Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff: Tekkie Town-stigters maak hart oop
In September verlede jaar het Steinhoff Africa Retail (Star) op die JSE genoteer. Steinhoff besit steeds die meerderheidsbelang in die maatskappy. Star besit onder meer Pepkor en Tekkie Town. Tweede van regs is Braam van Huyssteen, stigter van Tekkie Town, en derde van regs is Bernard Mostert, voormalige uitvoerende hoof van Tekkie Town. Nadat Steinhoff Tekkie Town gekoop het, het dié twee hulle by Star aangesluit. Foto: Verskaf

Hulle sit nou nog met elke enkele Steinhoff-aandeel wat hulle vir Tekkie Town gekry het, want hulle mag dit drie jaar lank nie verkoop nie.

“Die aandele is nou niks werd nie,” sê Warren Erfmann namens Tekkie Town se vorige eienaars oor hul eis van R1,7 miljard (sowat €120 miljoen) teen Steinhoff.

Erfmann, wat op George bly, waar Tekkie Town se hoofkantoor is, is een van die vorige eienaars wat nou aandele in Steinhoff hou. Hy is ’n voormalige nie-uitvoerende direkteur van Tekkie Town wat ná die transaksie afgetree het.

Erfmann sê hy was by die onderhandelinge met Steinhoff betrokke wat tot die R3,2 miljard-transaksie in 2016 gelei het.

Steinhoff het in 2016 die belang van die private-ekwiteitsgroep Actis in Tekkie Town vir kontant gekoop. Toe het hy die belang van 58% van die ander aandeelhouers en direkteure in Steinhoff-aandele betaal. Braam van Huyssteen, stigter van Tekkie Town, het die meeste van dié aandele gehou.

Hulle het aan ons vertel watter uitstaande lid van die samelewing Steinhoff was, maar dit was ’n maatskappy wat op strooi gebou is.
Warren Erfmann

“Hulle het Tekkie Town 100% met aandele gekoop. Ons het geen kontant gekry nie,” sê Erfmann. Streng reëls oor die verkoop van die aandele geld, onder meer tydsduur en hoe lank die persoon in Tekkie Town se diens was.

Hy erken dit is ongewoon. Op die vraag of dit hulle gepla het, erken hy: “Dit is bespreek.”

Steinhoff het die aanbod egter só “verpak” dat hulle dit aanvaar het.

“Hulle het ’n wonderlike storie aan ons verkoop.

“Toe ons ’n noulettendheidsondersoek na Steinhoff wou doen, is ons vertel: Moenie oor ons bekommerd wees nie, ons is een van die topmaatskappye op die JSE en ons het een van die top-ouditfirmas.

“Hulle het aan ons vertel watter uitstaande lid van die samelewing Steinhoff was, maar dit was ’n maatskappy wat op strooi gebou is.”

Volgens hom was Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof, by die onderhandelinge betrokke totdat hulle oor die prys ooreengekom het. Daarna het die maatskappy se onderhandelingspan dit verder geneem.

Van Huyssteen het hom ná die transaksie by Steinhoff aangesluit en werk tans vir Steinhoff Africa Retail (Star), waar hy onder meer voorsitter van Star se eiendomskomitee is.

Sommige mense het al aan Netwerk24 gesê hy en Jooste is vriende.

Erfmann sê dit is algemene kennis dat Van Huyssteen en Jooste ’n belangstelling in resiesperde gedeel het en albei was groot perde-eienaars.

Hy weet nie of hulle mekaar nog sien nie.

“Mense kan dit probeer verpak asof dit (die transaksie) met hul vriendskap verband gehou het, maar dit het kommersiële sin gemaak.

“Toe Steinhoff die transaksie met ons gedoen het, was sy aandeelprys tussen R80 en R90. Hy het baie verkrygings gedoen en was die liefling van die mark. Al die groot finansiëledienstemaatskappye het aandele in Steinhoff gehou.

“Ons het verkoop aan ’n fantastiese, groeiende maatskappy, en daar was baie sinergieë.”

Niemand by sy volle positiewe sal aan ’n maatskappy verkoop op wie se finansiële state jy nie kan staatmaak nie.
Warren Erfmann

Op die vraag hoe Van Huyssteen nou oor die debakel voel, sê hy: “Hy is beslis nie gelukkig nie. Daar is vir hom gelieg.

“Niemand by sy volle positiewe sal aan ’n maatskappy verkoop op wie se finansiële state jy nie kan staatmaak nie.”

Volgens Erfmann wil hulle met die eis in dieselfde posisie wees as voorheen. “Ons wil ons maatskappy terughê.”

Senior advokate het aan hulle gesê hulle het ’n goeie saak.

“Hy het sy finansiële state teruggetrek en vertel nou aan die wêreld daar is niks waarop staatgemaak kan word nie.

“Sy bates is wesenlik oordryf en sy aanspreeklikhede is onderskat. Dit kom neer op bedrog,” sê hy.

“As dit voor die tyd aan ons gesê is, hoef jy nie ’n genie te wees om te weet ons sou nie aan hulle verkoop het nie.”

Bernard Mostert, voormalige uitvoerende hoof van Tekkie Town, het hom ook by Steinhoff aangesluit en is sedert die notering van Star verlede jaar die uitvoerende hoof van dié maatskappy se afdeling vir skoene en spesialiteitsmodes.

Mostert wou nie op navrae reageer nie omdat hy sê Star is in ’n geslote tydperk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.