Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff, Pepkor se aansoek om appèl misluk
The headquarters of Steinhoff International Holdin
Die hoofkantoor van Steinhoff in Stellenbosch. Foto: Getty Images

Steinhoff en Pepkor se aansoek om verlof tot appèl teen ’n tussentydse interdik wat met die bewaring van die skoenwinkelgroep Tekkie Town te make het, is Maandag verwerp.

Die aansoek om verlof tot appèl is gebring teen ’n tussentydse interdik wat einde April uitgereik is om te verseker dat Tekkie Town behoue bly tot ’n uitspraak gekry word in ’n hofsaak wat die oorspronklike eienaars van Tekkie Town teen Steinhoff gebring het om hul onderneming terug te kry.

Steinhoff het Tekkie Town in 2016 gekoop en die eienaars, Braam van Huyssteen en Bernard Mostert, en ander is daarvoor vergoed deur Steinhoff-aandele aan hulle te gee.

Hulle voer nou in die eis teen Steinhoff aan hulle is mislei deur verskeie wanvoorstellings wat aan hulle gemaak is met die verkoop van Tekkie Town.

LEES OOK: Jooste ‘mislei doelbewus’ oor Steinhoff - hofstukke.

Regter Nathan Erasmus het Maandag gesê die respondente het om verskeie redes aansoek om verlof tot appèl gedoen, insluitende dat die bevel ’n finale uitwerking het en dit Pepkor, Pepkor Speciality en Tekkie Town – wat nie partye van die hoof-eis is nie – keer om sake soos normaal te doen.

Erasmus het die aansoek om verlof afgewys omdat die partye volgens hom die bevel verkeerd verstaan. Hy sê dit is duidelik dat die bevel hangende ’n finale bepaling van die hoof-eis is.

Die bevel maak ook daarvoor voorsiening dat dit herbesoek kan word indien Pepkor of Pepkor Speciality enige aktiwiteite of transaksies wil onderneem wat met die aandeelhouding of bedrywighede van Tekkie Town te doen het.

Dit is omdat die tussentydse bevel lui in só ’n geval moet Pepkor en Pepkor Speciality, indien sekere transaksies beoog word, die oorspronklike eienaars van Tekkie Town tien dae voor die aangaan van ’n ooreenkoms skriftelik daarvan in kennis stel.

“Dit is duidelik die bevel het nie ’n finale uitwerking nie, en om dié rede alleen sal dit nie appelleerbaar wees nie.”

LEES OOK: Steinhoff: Star ‘nie geraak’ deur Tekkie Town-eis

Erasmus sê hy glo nie daar is ’n redelike kans dat enige ander hof tot ’n ander bevinding sal kom nie.

Pepkor sê hy gaan appelleer.

“Pepkor het herhaaldelik bevestig dat hierdie bevel nie ’n onmiddellike impak op sy bedrywighede het nie, omdat hy nie van voorneme is om Tekkie Town te verkoop nie,” het dié maatskappy in ’n verklaring Maandagoggend gesê.

“Uit beginsel is Pepkor egter van mening dat hierdie bevel inbreuk maak op sy reg om sake te doen en dat hy van voorneme is om ’n aansoek na die Appèlhof te bring vir verlof tot appèl.”

Die maatskappy glo sy kanse op sukses is goed.

Volgens Pepkor is dit “tersaaklik” dat Pepkor in 2017 vir Tekkie Town van Steinhoff vir ’n waarde gekoop het. Die maatskappy glo dit is ook tersaaklik dat “die aanskaffing van Tekkie Town deur Pepkor met die volle toestemming en deelname van die voormalige eienaars, Braam van Huyssteen en Bernard Mostert, gedoen is”. Hulle was in daardie stadium direkteure van Tekkie Town.

Pepkor hou vol dat Steinhoff geen regsposisie het om Tekkie Town te verkoop nie.

Meer oor:  Steinhoff  |  Tekkie Town  |  Pepkor  |  Braam Van Huyssteen  |  Leon Lourens  |  Markus Jooste  |  Bedrog  |  Maatskappye  |  Steinhoff-Skandaal  |  Appelhof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.