Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff skors 2 hoës
Ben la Grange. Foto: Verskaf

Steinhoff International het Ben la Grange, voormalige finansiële hoof van die groep, en Stéhan Grobler, ’n voormalige direkteur, geskors.

Dis die eerste stappe wat teen huidige werknemers van die maatskappy gedoen word sedert die maatskappy se skokaankondiging in Desember dat hy nie sy jaarstate kan uitreik nie.

Hoewel sowel La Grange as Grobler vroeër vanjaar uit hul poste getree het, was hulle steeds in diens van Steinhoff op korttermyn-konsultasiekontrakte wat met hulle gesluit is.

Dit is daardie kontrakte wat nou opgeskort is as deel van ’n forensiese ondersoek deur PwC na die finansiële ongerymdhede wat die aandeelprys sedertdien in duie laat stort het.

Hul vertrek beteken ook moontlike aanspreeklikheid strek nou wyer as net tot by Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff wat bedank het en wie se optrede deur die polisie ondersoek word.

La Grange (43) het vir byna vyf jaar onder Jooste as finansiële hoof gewerk.

Grobler se posisies in die maatskappy sluit dié van maatskappysekretaris en uitvoerende direkteur van tesourie en finansiering in.

La Grange se prokureur, Chris Hessian, het nie dadelik op navrae gereageer nie. Grobler het telefonies gesê hy word deur vertroulikheidsooreenkomste gebind en kan nie kommentaar lewer nie.

Steinhoff se krisis is ontketen toe die ouditeursfirma Deloitte geweier het om sy finansiële resultate vir die boekjaar tot einde September 2017 af te teken.

Dié internasionale maatskappy, met handelsname soos Conforama in Frankryk en Mattress Firm in die VSA in sy stal, het sedertdien gesê sy jaarstate sal tot so ver terug as 2015 herbereken moet word.

PwC fokus in sy verslag op ’n reeks transaksies deur derde partye asook opgeblase winste.

Die kleinhandelaar het reeds bates ter waarde van meer as $14,5 miljard afgeskryf en het dit ’n prioriteit gemaak om diegene te identifiseer wat vir die verlies verantwoordelik is.

Onder Jooste en La Grange het Steinhoff teen ’n geweldige spoed internasionaal en plaaslik uitgebrei. Hoewel sy verkrygings, soos Pepkor Holdings, Poundland en Mattress Firm, steeds in bedryf is, sukkel Steinhoff om kop bo water te hou selfs nadat hy verlede maand tot die herstrukturering van sy skuld ingestem het.

Die aandeel het reeds 96% van sy waarde verloor sedert die skandaal op 5 Desember uitgebreek het.

Vroeër is berig dat La Grange dalk deur die Suid-Afrikaanse parlement gedagvaar gaan word om volgende week te verskyn nadat hy geweier het om te verskyn omdat sy prokureur nie op die aangewese datum beskikbaar was nie. - Bloomberg

Meer oor:  Steinhoff  |  Marcus Jooste  |  Ben La Grange  |  Maatskappye  |  Skandaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.