Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff-sake in SA gaan versnel word, sê regter

Die hooggeregshof in Kaapstad beoog om al die eise teen Steinhoff op ’n versnelde grondslag te hanteer.

“Dit gaan nie 12 jaar vat om Steinhoff af te handel nie,” het regter Nathan Erasmus Donderdag gesê.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, is onlangs in die parlement deur Steinhof as die beweerde baasbrein agter verdagte transaksies uitgewys.

Hy het by ’n dringende aansoek om ’n tussentydse interdik te kry teen Steinhoff om nie sy Pepkor-aandele te verkoop nie bekend gemaak regter-president John Hlophe het hom versoek om die sake te bestuur sodat van die tussenvonnisse verminder kan word om “so spoedig moontlik by die hoofsake uit te kom sodat die verhore plaasvind en die sake voltooi kan word”.

Adv. André Smalberger SC, wat namens Steinhoff opgetree het, het gesê daar is sowat 10 tot 11 sake teen Steinhoff.

Die jongste eis teen Steinhoff is deur sy bemagtigingsvennoot Lancaster 101 gebring. Dit beloop R12 miljard.

Netwerk24 het voor die aansoek gebring is die lys van hofsake teen Steinhoff opgestel. Ten minste nog drie eise is ingedien waaroor nog nie berig is nie en nie op die lys is nie. 

Die grootste eis wat al verlede jaar gebring is, is dié van Christo Wiese, voormalige voorsitter van Steinhoff en voorheen grootste aandeelhouer, teen die groep van amper R60 miljard.

“As gevolg van die kompleksiteite van die getalle wat betrokke is en die impak op die ekonomie moet dit so vinnig moontlik deur die hofproses kom,” het Erasmus gesê.

Volgens hom word verwag baie van die sake gaan in die appèlhof en in die konstitusionele hof draai.

Hy het vir ’n lys van al die saaknommers gevra en dat aangedui word waar dit in die proses is “sodat dit eerder vroeër as later aangehoor kan word”.

Hy het gesê die hooggeregshof sal bepaal wat gedoen kan word om die prosesse te versnel om die sake tot verhoor te bring.

“Ons wil nie hê dit moet 12 jaar vat en die verhoor-rol verstop nie. Dit is ’n nagmerrie en omdat dit ondernemings is, laat dit (hoe lank dit duur) hul kreupel.”

Erasmus het dié nuus aangekondig nadat hy die vertoë van die applikante en respondente aangehoor het in ’n dringende aansoek om ’n tussentydse interdik te kry teen Steinhoff om hom te belet om in Pepkor-aandele handel te dryf.

Dit was die eerste keer wat Steinhoff in ’n Suid-Afrikaanse hof ’n saak verdedig het sedert die ineenstorting van sy aandeelprys in Desember 2017 nadat aangekondig is ongerymdhede met sy boeke het meegebring dat hy nie sy jaarstate kan uitreik nie.

Die dringende aansoek is deur vyf maatskappye gebring wat onder andere deur Braam van Huyssteen, stigter van Tekkie Town, besit word. Die vyf applikante is ook die eisers in ’n saak teen Steinhoff wat verlede jaar gebring is om Tekkie Town terug te kry.

Hulle vra vir die interdik tot hul hoofsaak aangehoor word.

Die aansoek volg ná die onlangse onthulling deur Steinhoff dat Markus Jooste, sy voormalige uitvoerende hoof, ’n groep van topbestuur en eksterne samesweerders gelei het om die boeke van die groep te bekook. Die onthulling onlangs in die parlement volg ná ’n forensiese ondersoek van langer as ’n jaar oor die ongerymdhede met Steinhoff se boeke.

Die applikante het aangevoer dit bekommer hulle dat

Steinhoff voortgaan met die verkoop van sy bates om kontant te kry om likwidasie af te weer. Die aansoek is gebring nadat Steinhoff sy aandele in KAP Industrial verkoop het.

Die aansoek is teen Steinhoff International Holdings NV, Pepkor Holdings Beperk, Pepkor Speciality, Tekkie Town en Town Investments gebring.

Erasmus beoog om Vrydag ’n bevel uit te reik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.