Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff bring eis teen Markus Jooste se Mayfair

Steinhoff het ’n eis teen Mayfair Speculators, die beleggingsvoertuig van sy gewese uitvoerende hoof Markus Jooste ingestel, maar het self ook nog talle eise – waaronder een van R14 miljard – ontvang.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff.

Steinhoff se jongste jaarverslag, vir die boekjaar tot einde September 2019, toon hoe die reeds lang lys van eise teen Steinhoff aangegroei het.

Verskeie regsgedinge is reeds teen die groep aanhangig gemaak sedert sy aandeelprys in Desember 2017 in duie gestort het ná die aankondiging dat sy jaarresultate nie uitgereik kan word nie omdat ongerymdhede in sy syfers ondersoek moet word.

Jooste, wat jare lank Steinhoff se uitvoerende hoof was, het tot die skok van beleggers dieselfde dag bedank.

Die groep sê hy evalueer ook potensiële eise wat ingestel kan word teen partye wat by die ongerymdhede geïmpliseer word.

Die groep verwag dat sy regskoste wesenlik hoog gaan bly omdat hy probeer om die regsgedinge teen hom op te los en geld van voormalige direkteure en verwante partye probeer verhaal.

Volgens Theodore de Klerk, finansiële direkteur van Steinhoff, is die eis in Desember 2019 teen Mayfair ingedien.

Mayfair Speculators het aan die begin van 2018 ’n reëlingskema, wat deur die hof goedgekeur is, met sy skuldeisers getref aan wie honderdmiljoene rande geskuld is, waaronder die groot Suid-Afrikaanse banke Investec en Absa, asook Sanlam.

“Ons glo van Steinhoff se bates het in Mayfair opgeëindig,” sê De Klerk. Volgens hom het dit uit die forensiese ondersoek aan die lig gekom.

Callie Albertyn, Jooste se regsverteenwoordiger, het vrae na die prokureur verwys wat die reëlingskema hanteer en wou nie kommentaar lewer nie.

Jooste beantwoord reeds van 2017 nie navrae van die media nie. Hy het al in Desember 2017 as direkteur van Mayfair bedank.

Steinhoff bewe onder die regseise, wat volgens De Klerk 10 miljard (R192,5 miljard in vandag se wisselkoers) beloop. 

Links is Stefan Potgieter, Markus Jooste se skoonseun, wat tans die enigste direkteur van Mayfair is, en Derek Brugman, Mayfair Speculators se perdebestuurder, in 2016 by die Durban July. Die perd The Conglomerate het dié wedren gewen. Dit het aan Markus en Ingrid Jooste behoort. Dié foto was onder foto’s wat Vodacom aan die media beskikbaar gestel het.

Louis du Preez, Steinhoff se uitvoerende hoof, sê in die jaarverslag, wat op 30 Junie afgeteken is, dat nadat die finansiële herstrukturering voltooi is, is die volgende stap om ’n oplossing vir die regsgedinge teen die groep te vind. Die derde stap is om skuld te verminder en bates te verkoop.

“As ons vorentoe kyk, is dit duidelik dat die beste manier om waarde vir belanghebbendes te beskerm en te verbeter, is om die litigasie op te los en ons skuld- en finansieringskoste te verlaag.”

De Klerk sê hullle hoop Steinhoff gaan binne hierdie boekjaar nog tot ’n vergelyk met al die partye kom.  

Volgens hom het hulle reeds met talle van die eisers gesels oor die moontlikheid om 'n skikking te bereik. 

Die direksie vestig aandeelhouers se aandag in die jaarverslag daarop dat Steinhoff se laste in die boekjaar onder oorsig meer as sy bates was. Boonop het hy werklike risiko’s, soos die regsgedinge, wat ’n wesenlike finansiële blootstelling skep.

Louis du Preez, uitvoerende hoof van Steinhoff. Foto: Adrian de Kock

’n Eis is ook teen die Oostenrykse onderneming Top Global ingestel. In die vorige jaarverslag is gesê ’n lening is sonder enige vorm van sekuriteit aan Top Global toegestaan. Dit lyk asof die lening R463 miljoen beloop het. Top Global het dit weer aan die onderneming Geros B uitgeleen. Daarmee het ’n filiaal, Geros Financial Services, twee debiteureboeke en ’n belang van 70% in die onderneming Blake & Associates van Steinhoff gekoop. Geen formele leningsooreenkoms bestaan nie, luidens die 2018-jaarverslag.

Die groep het reeds individue soos Jooste en Ben la Grange, voormalige finansiële direkteur, bygevoeg by van die eise teen hom. Eise is reeds ’n jaar gelede ook afsonderlik teen Jooste en La Grange in die hooggeregshof aanhangig gemaak om van hul salarisse en bonusse te verhaal.

Die regsgedinge teen die groep sluit talle groepsgedinge in.

Een so ’n hofgeding wat in Augustus 2018 deur Dorethea de Bruyn in Suid-Afrika aanhangig gemaak is om ’n hofsaak teen SIHPL, Steinhoff NV en Steinhoff Secretarial Services as ’n groepsgeding te laat sertifiseer, is op 26 Junie deur die hooggeregshof in Johannesburg met koste van die hand gewys.

Nuwe regsgedinge

Sedert die einde van die boekjaar tot einde September 2019 is minstens nog agt eise teen die Steinhoff ingedien.

Dit sluit in:

  • ’n Regsgeding vir R14 miljard plus rente wat Hamilton op 26 Junie in die hooggeregshof in Kaapstad ingedien het. Hamilton het reeds in die distrikshof in Amsterdam ’n skadevergoedingseis teen Steinhoff NV en SIHPL asook ander partye weens die beweerde wanvoorstelling van die Steinhoff-groep se finansiële posisie ingedien.
  • Michael John Morris het in Desember 2019 ’n skadevergoedingseis van R69,4 miljoen teen SIHPL aanhangig gemaak op grond van beweerde wanvoorstellings in die gepubliseerde finansiële state.
  • Ronald Potter het ook in Desember op dieselfde gronde ’n eis vir ’n soortgelyke bedrag ingedien.
  • Francois Johan Malan het in Junie op dieselfde gronde ’n skadevergoedingseis van R13,2 miljoen ingestel.
  • Peter Andrew Berry het in Junie ’n eis van R92,3 miljoen ingestel.
  • Andre Frederick Botha het in Junie ’n eis van R13,2 miljoen ingestel.
  • Warren Wendell Steyn het ook in Junie dieselfde bedrag as skadevergoeding geëis.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.