologiehoof.

Meer oor:  Steinhoff  |  Pepkor  |  Star  |  Braam Van Huyssteen  |  Leon Lourens  |  Bernard Mostert  |  George  |  Hofgeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.