Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff vra wéér uitstel vir sakeredding

Steinhoff het sy krediteure die vierde keer in ses maande om uitstel vir die inwerkingstelling van sy sakereddingsplan gevra.

Die aansoek is Donderdag op die nippertjie, skaars ’n week voor die vorige spertyd van 30 Junie 2019, gebring.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff.

Die nuwe datum vir die inwerkingstelling word nou as 9 Augustus aangedui.

Die sakereddingsplan is op 14 Desember 2018 goedgekeur en toe is voorsien dat die plan teen 11 Januarie 2019 in werking sou tree en reeds op 29 Januarie voltooi sou wees.

Die sakereddingsplan – oftewel die company voluntary arrangement (CVA) ingevolge Britse insolvensiewetgewing – hou verband met die herstrukturering van Steinhoff Europa AG (SEAG) en Steinhoff Finance Holding GmbH (SFHG) se skuld.

SEAG en SFHG is die hooffinansieringsmaatskappye van die groep se Europese ondernemings. Die maatskappye is histories gebruik om finansiering te kry vir die Europese en Amerikaanse filiale en het groot skuldverpligtinge.

SEAG skuld nagenoeg €10 miljard aan sy nagenoeg 160 krediteure en SFHG €4,3 miljard aan byna 300 krediteure.

Steinhoff vra uitstel omdat SEAG intern herorganiseer word en vra ook dat die voorwaarde wegval wat verband hou met belastingklaring wat in die Australiese deelstaat Victoria verkry moet word.

Steinhoff sê wanneer daar aan alle ander voorwaardes voldoen is, sal die herstrukturering nagenoeg 20 werkdae later voltooi wees.

“Die doelwit van die maatskappy bly om die herstrukturering so gou as moontlik te voltooi, voor die nuwe voorgestelde finale datum vir die CVA.”

Krediteure moet teen 27 Junie oor die uitstel stem.

Steinhoff het dié week sy jaarverslag vir die 2018-boekjaar uitgereik. Daarin sê hy dit gaan deurslaggewend vir die oorlewing van die groep wees dat die herstrukturering sonder probleme voortgaan. Steinhoff voorsien dat hy van sy maatskappye gaan verkoop.

“As die groep as ’n lopende saak wil voortgaan, vereis die bestuursdireksie en bedryfsbestuur genoeg tyd om die groep te stabiliseer en waarde op bedryfsvlak te hervestig.”

Die jaarverslag sê as dit kan gebeur, kan die groep bates teen hul volle waarde te verkoop, eerder as teen ’n noodprys, ten einde skuld af te betaal of tot “beheerbare vlakke” te verminder.

Meer oor:  Steinhoff  |  Bedrog  |  Kleinhandel  |  Meubels  |  Meubelhandel  |  Kleinhandelaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.