Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff-ouddirekteur bedank nou eers by Pepkor
Pepkor besit onder meer Pep, Tekkie Town, Bradlows en Incredible Connection.

Danie van der Merwe, wat einde 2018 reeds as direksielid van Steinhoff bedank het, het nou eers sy bedanking by die groep se filiaal Pepkor aangebied.

Pepkor sê in ’n verklaring Van der Merwe het sy bedanking met ingang 28 Mei aan die direksie aangebied.

Van der Merwe is in Desember 2017 as waarnemende uitvoerende hoof van Steinhoff aangestel nadat die bom by die maatskappy gebars het en sy jare lange uitvoerende hoof, Markus Jooste, onder ’n wolk bedank het.

Steinhoff het op 19 November verlede jaar aangekondig Van der Merwe het besluit hy gaan met ingang einde Desember 2018 uit die pos van uitvoerende hoof en as besturende direkteur bedank.

Hy is opgevolg deur Louis du Preez by Steinhoff en sou tot Desember 2019 aanbly by die groep om die nuwe uitvoerende hoof en die besturende direksie by te staan.

“Dit is as gepas geag om Pepkor se direksie ná die tussentydse resultate te verlaat aangesien die finansiële herstrukturering van Steinhoff naby aan voltooi is,” het ’n woordvoerder van Steinhoff gesê.

Pepkor reik Woensdag sy resultate vir die halfjaar tot einde Maart uit.

Blykbaar ondersteun Van der Merwe nog vir Steinhoff soos hy benodig word.

Theo de Klerk, wat op Steinhoff se besturende direksie is, word met ingang 29 Mei by Pepkor aangestel as nie-uitvoerende direkteur om Van der Merwe te vervang.

De Klerk is tans bedryfsdirekteur van Steinhoff. Hy het hom in 2003 by Steinhoff aangesluit en is in 2008 as uitvoerende hoof van Steinbuild, die groep se boumateriaal-afdeling in Suider-Afrika, aangestel. Hy was in dié posisie tot in 2015 toe hy as direkteur van groepdienste aangestel is.

Du Preez, wat reeds ’n nie-uitvoerende direksielid van Pepkor is, sal Van der Merwe as lid van die mensehulpbronkomitee en vergoedingskomitee vervang.

Van der Merwe is bedank vir sy “uiters waardevolle” bydrae tot Pepkor se direksie.

Van der Merwe was die enigste besturende direkteur wat oorgebly het op Steinhoff se besturende direksie van die 2017-boekjaar. Die 2017-boekjaar se finansiële resultate is pas eers uitgereik nadat dit vir 17 maande vertraag was omdat ’n forensiese ondersoek oor ongerymdhede eers uitgevoer moes word.

Van der Merwe was in die 2017-boekjaar tot met die skandaal in Desember daardie jaar die bedryfshoof van Steinhoff.

Steinhoff se woordvoerder het Dinsdag gesê Van der Merwe werk nog op ’n deeltydse basis vir Steinhof, soos hy benodig word. Die kontrak met hom duur tot Desember voort.

Meer oor:  Steinhoff  |  Pepkor  |  Danie Van Der Merwe  |  Direkteur  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.