Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff verkoop alles buiten meubels in Australië
The headquarters of Steinhoff International Holdin
Die hoofkantoor van Steinhoff in Stellenbosch. Foto: Getty Images

Steinhoff sit sy plan voort om van sy ondernemings te verkoop om sy skuld te delg en het alles behalwe sy meubelhandelaars in Australië en Nieu-Seeland verkoop.

Die groep het aangekondig die algemenehandelsware-ondernemings van sy volfiliaal Greenlit Brands is aan die fondsbestuurder Allegro verkoop.

Ingesluit in die transaksie is Best & Less, Harris Scarfe en Debenhams Australia. Postie van Nieu-Seeland word ook verkoop.

Die kleinhandelaars het 322 winkels en meer as 6 100 personeel.

Die terme van die transaksie en koopsom bly vertroulik.

“Die verkoop van Greenlit Brands se algemene handelsware is ’n verdere stap in die beplande verkoop van bates soos ons aangekondig het toe ons die strategie bekend gemaak het om die groep se portefeulje van ondernemings te vereenvoudig en skuld te verminder,” het Louis du Preez, die uitvoerende hoof van die groep, gesê.

Die verkoop van die algemene handelsware sal Greenlit Brands help met sy strategie om op meubelhandel en -vervaardiging te herfokus.

Sy oorblywende ondernemings in Australië en Nieu-Seeland sluit in Fantastic Furniture, Freedom, Snooze, Plush, OMF en Futuresleep.

Ná die transaksie sal Greenlit bestaan uit 319 winkels en 3 800 personeel in die twee lande.

Michael Ford, uitvoerende hoof van Greenlit Brands, het gesê die verkoop van die algemene handelsware is ’n wesenlike deel van die strategie om die onderneming te help om op die handelsname te fokus wat van kernbelang is.

“In ’n mate verseker die transaksie dat ons terugkeer na ons wortels as ’n meubelhandelaar.”

In ’n mate verseker die transaksie dat ons terugkeer na ons wortels as ’n meubelhandelaar.

Na verwagting gaan die transaksie begin Desember afgehandel word.

Dit is twee jaar sedert die ineenstorting van Steinhoff begin Desember 2017 toe aangekondig is sy jaarresultate gaan nie uitgereik word nie omdat ’n forensiese ondersoek oor sy boeke gedoen moet word.

Greenlit Brands bly ’n volfiliaal van Steinhoff.

Allegro Funds is ’n fondsbestuurder wat in private ekwiteit betrokke is. Twee fondse word namens beleggers bestuur wat in ongenoteerde ondernemings belê wat omgekeer moet word en uiteindelik weer teen ’n opbrengs verkoop word.

Best & Less en Harris Scarfe en Postie was deel van die voormalige Suid-Afrikaanse groep Pepkor (moenie met die huidige genoteerde groep verwar word nie) voordat dié maatskappy in 2015 deur Steinhoff gekoop is.

Steinhoff het verlede week aangekondig sy Britse meubelwinkels word verkoop. Dit het ingesluit Bensons for Beds, Harveys Furniture, Relyon, Steinhoff UK Beds en Formation Furniture.

Ook die prys waarteen die ondernemings verkoop is, is nie aangekondig nie.

Steinhoff se aandeelprys is nou amptelik die laagste in twee jaar op 92c.

Die aandeelprys het van Augustus onder R1 begin val en boer nou van begin November af daar.

Sy aandeelprys was op Vrydag 1 Desember, voor die week van die aankondiging, op R55,81.

Sy aandeelprys het einde Maart 2016 ’n hoogtepunt van R96,85 bereik.

Sy oorblywende belange behalwe vir wat oorbly in Greenlit Brands, is 71% van Pepkor in Suid-Afrika, Pepco-groep in Europa, 50% van Conforama in Europa en 50% van Mattress Firm in Amerika.

Hy besit ook belange in die meubelhandelaars Lipo in Switserland; Abra in Pole en Sherwood Bedding in Amerika.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.