Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff verkoop Unitrans aan Toyota-groep

Die sukkelende Steinhoff-groep het aangekondig hy gaan die belang wat ’n filiaal in Unitrans Motor Holdings hou, vir 'n onbekende bedrag verkoop.

Die belang in Unitrans Motors word deur 'n filiaal van Steinhoff gehou. Die Unitrans Motors is die motorhandelaars en nie die vervoeronderneming met dieselfde naam wat deur KAP besit word nie. Foto: Verskaf

Die maatskappy het aangekondig ’n ooreenkoms is bereik om 74,9% van die aandele wat deur Steinhoff Africa gehou word te verkoop.

Die leningeise teen Unitrans wat deur Steinhoff Africa gehou word, gaan ook verkoop word.

Die aandele en leningeise word aan die filiaal van ’n Franse maatskappy CFAO verkoop, wat op sy beurt ’n volfiliaal van Toyota Tsusho Corporation verkoop wat op die Tokyo-aandelebeurs genoteer is. 

Ingevolge die potensiële transaksie het die partye ingestem om Steinhoff se oorblywende 25,1% in Unitrans op ’n later datum te verkoop as deel van ’n bemagtigingstransaksie.

Die aandele en leningeise word aan CFAO Holdings Suid-Afrika verkoop, wat ’n volfiliaal van CFAO is.

Unitrans Motor Holdings het 99 motorhandelaars in Suid-Afrika. In die afgelope boekjaar tot einde September het Unitrans Motor ’n inkomste van R23 miljard gehad.

Rede vir die transaksie

Steinhoff sê nadat die strategie van sy bedryfsmaatskappye bekyk is, is daar besluit om van niekernbates ontslae te raak, insluitende sy aandeelhouding in KAP Industrial en Unitrans. Steinhoff sê dié ondernemings pas nie regtig in by die res van sy kleinhandelsake nie. Die onderhandelinge om Unitrans te verkoop, het blykbaar al in 2018 begin.

Wie is Unitrans?

Unitrans Motor Holdings moenie verwar word met die Unitrans-maatskappye wat deur KAP besit word en wat logistieke en vervoerdienste verskaf nie.

Steinhoff het in Oktober 2011 aangekondig KAP International, wat tot vandeesweek ’n filiaal van Steinhoff was voordat sy aandele ook verkoop is, gaan Unitrans Holdings (wat die logistieke en vervoerdienste behels) by hom koop.

Dié transaksie is in aandele betaal en daarmee het Steinhoff deur Steinhoff Africa sy belang in KAP van 34% tot 88% verhoog. 

Voor dié transaksie het JD-groep wat altyd ’n meubelhandelaar was, Unitrans Motor Enterprises (wat as Unitrans Auto bekend gestaan het) van Steinhoff bekom.

Unitrans Auto was van 2000 af ’n belegging van Steinhoff en het in 1920 ontstaan.

In ’n aankondiging van Maart 2011 deur die JD-groep is gesê die koopsom is R3 miljard, gegrond op Unitrans Auto se gewaarborgde wins van R263,7 miljoen per jaar. Dit is betaal deur 60 miljoen JD-aandele aan Steinhoff uit te reik. Ná die transaksie het Steinhoff 26% van die JD-groep gehou.

Steinhoff het later vir JD oorgeneem.

Unitrans Motor het ’n wesenlike markaandeel onder die grootste motorverkopers in die land en verteenwoordig Toyota, GM (onderdele wat versprei word), Nissan, Renault, BMW, Mini, VW, Audi, Mercedes, Ford, Opel, Honda, Kia, Lexus en Haval. Sy vragmotorafdeling verteenwoordig Isuzu, Hino, MAN en Fuso. Die maatskappy bedryf ook op ’n eksklusiewe grondslag Hertz se huurmotorfranchise in Suid-Afrika, Botswana, Namibië en Zimbabwe. Die maatskappy bied deur Unitrans Insurance Beperk versekering aan kliënte.

Voorwaardes

Die belangrikste voorwaardes van die transaksie is deur die direksie van CFAO Automotive en die Toyota Tsusho-groep goedgekeur, asook deur die direksie van Steinhoff. Die implementering van die transaksie is onderhewig aan sekere voorwaardes, insluitende verdere onderhandeling oor die ooreenkoms op die bepalings en voorwaardes wat vir albei partye aanvaarbaar is. Ook goedkeuring, indien nodig, van die Steinhoff se Europese krediteure. Die toepaslike owerhede moet toestemming vir die transaksie gee.

Meer oor:  Steinhoff  |  Toyota  |  Transaksie  |  Verkoop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.