Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff se Steenbok laat regter kopkrap

“Hoe uitlands kan ’n maatskappy wees as sy naam Steenbok is?”

The headquarters of Steinhoff International Holdin
Die hoofkantoor van Steinhoff in Stellenbosch. Foto: Getty Images

Regter Lee Bozalek het Maandagnamiddag in die hooggeregshof in Kaapstad ’n gelag uitgelok toe hy dié vraag gevra het in ’n hofsaak waarin ’n Suid-Afrikaanse maatskappy in die Steinhoff-groep se finansiële bystand aan ’n oorsese onderneming in die groep ter sprake gekom het.

Adv. Werner Lüderitz SC, wat vir die onderneming Hamilton optree, het op Bozalek se vraag geantwoord “dit behoort die debat te beëindig”.

Hamilton het tot die aansoek toegetree wat Trevo Capital – ’n maatskappy wat aan die familie van Pieter Erasmus, oudhoof van Pepkor, behoort – teen Steinhoff International Holdings (Edms.) Bpk. (SIHPL), Global Loan Agency Services Beperk en die finansiële krediteure van Steinhoff (soos omskryf in die bepalings van die skikkingsooreenkoms van die groep) gebring het.

Trevo vra die hof om twee ooreenkomste van SIHPL – naamlik ’n waarborg wat in 2014 aan Steinhoff Finance Holding GmbH (SFHG) verskaf is en ’n betalingsonderneming wat in 2019 aan Steenbok Lux Fin 1 verskaf is – ingevolge art. 45 (6) van die Maatskappywet nietig te verklaar.

Die wetsartikel het die doel om misbruik deur ’n direksie te voorkom wanneer finansiële hulp aan verwante (of onderling verwante) partye verleen word.

Die aansoek is op ’n dringende grondslag gebring.

Die vraag van Bozalek het verband gehou met ’n lang bespreking oor of art. 45 op buitelandse maatskappye van toepassing is. SFHG en Steenbok Lux Finco 1 is albei oorsese maatskappye.

Steinhoff voer aan art. 45 is nié op buitelandse maatskappye van toepassing nie.

Finansiële krediteure voorgetrek

Trevo soek ook ’n interdik om SIHPL te verhinder om enige betalings (in kontant of andersins) aan die finansiële krediteure te doen wat voortspruit uit die nietig verklaarde waarborg of betalingsonderneming of enige skikking wat dié Suid-Afrikaanse maatskappy voorstel.

SIHPL beoog om ’n skikking van sy finansiële verpligtinge met drie kategorieë van skuldeisers ingevolge art. 155 van die Maatskappywet voor te stel.

Die eise spruit uit die sowat 6,5 miljard-bedrog met die groep se boeke.

Trevo het ook ’n eis teen SIHPL ingestel vir die verlies aan R2,1 miljard wat gely is as gevolg van die opsetlike, alternatiewelik nalatige wanvoorstellings in sy finansiële jaarstate van 2015.

As die aansoek suksesvol is, gaan die finansiële krediteure wie se eise voortspruit uit die destydse skuldbrief nie ’n kategorie van krediteure wees soos in die skikkingsvoorstel in die vooruitsig gestel word nie. Dit gaan ’n wesenlike impak hê op die geld wat beskikbaar is om aan ander krediteure en eisers.
Adv. Alasdair Sholto-Douglas

In die voorgestelde art. 155-skikking wat SIHPL beoog met Trevo en ander krediteure, is daar drie kategorieë van krediteure, naamlik die finansiële en kontraktuele krediteure en die eisers wat hul aandele in die mark gekoop het (MPC).

Trevo is ingedeel in die MPC-kategorie.

Volgens adv. Alasdair Sholto-Douglas SC, wat vir Trevo optree, gee die voorstel voorkeurbehandeling aan finansiële krediteure, teenoor met MPC-eisers en die kontraktuele eisers.

Ingevolge die skikkingsvoorstel van Steinhoff is finansiële krediteure die begunstigdes van die betalingsonderneming wat SIHPL in 2019 aan Steenbok Lux Finco 1 toegestaan het. Daar word voorgestel dat hulle 100c uit die rand kry.

Daarteenoor gaan MPC-eisers, soos Trevo, tussen 4c en 6,6c uit die rand kry.

Waarborg afgelos en vervang

Die eise van die finansiële krediteure teen SIHPL spruit uit ’n omskepbare skuldbrief (wat 465 miljoen werd is) wat in Januarie 2014 deur SFHG aan die krediteure uitgereik is toe geld by hulle geleen is.

Die skuldbrief sou einde Januarie verval en is deur SIHPL gewaarborg.

Dit is die eerste ooreenkoms wat Trevo nietig wil verklaar.

