Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff: Só waarsku Jooste glo oor aandeelprys
’n Skermgreep uit die hofstukke wat die beweerde teksboodskap bevat wat Markus Jooste 30 November 2017 net ’n paar dae voor die bom oor Steinhoff gebars het aan Jaap du Toit gestuur het. Foto:

“Jy het altyd my opinie gevra ... Steinhoff gaan lank sukkel om al die bad nuus en Amerika te verwerk, so daar is beter plekke om jou geld te belê, vat onmiddellik die huidige prys en delete hierdie SMS en moenie aan enige iemand noem nie.”

Dié teksboodskap (geredigeer vir spelfoute), wat Markus Jooste na bewering op Donderdag 30 November gestuur het, is onthul in ’n eis wat in Maart vanjaar deur die trustees van die Le Toit-trust teen hom gebring is.

Die hofdokumente is nou openbaar gemaak nadat ’n verhoor verlede week plaasgevind het oor die beswaar teen die besonderhede van die eis wat Jooste aangeteken het. Hy het verkies om beswaar aan te teken teen die besonderhede van die eis eerder as om ’n verweerskrif in te dien en hom dus teen sulke aantygings te verweer.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff. Foto: Argief

Die Le Toit-trust eis R740 miljoen van Jooste vir PSG-aandele wat in 2015 vir Steinhoff-aandele geruil is.

Die trustees van die trust voer aan Jooste en Ben la Grange, voormalige finansiële direkteur van Steinhoff, het toe reeds geweet dat die finansiële inligting van die maatskappy vals en misleidend was.

Jaap du Toit, medestigter en jare lange direkteur van die PSG-groep, is een van die trustees en hy het glo einde November die teksboodskap van Jooste ontvang.

In die besonderhede van die eis word na dié teksboodskap, ’n e-pos en nog ’n teksboodskap aan Jo Grové, voorheen ’n direkteur van Steinhoff, en vriend van Jooste, verwys. Du Toit-hulle voer aan die boodskappe wat na bewering deur Jooste gestuur is, kan beskou word as bevestiging van sy kennis van die omvang van die vals en misleidende voorstellings.

Die teksboodskap is die eerste wat nou in openbare dokumente ondersteuning gee aan beweringe dat Jooste vriende en kennisse van hom vooraf gewaarsku het. Bloomberg het in Oktober 2018 berig Jooste het ’n teksboodskap aan vriende gestuur. Minstens twee mense het bevestig hulle het die teksboodskap gekry oor slegte nuus wat glo kom en dat hulle hul aandele moet verkoop. Dié boodskap is ook om en by 30 November gestuur.

Nie Jooste of sy prokureur Callie Albertyn het toe op vrae van Bloomberg kommentaar gelewer nie.

Die teksboodskap (waarvan die tyd nie aangedui word nie) wat nou in die hofstukke onthul is, sou iemand kans kon gee om minstens nog die Vrydag handel te dryf voordat die res van die mark van enige probleme met Steinhoff se boeke bewus geword het.

Steinhoff het op Maandag 4 Desember aangekondig sy jaarstate gaan steeds die Woensdag 6 Desember uitgereik word, maar dat dit ’n ongeouditeerde weergawe gaan wees. Sy aandeelprys het toe skerp geval.

Laataand Dinsdag ná die sluiting van die markte is in Duitsland – waar Steinhoff sy hoofnotering het – aangekondig dat Jooste bedank het; dat sy jaarstate nie uitgereik kan word nie omdat die ouditeure dit nie wou afteken nie; en dat ’n forensiese ondersoek oor ongerymdhede met sy boeke begin.

Dié aankondiging is eers Woensdag, kort voordat die mark geopen het, op die JSE uitgereik.

Steinhoff se aandeelprys het daarna oor ’n afgrond geval.

Die e-pos waarna in die hofstukke verwys word, is reeds wyd bekend omdat dit al voorheen in die media gepubliseer is. Jooste het dit op 5 Desember aan sekere personeel gestuur. Dit lui (in Engels): “Hi daar. Eerstens wil ek verskoning maak vir die swak publisiteit wat ek vir Steinhoff die afgelope maande veroorsaak het. Nou het ek verdere skade vir die maatskappy veroorsaak deurdat ek nie die geouditeerde jaarstate kon finaliseer nie, en ek het sekere groot foute gemaak en het nou ’n finansiële verlies vir baie onskuldige mense veroorsaak ...” (Sien die skermgreep van die volledige brief soos in die hofstukke vervat is.)

’n Skermgreep van die e-pos wat Markus Jooste reeds in die parlement erken het hy het gestuur maar ontken dat dié foute waarna hy verwys het met die ongerymdhede met die boeke te doen het. Foto:
So vervolg die e-pos aan personeel en ander wat Markus Jooste op 5 Desember uitgestuur het. Foto:

Die teksboodskap aan Grové is 6 Desember gestuur (sien skermgreep).

Die beweerde teksboodskap wat Markus Jooste aan Jo Grové, ’n vriend en jarelange direkteur van Steinhoff, gestuur het op die dag van die ineenstorting van die maatskappy se aandeelprys. Foto:

LEES OOK: SMS van Markus Jooste aan vriend sien die lig

Netwerk24 het al verskeie kere berig oor sake van binnehandel wat die Gedragsowerheid vir die Finansiëledienstesektor (FSCA) probeer ondersoek oor die verhandeling van Steinhoff se aandele.

Die laaste nuus van die FSCA was in April en toe het die wetstoepasser gesê geen binnehandel is gevind in sowat R1,7 miljard se aandele wat in die week voor die skokaankondiging in Desember in Steinhoff verhandel het nie.

LEES OOK: Steinhoff: Nog g’n teken van binnehandel gevind

Nuwe vrae hieroor is na die FSCA gestuur. Die berig sal opgevolg word wanneer antwoorde ontvang word.

Solly Keetse, hoof van markmisbruik van die FSCA, het in Oktober 2018 aan Bloomberg oor die teksboodskappe gesê “omvattende ondersoeke” oor moontlik oortredinge word ondersoek, maar die inligting is vertroulik.

* La Grange het in sy verweerskrif in die eis teen Steinhoff waar hy ook as derde party gevoeg is die aantygings teen hom ontken. 

Meer oor:  Steinhoff  |  Markus Jooste  |  Meubels  |  Meubelhandel  |  Kleinhandelaars  |  Bedrog  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.