Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff herwin veld in laat lopie
’n Stroewe Christo Wiese, voormalige voorsitter van Steinhoff, Woensdag in die parlement. Foto: Nellie Brand-Jonker

Steinhoff het Woensdagmiddag baie naby gekom aan net R2 per aandeel.

Die aandeel het egter veld herwin in ’n laatmiddag-lopie wat die aandeel weer tot R2,41 opgedruk het. Dit was 3,98% laer vir die dag.

Dít nadat die aandeel Woensdag in ’n stadium 17% laer op R2,05 verhandel het. Steinhoff se markwaarde het nou al met meer as 95% geval sedert die sluiting van R55,81 op 1 Desember.

Dit volg nadat die aandeelprys Dinsdag op ’n nuwe laagtepunt van R2,51 gesluit het nadat dit die dag met 15% gedaal het.

Die jongste daling in sy aandeelprys hou vermoedelik verband met nuwe onthullings oor transaksies wat verlede jaar met sy grootste aandeelhouer, Christo Wiese, plaasgevind het, na bewering sonder dat die normale prosesse vir openbaarmaking en korporatiewe bestuur daaroor gevolg is.

Wiese is nie meer Steinhoff se grootste aandeelhouer nie omdat aandele wat hy met lenings gekoop het, deur banke teruggeneem is toe die prys in Desember so skerp geval het.

Die JSE het voorheen gesê hy gaan nie die aandeel se verhandeling opskort nie omdat sy hoofnotering in Frankfurt is en dié aandeelbeurs dit eers moet doen.

Dit is ten spyte van die JSE se streng reëls oor onder meer die uitreiking van finansiële resultate binne drie maande ná die einde van die verslagdoeningstyd. Die verhandeling in aandele van Suid-Afrikaanse maatskappye wat versuim om dit te doen, kan opgeskort word.

Steinhoff het reeds dié reël oortree, maar die JSE voer aan as hy verhandeling opskort, word binnelandse aandeelhouers benadeel omdat buitelandse verhandeling nog voortduur.

Steinhoff se aandeelprys het begin tuimel nadat hy in die week van 5 Desember aangekondig het die uitvoerende hoof Markus Jooste het met onmiddellike ingang bedank en ongerymdhede met sy boeke word ondersoek. Die ondersoek deur PwC duur steeds voort.

Meer oor:  Steinhoff  |  Christo Wiese  |  Jse  |  Steinhoff-Skandaal  |  Aandeelprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.