Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff se Pepco vaar puik in Europa
Pepco, wat 1 300 winkels in onder meer Pole en Roemenië bedryf, word as een van Steinhoff se winsgewendste ondernemings beskryf.

Steinhoff se Europese filiaal Pepco het sy inkomste in die Desember-kwartaal met ’n stewige 13,3% gegroei.

Die Pepco-groep besit buiten Pepco-winkels in Sentraal- en Oos-Europa ook Dealz, wat in Ierland, Pole en Spanje winkels het, en Poundland, wat in Brittanje sake doen.

Die vierde kwartaal van die jaar is die eerste in Pepco se boekjaar, wat tot einde September duur. Luidens ’n verklaring verteenwoordig dit jaarliks nagenoeg ’n derde van die voljaarinkomste.

Die groei in inkomste is grootliks aangedryf deur die opening van nuwe winkels. In winkels wat ook in die eerste kwartaal van die 2019-boekjaar oop was, het verkope met 3,9% gegroei.

Die groep se inkomste het met 13,3% tot €1,143 miljard gestyg. Pepco-winkels se inkomste het met 24,6% tot €597 miljoen gestyg. Vergelykbare verkope vir die groep het met 3,9% gestyg, vir Pepco 6,6% en vir Poundland en Dealz saam met 1,3%.

Daar is nou 1 898 Pepco-winkels en 911 Poundland- en Dealz-winkels saam, vir altesame 2 809 winkels. Dit verteenwoordig groei van 21% in die aantal Pepco-winkels en 3,9% vir Poundland en Dealz, en 14,8% vir die hele Pepco-groep.

Die handelsverklaring kom nadat Sky News Maandag berig het die voormalige eienaar van Poundland oorweeg dit om ’n oorname saam met twee private beleggingsgroepe te doen.

Die transaksie wat oorweeg word, waardeer Pepco op nagenoeg R74 miljard (€4,5 miljard).

Advent International, wat Poundland ’n dekade gelede aan Steinhoff verkoop het, werk saam met Hellman & Friedman en Mid Europa Partners, luidens die berig.

Dit het Steinhoff se aandeelprys Dinsdag tot die hoogste vlak sedert Mei 2019 laat styg. Die aandeel het in ’n stadium selfs 52,8% hoër op R1,65 gestaan voordat dit 47,2% hoër op R1,59 gesluit het.

Pepco self het in die kwartaal 94 nuwe winkels geopen – 20% meer as ’n jaar gelede. Nog 23 winkels is vergroot of verskuif. Vir die volle boekjaar beoog die groep om nog 300 Pepco-winkels te open, insluitend die eerste van tien beoogde winkels in Italië in April.

Pepco se vergelykbare verkope oor die afgelope twee jaar was 17%. Die winkels hou aan om sy aanbod uit te brei en sê sy besluit om speelgoed en Kersversierings te verkoop, werp veral vrugte af.

Poundland

Poundland se vergelykbare verkope het met 1,3% gegroei. Die winkel het op 23 Desember rekordverkope gehaal en byna 1,6 miljoen klante bedien.

Veral klere vaar goed sedert dit bekend gestel is.

Dealz

Altesame 22 nuwe Dealz-winkels is geopen, wat beteken daar is nou 40% meer winkels as ’n jaar gelede. Nog 50 winkels gaan in die boekjaar geopen word.

Andy Bond, uitvoerende hoof van Pepco, sê in ’n verklaring die groep sien nog heelwat geleenthede in Sentraal-Europa.

“Met ’n gevestigde strategie, leidende aanbod aan klante binne ’n struktureel gevorderde afslag-kleinhandelsegment, en ’n sterk finansiële basis, bly ons vol vertroue oor ons vooruitsigte vir voortgesette groei oor die hele Europa in die res van die boekjaar en daarna.”

Meer oor:  Steinhoff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.