Ná die onthulling van die ongerymdhede met die groep se boeke in Desember 2017, wat tot ’n enorme val in die aandeelprys in die moedermaatskappy gelei het, het SFHG ’n wanbetaling op die skuldbrief begaan. Die skuldbriefhouers het in Desember 2018 ’n onmiddellike terugbetaling van die skuld geëis.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff. Hy het skielik bedank toe die ouditfirma Deloitte in Desember 2017 geweier het om die maatskappy se jaarresultate af te teken.

Ná onderhandeling is die skuld geherstruktureer.

Sholto-Douglas voer in die betooghoofde aan die uitwerking was dat SFHG se aanspreeklikheid aan finansiële krediteure afgelos en vervang is deur ’n nuwe aanspreeklikheid teen ’n maatskappy in die groep, naamlik Steenbok Lux Finco 1, onder ’n nuwe lening.

Dit het ook tot gevolg gehad dat SIHPL se aanspreeklikheid onder die waarborg afgelos en vervang is ingevolge die betalingsonderneming waardeur die maatskappy ’n nuwe aanspreeklikheid aangegaan het.

Dít is die tweede ooreenkoms wat Trevo nietig wil verklaar.

Vereistes nie nagekom

Trevo voer in die betooghoofde aan dat die direksie van SIHPL nie die vereistes van die wet ten opsigte van solvensie en likiditeit nagekom het vir die finansiële hulp wat verskaf is nie.

Trevo voer aan ingevolge art. 45 moet die direksie nie sulke finansiële hulp magtig as hulle nie tevrede is dat die maatskappy aan die solvensie- en likiditeitstoets voldoen van art. 45 van die wet nie. Dié artikel vereis ’n maatskappy se solvensie en likiditeit moet gegrond wees op die boekhourekords en finansiële state.

’n Ontleding oor die finansiële posisie van SIHPL, wat bevestig is deur ’n onafhanklike kundige, prof. Geoff Everingham, emeritusprofessor in rekeningkunde van die Universiteit van Kaapstad, dui aan die maatskappy was feitelik en wesenlik insolvent toe die waarborg uitgereik is in 2014 en dat sy laste sy bates tussen 700 miljoen en 1,5 miljard oorskry het.

Trevo voer aan gegewe die omvang van SIHPL se insolvensie en die aksies en kennis van ’n groep uitvoerende direkteure, insluitende Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, en Ben le Grange, voormalige finansiële hoof, kon die direkteure nie, as hulle redelik opgetree het binne die wetsvereistes, tevrede gewees het dat die likiditeit- en solvensietoets nagekom is nie.

Jooste en Le Grange was Desember 2013 op die direksievergadering waar die waarborg goedgekeur is.

Bozalek wou weet of Trevo nie nou die voordeel van terugskouing het met die ongerymdhede met Steinhoff se boeke wat aan die lig gekom het nie.

Dit is nou bekend dat SIHPL se finansiële state sedert minstens 2009 fiktiewe transaksies en ongerymdhede bevat het.

Sholto-Douglas het redes uiteengesit vir hoekom die direksie al in 2013 onraad moes vermoed het op grond van die jaarstate. Dit sluit in ten opsigte van hoe oordryf die klandisiewaarde en ontasbare bates was; die likiditeitsituasie gegrond op wyd aanvaarde finansiële verhoudings en in watter finansiële verknorsing JD-group was wat Steinhoff ’n jaar vantevore gekoop het sonder dat enige afskrywings aan die belegging oorweeg is.

Groter ‘pot’ van geld

“As die aansoek suksesvol is, gaan die finansiële krediteure wie se eise voortspruit uit die destydse skuldbrief nie ’n kategorie van krediteure wees soos in die skikkingsvoorstel in die vooruitsig gestel word nie.

“Dit gaan ’n wesenlike impak hê op die geld wat beskikbaar is om aan ander krediteure en eisers van SIHPL uit te betaal, insluitend Trevo, meen Sholto-Douglas.

“Daar gaan minstens 465 miljoen meer in die pot wees vir verspreiding.”

“Gegewe die omvang van die insolvensie en dat sy boekhoudingsrekords en finansiële state sedert minstens 2019 fiktiewe transaksies en ongerymdhede bevat – wat Steinhoff N.V. in die openbaar erken het – voer Trevo aan die direksie van SIHPL kon homself nie, as hy redelikerwys opgetree het, tevrede stel dat daar aan die solvensie- en likiditeitstoets voldoen is nadat die waarborg verskaf is nie,” sê Sholto-Douglas.

Die saak duur Dinsdag voort.

Meer oor:  Steinhoff  |  Pepkor  |  Trevo  |  Hamilton  |  Kleinhandelaars  |  Meubelhandel  |  Bedrog  |  Sakeredding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.