Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff se plan met skuld wat sy wins verdwerg

Die beleërde Steinhoff het Dinsdag erken hy sit met te veel skuld omdat die opgeloopte rente daarop sedert Desember meer as die wins in die jongste halfjaar beloop.

Louis du Preez, wat van verlede jaar die uitvoerende hoof van Steinhoff is. Foto: Adrian de Kock

Die groep het Dinsdag die eerste aanbieding oor sy finansiële resultate aan beleggers gehou sedert die opspraakwekkende gebeure in Desember 2017 wat tot die ineenstorting van sy aandeelprys gelei het.

Philip Dieperink, finansiële hoof, sê einde Maart het die totale skuld van die groep byna 10,8 miljard beloop.

Die deel waarvoor die moedermaatskappy, Steinhoff NV, die waarborggewer is en wat herstruktureer moet word, beloop byna 9 miljard.

Volgens Dieperink beloop die rente wat op dié skuld opgeloop het sedert ’n reëlingskema met skuldeisers in Desember in werking getree het, 421 miljoen.

Die groep se bedryfswins voor finansieringskoste en waardevermindering (ebitda) uit voortgesette ondernemings het in die halfjaar tot einde Maart 393 miljoen beloop.

Nie winsgewend genoeg

Louis du Preez, uitvoerende hoof, sê daar is bedryfsmaatskappye in Steinhoff se stal wat goed vaar, maar daar is ook ander ondernemings wat sukkel.

Die rekeningkundige ongerymdhede het boonop "ook die swak finansiële prestasie van sekere van die ondernemings verbloem”.

Terwyl die groep se omset sterk is, is die groot probleem sy winsgewendheid, sê Du Preez. “Die rente verskuldig vergeleke met die wins, is ’n kommerwekkende syfer om na te kyk.”

Wilhelm Hertzog, portefeuljebestuurder van Rozendal Partners, wou in vraetyd weet met die skuld en die wins op dié vlakke en die talle regsgedinge teen die groep wat ’n bykomende aanspreeklikheid meebring, wat bly oor vir aandeelhouers?

“Dit is ’n billike vraag waarmee ons ook worstel. Dit is duidelik dat die winsgewendheid ’n probleem is,” het Du Preez gesê.

“Al hoe dit opgelos kan word, is om die skuld te verminder, want ons kan nie uit dié situasie uit handel dryf nie.”

Hy sê hulle sal teen volgende jaar met krediteure en aandeelhouers begin gesels oor nog bates wat verkoop kan word.

Du Preez het in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê dit kan ’n opsie insluit om ’n belang in Pepkor Europa te verkoop deur middel van ’n notering.

Daar is verlede week oor dié moontlikheid bespiegel, maar hy sê geen besluit is al op die tafel nie.

Komplekse herstrukturering 

Die groep is besig met ’n komplekse finansiële herstrukturering wat 20 maande geneem het om tot dié punt te kom. “Om te sê dit was hoogs kompleks en veeleisend, is om dit lig te stel.”

Die finansiële herstrukturering bestaan uit 'n reëlingskema met skuldeisers wat in Desember goedgekeur is, en ’n skuld-stilstand. Die skuld-stilstand sal geld tot einde Desember 2021.

Die finansiële herstrukturering is noodsaaklik om die groep te stabiliseer omdat die gebeure van Desember 2017 veroorsaak het dat al die skuld van die groep betaalbaar geword het, het hy verduidelik. 

Die uitwerking van die herstrukturering is dat die verskillende skuldinstrumente van die groep heruitgereik word. Du Preez sê dit is uiters duur skuld. 

Volgens hom gee die skuld-stilstand die groep tyd om die skuld te verminder deur bates te verkoop.  

Du Preez sê die skuldlas kan ook hanteer word deur die kapitaalstruktuur van die moedermaatskappy te verander. “Maar dan moet jy mense oortuig van sy toekoms. En dit gaan nie gebeur as die regsgedinge nie eerste opgelos word nie.”

Steinhoff wil skik oor regsgedinge

Hy sê daarom werk die bestuur hard daaraan om ’n skikking te vind vir die talle regsgedinge. Dit sluit in die groepsgedinge teen die groep asook verskeie eise van partye wat belange in ondernemings aan Steinhoff verkoop het in ruil vir sy aandele.

“Die belangrikste is om die regsgedinge uit te sorteer, want niemand gaan met jou praat oor ’n nuwe kapitaalstruktuur as dit (die regsgedinge) oor die groep hang nie.”

Die toekoms is onseker

Hy sê daar is mense wat vra waar Steinhoff gaan opeindig. “Ek wil hê ons moet eerlik antwoord. Daar is in ’n mate onsekerheid oor wat môre vir Steinhoff inhou. Ons glo as die sterk ondernemings in die groep gekoester word, is daar ’n môre. Ons moet seker maak die sterk ondernemings kry die geleentheid om voort te presteer en dat Steinhoff se eienaarskap nie ’n hindernis daarvoor is nie.”

Pepkor in Suid-Afrika en Pepkor in Europa is sy sterk ondernemings.

Du Preez meen waar Steinhoff voorheen ’n tipe bedryfsmaatskappy was met tesourie-; finansierings- en ander korporatiewe funksies op groepvlak, moet die wyse waarop die groep bedryf word, verander.

“Ons glo die enigste manier waarop die groep kan oorleef, is as hy ’n suiwer beleggingsbeheergroep word wat ondernemings in die kleinhandel en verwante bedrywe besit. Daarom word bates verkoop wat nie in dié sektore val nie.”

Hy het aan Bloomberg gesê dit kan behels dat van die belange in sy kleinhandelaars verklein word.

As alles goed verloop tot einde 2021 en die regsgedinge is uitgesorteer, kan aandeelhouers dalk dan genader word vir ’n herfinansiering.

“Maar dit gaan afhang van wat die skuldvlak in daardie stadium is. Dit kan nie tot dan gelos word nie. Ons sal waarskynlik volgende jaar met leners en aandeelhouers begin praat.”

Meer oor:  Steinhoff  |  Philip Dieperink  |  Louis Du Preez  |  Herstrukturering  |  Wins  |  Rente  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.